2 Kronieke 15: 1-19

Aswoensdag dui die begin van die Lydenstyd aan. Die meeste van ons het nie grootgeword met Lent nie. Lent is egter een van die oudste Christelike praktyke. Die vroeë kerk het Lent gevier, selfs nog voor hulle Kersfees begin vier het. Aswoensdag lei die 40 dae voor Jesus se kruisiging in. Al die dae tussenin word getel behalwe die Sondae.

Die bedoeling van hierdie 40 dae van Lent is dat ons –

’n inventaris van ons lewens sal neem;

selfondersoek sal doen;

die dinge sal uitskakel wat ons aandag mag aflei van ’n intieme verhouding met die Here; en

moeite sal doen om die Here beter te leer ken.

Lent is ’n tyd van voorbereiding om geestelik te groei. Mag hierdie jaar se reis deur Lent vir jou ’n tyd van groei en verandering wees.

Die verhaal in 2 Kronieke 15 begin met ’n profeet met die naam Asarja, wat na die koning kom met ’n boodskap. Sy boodskap is eenvoudig en op die man af. Verse 1-7: Soek die Here en jy sal Hom vind. Hy daag Asa, die koning, uit om opsetlik te wees en die Here te soek, want dit is nie iets wat sommer vanself en sonder inspanning gaan gebeur nie.

In die Nuwe Testament word Jesus se volgelinge dissipels genoem. Die woord dissipel het dieselfde stam as die woord dissipline. Dissipline is altyd opsetlik, nooit toevallig nie. So ook om ’n dissipel van Jesus te wees. Jy moet gefokus wees.

Lent roep ons op om weer intensioneel te wees in ons soeke na die Here, want dit gaan nie toevallig gebeur nie.  Maar daar is meer. Asarja sê as jy Hom soek, sal Hy jou vind. Die profeet sê vir ons dat ons ’n God soek wat gevind wil word. Die Here het nie bedoel dat om sy kind te wees ’n onmoontlike, malle soektog na ’n mistieke God moet afgee, wat so goed wegkruip dat ons Hom nooit vind nie. Inteendeel. Ons doel gedurende Lent moet wees om opsetlik dié God op te soek wat passievol na ons soek.

Ds Janine Bevolo-Manders, Witfontein

Share via
Copy link
Powered by Social Snap