Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Die gedeelte wat ons saamgelees is, is ‘n gedeelte uit wat ons die wysheidsliteratuur in die Bybel noem (ander boeke is Psalms, Hooglied).

Die doel van hierdie soort literatuur in veral die Ou Testament was dat dit die gelowiges wou leer hoe om te lewe, reg te lewe.  Reg te lewe te lewe voor God, en teenoor mekaar (vers 4).  Dat ons op God sal vertrou en nie op mense staat sal maak nie (vers 5).  Dat ons wysheid sal hê, nie wysheid of geleerdheid wat uit boek kom nie, maar wysheid hoe om reg te lewe.  Of anders gesê: die kuns sal aanleer hoe om met vreugde en vrede te kan lewe (en watter tekort is daar juis nie van hierdie twee sake in so baie mense se lewens vandag nie!).

Wat, N en N, is die wysheid wat hier van gepraat word?  Die gedeelte antwoord dit self: dit is dit wat die bron van lewe genoem kan word (vers 18); dit is die fondament van alles in die lewe (vers 19).  Of, in kort: dit is die liefde (vers 3).

Om regtig lief te kan hê, en lief te hê, is wys, sê die Here, want dan sal ons reg lewe.  Teenoor God, teenoor almal rondom ons, en natuurlik, N en N, teenoor mekaar.

Wat is hierdie liefde waarvan Spreuke hier praat?  Vir ons is dit ‘n baie moeilike vraag om te antwoord.  Want wat is die liefde?  Is dit ‘n gevoel?  Is dit die ding, die iets, wat ons tot mekaar aangetrokke laat voel?  Is dit die iets wat maak dat mense na mekaar verlang?  Of is dit die iets wat maak dat mense graag bymekaar wil wees?  Hoe sal ons dit in een sin saamvat?  Ek is seker, N en N, dat as ons almal vanmiddag hier hierdie vraag sou vra, ons soveel antwoorde sal kry as mense wat hier is!

Die Woord van God, antwoord op die vraag wat liefde is, egter baie duidelik, reguit, sonder om doekies om te draai, sonder dat daar by ons enige twyfel bestaan wat met die woord liefde bedoel word, met hierdie woord wat die kuns van die regte lewe is.  En kom ek gee julle die Bybel se antwoord op hierdie vraag:

Ek wil van vier voorbeelde gebruik maak:

  • Johannes 3:16
  • Johannes 13
  • 1 Johannes 4:10
  • Of, soos 1 Johannes 3:18 dit alles saamvat: ons liefde moet nie net woorde en lippetaal wees nie, maar met die daad bewys word, en dan in opregtheid.

Dus: volgens die Woord van God is liefde:

  • altyd ‘n daad (iets wat jy doen)
  • ‘n daad wat gerig is op die een langs my of by my se voordeel.

Of, gesê in die idioom van Spreuke, in terme van die huwelik: jy is wys, as jy weet wat die kuns is hoe om reg te lewe, en hierdie kuns is die liefde, die liefde wat altyd dade is wat gerig is op my maat.

Wat, N en N, sê die Woord, is die gevolg van ‘n huwelik wat met hierdie wysheid, met die liefde, geleef word?

Dit bring voorspoed, ‘n vreemde soort voorspoed; ‘n soort voorspoed wat die wêreld nie kan verstaan nie.  Dit bring meer winste as silwer, dit bring ‘n groter opbrengs as goud, dit het meer waarde as edelstene, dit bring ‘n lang lewe.  Ja, niks kan daarmee vergelyk word nie.  Want dit is die bron van ware lewe.  Dit lei tot vreugde en vrede.

Verder, en dit is baie, baie belangrik: dit is vrede en vreugde, dit is geluk, dit is ware lewe, wat nie aan omstandighede gekoppel kan word nie.  Omstandighede laat dit nie roes nie.  Negatiewe en moeilike omstandighede laat dit nie verdwyn nie.  Dit is nie gebonde aan enige iets in hierdie lewe nie.  Niemand kan dit van ons af wegneem nie.  Hoekom nie?

Want die bron van hierdie liefde, lê in God wat ons eerste in Jesus Christus liefgehad het.  En God se liefde, kan nie deur omstandighede verander word nie.  Christus het as die Liefde van God in hierdie wêreld ingekom, en almal wie deur sy liefde aangeraak is, se lewens het verander.  Al was hulle omstandighede ook wat.

God se liefde vir ons in Christus is ‘n liefde wat sê dat God van ons weet.  Dat Hy van ons omstandighede weet.  Ook daardie omstandighede in die huwelik wat soms swaar is.  Dit is ‘n liefde wat ons nooit in ons ellende alleen sal laat nie.  Dit is ‘n liefde wat ons gemoedsrus gee, wat ons hervorm.  Dit is ‘n liefde wat omgee, versorg, troos, en ons geborge laat voel.

Juis daarom, N en N, kan ons nie vanmiddag sê dat as God ons die opdrag gee om mekaar te gaan liefhê, ons nie weet wat dit beteken nie.  Dit beteken eenvoudig om te doen.  Te gee.  Jouself te gee, in alle omstandighede.  Tot die ander een se voordeel.

God het julle lief, daarom wil hy elke dag die volle lewe aan julle gee.  Maar dan moet julle dit ook aanmekaar gee.  Soos God dit in Christus vir julle gegee het.  Deur vir julle te doen.  Tot julle voordeel.

N en N: gaan leef teenoor mekaar die liefde in dade.  Gaan doen elke dag tot mekaar se voordeel.  Dan sal julle in die oë van God wys wees.  Dan sal julle ‘n vol lewe hê.  Dan sal dit met julle goed gaan, so goed, dat geen omstandighede julle vreugde in mekaar sal kan wegneem nie.

As julle so lewe, dan sal dit met julle goed gaan.  Want dan sal julle die ware sin van die lewe in mekaar vind, en nie in dit wat julle besit of vermag nie.  Dan sal daar in julle ‘n onbeskryflike vreugde teenwoordig wees, dieselfde vreugde wat Gods ervaar het, toe Hy sy Seun vir ons almal gegee het.  Dan sal dit met julle goed gaan, en dan sal die Here julle huwelik seën. 
Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap