Dit gaan goed met die mens wat … in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. (Psalm 1: 1, 2, 3, AFR1983)
Lees Psalm 1
Die Psalmdigter begin deur die mens te vergelyk met ’n boom. Ons kry ook in Jeremia 17: 7-8 dieselfde vergelyking. Trouens, op talle plekke in die Nuwe Testement word die gelowige se geloofslewe en verhouding met sy of haar Skepper met elemente vanuit die natuur beskryf. Dink maar aan die gelykenisse van die saaier (Matt 13: 1-23), die koring en die kaf (Matt 13: 24-30, 36-43), die mosterdsaad (Matt 13: 31-32), en die woorde van Jesus in Lukas 6: 44: Elke boom word aan sy eie vrugte geken. Van doringstruike pluk ’n mens mos nie vye nie, en van ’n doringbos oes jy ook nie druiwe nie.
Elkeen van ons sou talle voorbeelde kon opnoem. Die beeld wat die Psalmdigter gebruik, is egter ’n besondere beeld wat soveel meer sê as wat ons soms besef. Hy begin deur die mens wat in die woord van die Here sy vreugde vind en dit nag en dag oordink, te vergelyk met ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie.
Die eerste prentjie wat in ons gedagtes opkom, is die bome wat ons in die natuur ken wat langs waterstrome of riviere staan. Dit is bome wat nie noodwendig daar aangeplant is nie, maar wat self daar opgekom en begin groei het. Dit is bome met karakter, bome wat al talle natuurelemente moes trotseer. Al hierdie elemente het ’n invloed op die boom, hoe hy lyk, en hoe hy groei. Deur al die elemente deur kry die boom letsels wat tekens is van die verskillende oomblikke waardeur hy gegroei het en waarin hy staande moes bly.
Jeremia beskryf dit soos volg: Maar gelukkig is dié mense wat op die Here vertrou en hulle verwagting in Hom stel. Hulle is soos bome wat langs ’n rivier staan. Hulle wortels reik diep tot by die water. Hitte bedreig hulle nie, en hulle blare bly groen. … Hulle hou nie op om vrugte te dra nie (Jer 17: 7-8, NLV).
Die mens is soos daardie bome wat deur die elemente gevorm is en letsels opgedoen het oor tyd, deur seisoene heen. Merke en letsels wat dalk nie sigbaar is vir almal nie, maar waarvan jy weet. Dis die dinge wat oor tyd in jou lewe gebeur het. God kom deur sy woord en gee aan ons die versekering dat wanneer ons naby aan sy woord leef en dit elke dag deurdink, ons deur al hierdie elemente staande sal bly. God se woord is soos die stroom water wat elke boom nodig het om van te leef. Sy woord is soos die lewensaar wat elkeen van ons as sy kinders staande hou. Soos die boom se blare groen bly, wil die Psalmdigter ons waarborg dat ons blare ook groen sal bly en ons op die regte tyd vrugte sal dra.
Van watter vrugte praat die Psalmdigter?
Onwillekeurig dink ons aan Galasiërs 5: 22-23, waar Paulus praat van die vrug van die Gees, die vrug wat ons dra deur die werking van die Heilige Gees. Die oomblik wanneer ek en jy naby aan God se woord bly, kan ons nie anders nie as om daardie vrug te dra. Dan kom dit vanself, as tweede natuur. Dit is die vrug van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
Die vrug van die Gees bring my by dit wat op Pinksterdag gebeur het met die uitstorting van die Heilige Gees. Ons lees in Handelinge 2: 14 hoe Petrus opgestaan het en onder leiding van die Heilige Gees die mense toegespreek het. Sonder vrees of skaamte het hy begin om die omstanders te vertel van Jesus Christus, die gekruisigde en lewende Here.
Dit is waarvan die Psalmdigter ons wil verseker. Die oomblik wanneer jy naby aan God se woord leef, en dit nag en dag oordink, sal die Heilige Gees jou lei om op die regte tyd vrugte te dra en met sekerheid, vaste geloof en oortuiging die evangelie van Jesus Christus te verkondig deur woord en daad.
Mag God se woord jou dra deur die seisoen waarin jy jou tans bevind. Mag sy woord jou lewensaar wees, en mag jy die vrug beleef wat die Heilige Gees in jou sal laat groei.