Die ontdekking van ’n kleistempel met die naam “Jesaja” daarop, het groot opgewondenheid in argeologiese en Bybelwetenskaplike kringe veroorsaak – veral onder diegene wat gemoeid is met Hebreeus en die Ou Testament. Dié stempel is boonop in ou Jerusalem gekry, slegs drie meter van die plek af waar ’n ander stempel gekry is waarop die naam van koning Hiskia geskryf is.
Die stempel is ongelukkig aan die bokant afgebreek en onder aan die linkerkant effe beskadig. Die skrif kan nogtans redelik duidelik gelees word.
Die letters op die stempel vertoon Oudhebreeuse karakters en spel die naam Jesjajahu. Direk ná die naam volg dan drie letters wat in Hebreeus bekend is as die nun-bet-jod (NBJ). Jesjajahu is die Hebreeuse vorm vir die naam Jesaja. Die woord wat daarna volg se laaste letter is ongelukkig te onduidelik om te lees, maar blyk die Hebreeuse ʾalef te wees. As die laaste letter inderdaad ’n ʾalef is, en volgens kundiges blyk dit wél die geval te wees, blyk die Hebreeuse woord navi te wees, wat profeet beteken.
As hierdie waarneming korrek is, lees die inskripsie op die kleistempel Jesaja, profeet. In Hebreeus word die titel, of hoedanigheid van ’n persoon, normaalweg ná die persoon se naam geskryf, wat beteken dat die skrif op die stempel dus profeet Jesaja lees.
Jesaja was die profeet wat gedurende die tyd van koning Hiskia in die Ryk van Juda opgetree het. Die profeet Jesaja en koning Hiskia was tydgenote van mekaar en het mekaar ook goed geken.
Die feit dat die stempel met die bewoording profeet Jesaja skaars drie meter van die plek ontdek is waar ’n ander stempel gekry is met die naam koning Hiskia daarop, is besonder betekenisvol. Die eerste reaksie is dat dié twee stempels as ’n bevestiging dien dat die profeet Jesaja en koning Hiskia histories werklik geleef het.
So dien die ontdekking van die twee stempels ook konkreet dat die Bybelse vertellings van die profeet Jesaja en die verhale oor koning Hiskia meriete het om te volg, want hulle het werklik geleef.
Gedurende die antieke tyd is stempels gewoonlik gebruik as ’n vorm van handtekening om sodoende sekere goedere vir iemand se eienaarskap te merk, óf om iemand se jurisdiksie te bevestig, óf om ’n ooreenkoms te beseël. In baie gevalle is die persoon se naam gewoonlik ook gevolg met die naam van die pa van die persoon, óf sy afkoms, óf sy beroep.
In die Semitiese kultuur het die etniese of geografiese herkoms van ’n persoon as ’n belangrike kwalifisering van iemand se identiteit gedien. In hierdie geval word Jesjajahu, oftewel Jesaja, as ’n profeet gekwalifiseer.
Nie alle kundiges is daarvan oortuig dat die woord Jesjajahu, gevolg deur die letters nun-bet-jod (NBJ), spesifiek na die profeet Jesaja verwys nie. Van die argumente lui dat die bewoording moontlik as Jesaja, seun van Nebai verstaan moet word. Die naam Nebai kom in ’n naamlys in die boek Nehemia voor as een van die leiers en hoofde van die volk wat hulle verbind het met die hernuwing van die verbond (Neh 10: 19). In hierdie geval staan die naam slegs twee verse verder geskryf van waar die naam Hiskia ook in Nehemia 10: 17 genoem word.
Die probleem met hierdie verbintenis van Hiskia in Nehemia 10: 17 en Nebai in Nehemia 10: 19 is dat die Hiskia in die lys as een van die leiers van die volk bestempel is en nie koning Hiskia van twee eeue tevore is nie. Verder, indien die bewoording sou neerkom op Jesaja, die seun van Nebai, sou die woord ben (“seun van”) ook in die inskripsie voorgekom het, wat nie gebeur nie.
Die datering van die stempel is ook uit die agtste eeu voor Christus, wat ooreenstem met die leeftydtyd van koning Hiskia en die optrede van Jesaja, wat volgens die Bybel die bekende profeet gedurende die tyd van koning Hiskia was.
Volgens dr Eilat Mazar, wat die projekbestuurder was toe die stempel van Jesaja ontdek is, dui die bewoording onteenseglik op ’n verwysing na “Jesaja” wat die profeet in die tyd van koning Hiskia was.
Die profeet Jesaja
Volgens die inleidingsvers van die boek Jesaja was Jesaja die seun van Amos. Hy het in Juda, waarvan Jerusalem die hoofstad was, gedurende die regeringstyd van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, wat as konings oor Juda regeer het, as profeet opgetree (Jes 1: 1). As hierdie inligting korrek is, het Jesaja sy profetiese loopbaan dus aan die einde van koning Ussia begin, dit wil sê, rondom ongeveer 743 vC, en het hy vir minstens 46 jaar as profeet gedien.
Volgens die Bybel was dit ’n tydperk wat gekenmerk is deur internasionale spanning en interne woelinge in Juda. Politieke onrus was aan die orde van die dag, terwyl omkopery en onbetroubare (skynheilige) optredes ernstige bedreigings ingehou het vir die sosiale gemeenskap en godsdiens van Juda en in Jerusalem. Hierdie verval het selfs so ver gegaan dat sommige van die konings van Juda heidense godsdiensgebruike en die akkommodering van ander volkere se afgode in hul geledere toegelaat het.
Oor koning Agas word byvoorbeeld vertel dat hy 20 jaar oud was toe hy koning geword het en vir 16 jaar lank in Jerusalem regeer het. Hy het egter gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here deur gegote beelde van die Baäls te maak, en kinderoffers in die Ben-Hinnomdal te bring (2 Kron 28: 1-3). Die profeet Jesaja het na die konings van Juda selfs verwys as diktators van Sodom vanweë hul dwalinge (Jes 1: 10).
Ander dinge wat die konings van Juda verkeerd gedoen het, was om agter afgodery aan te loop, word in 2 Konings 16: 5-8 en Jesaja 7: 1-12 vertel.
Argeoloë het honderde terracottabeeldjies dwarsoor Jerusalem en Juda gevind wat deur mense gebruik is om as afgode te dien. Hierdie beeldjies is oorwegend in privaathuise gevind en het uit kaal vroulike figuurtjies bestaan. Dié kaalborsbeeldjies het vermoedelik verband gehou met die vrugbaarheidsgodin Asjera.
Gedurende die tyd toe Hiskia ernstig siek was en die Here sy gebed verhoor het sodat hy 15 jaar langer geleef het, was Jesaja die profeet wat die boodskappe aan die koning oorgedra het (2 Kon 20: 1-11; Jes 38: 1-8; 2 Kron 32: 24).
Ander deugde van die profeet Jesaja was dat hy ’n gerekende skrywer was. Hy het van houtpalette gebruik gemaak wat met ’n lagie was gesmeer was en waarop geskryf kon word. Dié skryfmateriaal is later uitgebrei na die gebruik van papirus en perkamente, oftewel dierevelle (Jes 30: 8).
Die versoeking om die kleistempel met Jesaja se naam daarop as ’n stempel van die Bybelse profeet te aanvaar, is seker groot, maar gegewe hoe maklik navorsingsbevindinge kan verander, moet dalk nog eers met groot versigtigheid aanvaar word dat daar nog nie onweerlegbaar bevind kan word dat dié stempel aan die Bybelse profeet Jesaja behoort het nie. Nog veel meer navorsing sal daarop gedoen moet word alvorens ons oor klinkklare bewyse sou kon beskik.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)