Inleiding
Karl Barth se verklaring van die brief aan die Romeine wat in Augustus van 1918 verskyn het, was die begin van ’n teologiese stroming wat later bekend sou staan as die Dialektiese Teologie. Die aard en wyse waarop Karl Barth teologie in hierdie wetenskaplike onderneming van ’n kommentaar op die Bybel aangebied het, was radikaal anders as wat in die destydse kerklike wêreld aanvaarbaar was, en daarom is dit vanuit ’n menigte oorde met hewige verset afgewys. Gelukkig was daar ook diegene wat die vars bries in die teologie verwelkom het en dit eintlik in verband gebring het met die gees wat nog altyd deur die reformatoriese teologie geadem is. Barth beskou sy kommentaar op die Romeinebrief as ’n werk wat met “ontdekkersvreugde” geskryf is, en hy het self die kragtige stem van die apostel Paulus opnuut gehoor. Daarin het Barth bevryding en vreugde gevind (Van Zyl 1993:1).
Ongelukkig het Barth se stem vandag in groot dele van die kerk stil geword. Daarom het dit vandag juis noodsaaklik geword om weer ernstig na Barth te luister.
Daar moet in gedagte gehou word dat die dialektiese teologie ’n reaksie was op die humanisme en die invloed daarvan op die teologie van die 18de en 19de eeue. Die humanisme is ’n denkrigting en wêreldbeskouing wat graag ’n etiek van menswaardigheid, vryheid en medemenslikheid wil beoefen. Die humanisme gaan van die veronderstelling af uit dat die mens in wese waarlik goed is en dat sy of haar foute deur opvoeding en teregwysing reggestel kan word. Al wat vir die mens nodig is, is ’n verligting van die verstand. Op grond van die mens se hoogs ontwikkelde rede, het geloof in God as ’n bomenslike Opperwese en enige vorm van religie eintlik oorbodig geword (Van Zyl 1993:1-2).
In reaksie hierop het Karl Barth weer erns gemaak met die bestudering van die Skrif. Die Skrif behoort die enigste maatstaf te wees van dit wat deur die kerk verkondig word. Barth is egter nie ’n fundamentalis nie, en sy teologie kan eerder beskryf word as kritiese teologie van die Woord. Vir Barth is die kern van die Woord van God, die Woord wat in Jesus Christus Mens geword het. Barth het die kerk geleer om weer van God af na die mens toe te dink en nie andersom nie, omdat kennis van God nie van die mens af na God toe kom nie, maar van God na die mens toe.
Barth se leer oor die “Nietige”
Barth handhaaf die dialektiek tussen God en mens ten sterkste deur aan te toon hoe radikaal God en die mens van mekaar verskil. Eerstens is God nie ’n wese wat in konflik met Homself is nie. Inteendeel, die eenheid en harmonie wat tussen Vader, Seun en Heilige Gees bestaan, getuig van God se volmaakte aard en wese.
Die mens, daarenteen, verkeer in konflik met God en ook in konflik met hom- of haarself. Dit stuur af op die selfvernietiging van die mens. Die feit dat die mens afvallig van God geword het en sterflik is, dui nie op enige onvolmaaktheid aan die kant van God as Skepper nie. God het immers iets selfstandig geskep en daargestel, en die geskape mens het sy ganse bestaan aan die genade van God as Skepper te danke. ’n Mens wat geskape is sonder die moontlikheid om afvallig te kan word, sou nie ’n outonome geskape wese gewees het nie.
Wanneer hierdie geskapene die “onmoontlike moontlikheid” uitoefen om God se teenstander te word en die teenstander van die betekenis van sy eie bestaan word, word die mens sondaar. Dit is egter die mens se skuld en nie God se skuld nie. Dit is die gevolg van die onbegryplike feit dat die mens die genade van God verwerp (Barth 1957a:503).
Dit is nie God se skuld dat die mens met boosheid gekonfronteer is nie. God is ook met boosheid gekonfronteer, maar vanweë sy Goddelike aard is dit uitgesluit. In die geval van die mens kon boosheid alleenlik uitgesluit word deur die Woord en die gebod van God. Dit kan nie teen God gehou word dat Hy die sondeval toegelaat het en dit nie voorkom het nie, dit is die mens wat geswig het voor die versoeking om soos God te wil wees. In God se ewige raadsplan kan daar nie sprake wees van enige onreg wat die mens aangedoen is nie. Barth verduidelik dit soos volg: God se besluit om die mens aan boosheid bloot te stel, was God se waagstuk en nie dié van die mens nie. Deurdat God die mens geskape het, het God Homself reeds kwesbaar gemaak. Vanuit die ewigheid het God nooit die mens laat val nie, maar die mens weer opgehef selfs nadat die mens voor die versoeking geswig het en die mens se eie aanspreeklikheid gelei het tot die sondeval.
Daarom, selfs al sou oor die mens gedink word in terme van sy negatiewe bestemming, moet daar terselfdertyd ook gedink word oor die mens as die een vir wie God van alle ewigheid af liefgehad het in sy Seun, die een aan wie Hy Homself in alle ewigheid gegee het in sy Seun, die een aan wie God in sy Seun Homself gegee het sodat Hy kan ly en verduur wat die mens eintlik moes gely het.
Gevolglik is twee sake vir Barth ononderhandelbaar: eerstens dat die mens self verantwoordelik is vir sy mislukking om te doen wat hy as geskapene van God en hoorder van God se Woord in die eerste plek moes doen. Maar ten tweede en selfs meer belangrik is Barth se aandrang op die verantwoordelikheid wat God op Homself geneem het toe Hy dit gewaag het om die mens te skep en die moontlikheid te skep dat die mens in die sonde kon val. Die mens kan nie sy eie verantwoordelikheid ontduik deur te beweer dat God te veel van hom verlang het nie, want wat God van Homself verlang het ter wille van die mens, was oneindig groter (Barth 1957b:165).
Wat is die “Nietige”?
Die vraag na wat die Nietige is, is ’n contradictio in terminis. Want die nietige kan per definisie nie wees nie. Slegs God as Skepper en die mens as God se geskapene is. Die Nietige kan daarom niks gemeen hê met God of met die mens as geskapene van God nie. Maar dit sal domastrant wees om tot die gevolgtrekking te kom dat die Nietige niks is of dat dit hoegenaamd nie bestaan nie. God bring dit in berekening. God is begaan daaroor. God onderneem aksie daarteen, weerstaan dit en oorkom dit. Indien God se openbaring en werklikheid dan geken kan word deur die teenwoordigheid en die handelinge van Jesus Christus, word God tog ook geken as die God wat deur die Nietige gekonfronteer word. Vir God stel die Nietige ’n probleem daar. God neem dit ernstig op. God hanteer die Nietige nie toevallig of terloops nie, maar in die volheid van sy Goddelike heerlikheid. God konfronteer die Nietige nie op indirekte wyse nie, maar in sy volle wese – Hy is in die volheid van sy wese daarby betrokke. Daarom, aan die hand van God se handeling met en betrokkenheid by die Nietige, moet ons van die veronderstelling uitgaan dat die Nietige bestaan.
Die Nietige word egter ook net aan die mens geopenbaar in terme van God se ingesteldheid daarteenoor. Daardeur word God se wil ook aan die mens bekend gemaak. God is heilig, en daarom neem Hy aggressief en ook defensief stelling in teen die Nietige. Die Nietige is dit waarvan God Homself onderskei, maar dit is ook dit waarvoor God Homself laat geld en waarteenoor God sy positiewe wil laat geld.
Die Nietige het geen bestaansreg nie, behalwe as die objek van God se heilige aktiwiteit. God het uitverkies, en deurdat Hy uitverkies het, het Hy ook verwerp. God het gewil, en derhalwe is daar ook dit wat Hy nie gewil het nie. God sê JA en daarom by implikasie NEE. God het ten doel om sy heilsplan uit te voer, en derhalwe verwerp Hy alles wat in stryd is met sy Goddelike doelwit.
Die aard van die Nietige is daarom inherent boos. God se positiewe wil kom tot uiting in sy skepping, sy uitverkiesing, sy onderhouding en beheer, en by uitstek in die verbond wat Hy met die mens sluit. Dit is God se genade: God se soewereine goedheid waardeur Hy dit so gewil het om in Jesus Christus na die mens toe af te daal, deur Homself met die mens te identifiseer, om solidêr met die mens te wees, om by die mens teenwoordig te wees as die mens se Waarborg, Helper en Koning.
Wat God nie wil nie, en derhalwe verwerp en negeer, is gevolglik die objek van sy jaloesie, sy toorn, sy oordeel – dit is die objek van wat sy genade weerstaan en weier en dit daarom sal ontbeer. Die wese wat vreemd aan en in opposisie met God se genade is, is die Nietige. Die negering van God se genade is chaos; die wêreld wat God nie gekies het nie en wat Hy nie gewil het nie. In die Christelike sin is dit boosheid: dit wat buite God se genade is. Die Nietige is in werklikheid ontbering, om God van sy eer en reg te beroof en om die mens van sy verlossing te beroof. Want dit is God se eer en reg om genadig te wees, en dit is presies wat die Nietige bedreig. Dit is ook die verlossing en die reg van die mens om genade te ontvang en daaruit te leef wat die Nietige versteur en verhinder. Waar hierdie ontbering plaasvind, word die Nietige aangetref. Dit is in wese vyandig teenoor God en ook teenoor die mens. God se genade is die basis en die norm waardeur alles wat geskape is bestaan, en daarom die bron van alles wat goed is. Volgens hierdie standaard gemeet, as dit wat God se genade negeer, is die Nietige intrinsiek boos. Dit is dit wat verdraai, maar dit is ook die verdraaiing self. Dit is die vyand van God en van die mens wat die eer van God uitdaag en die welstand van die mens bedreig. Vanuit die ewigheid beskou en vanuit die aardse beskou, is dit die onmoontlike en die ondraaglike.
Of die Nietige manifesteer as sonde, boosheid of dood, dit is en bly onverklaarbaar as ’n natuurlike proses of toestand. Daarom is die nietige in wese onverklaarbaar. Dit het geen norm of standaard nie (Barth 1960:353).
Die Nietige is ook die gevaar, aanvegting en bedreiging waaronder die mens moet leef. Daar sou nou geredeneer kon word dat die mens self nou die held moet word wat hieronder moet ly, dit moet beveg en dit uiteindelik moet oorwin, dat die konflik met die Nietige uiteindelik afhang van die mens se beslissing, die mens se waagmoed, die mens se sukses. Maar so ’n beskouing sou inderdaad katastrofaal wees. Om die waarheid te sê, die mens is in die stryd teen die Nietige reeds totaal magteloos en enige menslike pogings om daarteen weerstand te bied, is futiel. Dit is immers wat deur die sondevalverhaal van Genesis 3 uitgedruk word. Hier probeer die mens die konflik met die Nietige op homself neem en hy probeer dit oorwin. Die mens wil die held wees wat weerstand bied en uiteindelik oorwin. Die mens wil soos God wees. En aangesien hierdie keuse ’n besluit teen God se genade in is, is dit ’n keuse vir die bose. Want die enigste goed waartoe die mens in staat is, is die vrye genade van God –die genade van God waardeur God die konflik met die Nietige sy eie maak en Homself aan die aanval daarvan blootstel. God ken die Nietige as dit wat Hy nie gewil het nie. Hy ken chaos en die verskrikking daarvan. Hy ken ook die voorsprong wat dit bo die mens het. Hy weet van die onafwendbare gevaar wat dit vir die mens inhou. Maar God is Heer en Meester oor dit wat die mens bedreig. Teen God kan die Nietige nie standhou nie. God bewys getrouheid aan die mens wat bedreig word. Deurdat God die mens geskep het, het God Homself reeds verbondsmatig aan die mens verbind. God bly aan sy verbond getrou, en daarom neem Hy die las en moeite van die konflik met die Nietige op Homself. God sal Homself eerder verneder en laat verwond deur die aanvegtinge van die Nietige as om die mens alleen aan sy eie lot oor te laat. God ontplooi al sy Goddelike majesteit in die daad van sy diepste neerdaling. God gryp in in die stryd tussen die mens en die Nietige asof God self nie God is nie; Hy verplaas Homself in die mens as die swakke, brose en verwondbare. In die beslissende daad in die heilsgeskiedenis (dit is die geskiedenis van God en sy verbond met sy uitverkore mense) word God in Jesus Christus die mens, en Hy maak die konflik wat die mens met die Nietige hetsy eie in die mees konkrete werklikheid, want God neem die plek van die mens in.
God doen dit vanuit sy vrye genade. Sodoende word God die enigste Helper wat die plek van die mens kan inneem en die nood van die mens op Homself kan neem en as plaasvervanger in die plek van die mens kan ly. In die lig van hierdie genadige daad van God, word die arrogante waansin van die mens dat hy gekwalifiseer is om homself te help en te red en homself te handhaaf te midde van die oneindige gevaar, as boos, dwaas en onnodig uitgewys. In die lig van hierdie genadige daad van God kan slegs God self, vertroue in God en volharding in die verbondsverhouding met God as goed beskou word. Dit stel die mens voor slegs een goeie keuse, naamlik dat God gunstig ten opsigte van die mens ingestel is en gevolglik in opposisie teenoor die Nietige ingestel is – die Nietige wat God met gemak in sy almag aan sy heerskappy kan onderwerp. Dit is die enigste rol wat die mens te speel het in die konflik met die Nietige: Die mens moet God daarmee vertrou en God se hulp daarin aanvaar. Dit maak van die mens meer as net ’n blote toeskouer van hierdie konflik. Die rol van die mens is om sy eie onmag te erken en in God se genade te vertrou. God verdedig immers sy eer deur, eg aan sy barmhartige en genadige aard, verlossing aan die mens te skenk. Die mens behoort immers nie aan homself nie, maar aan God, en dit maak van die mens die objek van God se besorgdheid. Ingrype van God alleen was nodig, en God word alleenlik daartoe gebring deur die almag van sy genade. God bemagtig die mens juis deurdat Hy namens die mens die optrede teen die Nietige onderneem. Die mens word hoegenaamd nie bemagtig deur sy arrrogante aandrang op sy eie gesag en bevoegdheid nie (Barth 1960:357-359).
Dit bring ons by die finale vraag: So wat is die Nietige dan? Barth antwoord dit soos volg: Binne die kennis en die belydenis van die Christelike geloof wat terugkyk op die opstanding van Jesus Christus en vorentoe kyk na die Parousia (wederkoms), is daar net een antwoord. Die Nietige is die vergange, oeroue bedreiging, gevaar en vernietiging, die oeroue non-wese wat die skepping van God ontsier het, maar wat tot die verlede beperk is in Jesus Christus in wie se dood dit finaal vernietig is deur die positiewe wil van God. Jesus Christus tree as Oorwinnaar uit die stryd en die Nietige is finaal uitgewis. Dit is wat vir eens en vir altyd met die Nietige gebeur het in Jesus Christus. Dit is die hoogste openbaring van God hoedat Hy die konflik met die Nietige sy eie gemaak het en deurgevoer het in sy Seun Jesus Christus. Die Nietige hoef nie meer gevrees te word nie. Die Nietige kan nie meer negeer nie, maar is deur God genegeer.
Dit is die belydenis van die Christelike geloof dat deur die ingrype van God die gevaar en die bedreiging wat die Nietige vir die mens ingehou het, nou sonder enige krag en invloed is. Die Nietige het geen verdere reg of mag oor die mens nie en die wêreld soos deur God geskape is nie meer daaraan onderworpe nie. Dit is daarom verkeerd van die Christen-gelowige om steeds ontsag vir die Nietige te hê of om die res van die wêreld aan te moedig om ontsag daarvoor te hê asof dit nog enige mag oor die mens kan uitoefen soos voor die ingrype van God. Dit is nie legitiem om oor verlossing van die Nietige te dink as iets wat eers in die toekoms voltrek gaan word nie. Dit is problematies dat gelowiges wel so daaroor dink met angstige, wettiese, tragiese, huiwerige en pessimistiese gedagtes. Dit is nie houdbaar vanuit die Christelike geloofsbelydenis nie. Die enigste vryheid wat ons in die Christelike geloof het, is om die Nietige te beskou as finaal vernietig en om ’n nuwe begin te maak, gedagtig aan Jesus Christus as die vernietiger daarvan. So kan die evangelie aan die wêreld verkondig word soos dit regtig is: die boodskap van hoop en bevryding van die angs, wettisisme en pessimisme, van die Een wat reeds as Bevryder opgetree het.
As ons dan bely dat Jesus Christus die Oorwinnaar is, moet die laaste woord tog altyd die eerste wees, naamlik dat die Nietige van geen ewigdurende beduidenis is nie (Barth 1960:363).
Slotopmerkings
Na my mening moet Barth se leer oor die Nietige allereers kontekstueel verstaan word. Barth het onderneem om teen die skeefgetrekte verheerliking van die menslike rede standpunt in te neem en terug te keer na die Bybels-reformatoriese beginsel dat die mens alleenlik deur die genade van God gered word. Dit geskied ook uitsluitlik op God se inisiatief en op grond van God se soewereine genade wat kies om die mens van die sonde te bevry.
Oppervlakkig beskou, sou ’n mens moontlik die argument kon voer dat die mens op grond van Barth se leer oor die Nietige nou geen morele verantwoordelikheid meer het nie, aangesien die mens tog in elk geval geen bydrae tot sy of haar verlossing gemaak het nie, en boonop omdat die sonde, boosheid en alle manifestasies daarvan deur die dood en opstanding van Jesus Christus nietig verklaar is en daarom geen mag meer uitoefen nie. Moedswillige lesers sou hierin ’n skuiwergat wou vind om die mens dan nou van alle verantwoordelikheid te onthef, want die oorwinning is immers reeds behaal. Dit is na my mening nie regverdig teenoor Barth nie. Na my mening staan Barth in kontinuum met Luther wat aangevoer het dat die mens se grootse bevryding die bevryding van sy of haar eiegeregtigheid is. Solank as wat die mens nog onder die wanindruk verkeer dat hy of sy self ’n bydrae tot sy of haar saligheid kan lewer, is die verlossingswerk van Jesus Christus vir so ’n mens eintlik oorbodig. ’n Suiwering van die oorwaardering van die moontlikhede van die self is dus nodig, wat noodwendig ook ’n erkenning van die onmag van die mens insluit. Dit is die ware verootmoediging wat tot die skuldbelydenis lei wat die mens as naakte sondaar voor God daarstel, bedelend en smekend vir God se genade, wat God dan reeds ryklik deur Jesus Christus bemiddel het. Na my mening, hetsy op ’n psigologiese of ’n geestelike vlak, indien die mens erns maak met die belydenis van menslike onmag voor God, en die mens werklik afstand doen van die gedagte dat enige vorm van eiegeregtigheid vir God aanneemlik is, kan dit tog nie morele onverskilligheid tot gevolg hê nie. Die Heidelbergse Kategismus Sondag 24 vraag en antwoord 64 bly na my oordeel die klassieke geloofswaarheid in hierdie verband. Die leerstelling dat die mens deur die genade van God alleen gered word, maak juis nie van gelowiges sorgelose en goddelose mense nie, want: “dit is onmoontlik dat iemand wat in Christus deur ’n ware geloof ingeplant is, geen vrugte van dankbaarheid sou voortbring nie”. Dit is uiteindelik ook hoe ek Barth verstaan. Dit is ’n onmoontlikheid om die genade van God deur die verlossingswerk van Jesus Christus te leer ken en nie daardeur tot ’n lewe van diepe dankbaarheid in die teenwoordigheid van God beweeg te word nie. Ek is van mening dat die gekibbel oor etiese sake, waaroor die kerk so dikwels gedwing word om uitsprake te maak, getemper sal word wanneer groter erns met sondeleer en verlossingsleer as sodanig gemaak word. Indien die kerk ’n slag weer die indikatief van God se werk in Jesus Christus se verlossingsdaad aan die kruis beklemtoon, sal die imperatief ’n spontane gevolg wees.
Literatuurverwysings
- Barth, K., 1957a, Church Dogmatics Volume II: The Doctrine of God. First Half Volume. Vertaal deur G.W. Bromiley en T.F. Torrance. T&T Clarke, Edinburgh.
- Barth, K., 1957b, Church Dogmatics Volume II: The Doctrine of God. Second Half Volume. Vertaal deur G.W. Bromiley en T.F. Torrance. T&T Clarke,
- Barth, K., 1960, Church Dogmatics, Volume III: The Doctrine of Creation. Part III. Vertaal deur G.W. Bromiley en T.F. Torrance. T&T Clarke, Edinburgh.
- Gollwitzer, H.,1961, Karl Barth: Kirchliche Dogmatik Auswahl und Einleitung von Helmut Gollwitzer. Fischer Bücherei, Frankfurt am Main, Hamburg.
- Van Zyl, F.J., 1993, Die Mens as Sondaar: Karl Barth se Beskouing. Kital, Pretoria.