Hervormers is Stoepsitters. Waar kom dié bynaam of spotnaam vandaan? Die benaming Stoepsitters vir die lidmate van die Nederduitsch Hervormde Kerk het volgens prof AD Pont in Wes-Transvaal ontstaan. Dit dagteken uit die 1920’s, toe die Hervormde Kerk nie genoeg predikante gehad het nie en van die Wes-Transvaalse gemeentes daarom nie Sondae eredienste gehou het nie. Die lidmate wou egter nie saam met die Doppers of Gatjieponders kerk hou nie en het tuisgebly – op hul stoepe gesit as die ánder op pad kerk toe was. Vandaar die naam Stoepsitters…

Maar dis steeds volksoorvertelling en daar is geen feite om te staaf dat dit inderdaad so was nie. Daar is ook ander verklarings vir die tydperk na die mislukte kerkvereniging van 1885 en voor die Anglo-Boereoorlog.

Stoepsitters laat my toe dink aan dit waarop gesit word. Die ou Al Debbo-liedjie lui: Daar’s ’n hele spul brakke in Turffontein. Daar’s ’n hele spul brakke van groot tot klein. Daar’s rooies en daar’s bontes en alles wat ’n hond is! Net so is daar ’n groot verskeidenheid stoele en sitgoed in ons Museum. Ons beskik oor heelwat interessante inligting daaroor, maar hier en daar het van die sitgoed se stories verlore geraak. Herken jy dit dalk, liewe leser? Help ons asseblief met bykomende inligting oor enige voorwerp. Beter nog – kom besoek ons Museum en kom kyk en vertel self.

Kom saam op ’n visuele kykie na ons sitgeskiedenis!

  1. Voortrekker-kakebeenwakis met volkskuns (gekleurde plantmotiewe) beskilder. Handvatsels is nie aan die kante nie. Sit-en-bêre-kis het knap ingeskuif op die wa, sodat handvatsels voor en agter moes wees. Op ’n vel papier vasgeplak binne-in die kisdeksel word verklaar dat hierdie die voorkis was op die wa by die Slag van Bloedrivier, 16 Desember 1838, met klippe van die slagveld steeds daarin. Die kis het behoort aan: Carel Hendrik Buitendag (b3c7d3) * 27.06.1817 Kaapkolonie † 21.04.1877 distrik Potchefstroom x Colesberg 24.12.1837 Maria Magdalena Jacoba Van Niekerk.
  2. Ds Nicolaas van Warmelo se stoel. Ds Van Warmelo was die vierde predikant van die NHKA in Transvaal; Johanna Brandt se vader. Bedieningstyd sedert 1864 en oorlede 1892. ’n Pioniersriempiestoel waar lang rieme geknoop is sonder krammetjies of spykers. Moontlik uit sy tyd in Schoemansdal, dus voor 1867 se ontruiming van die dorp. Die riempies is gedurende September 1996 vakkundig deur mnr BJGW du Plessis herstel.
  3. Dorslandtrekkerstoel – ’n hoek-riempiestoel van boeken-hout (nie gerestoureer nie, tans gemat met tou), wat behoort het aan en moontlik ook met ’n knipmes gemaak is deur kommandant Koos Botha (gebore 1839, oorlede 1915 te Angola), een van die 1870 Dorslandtrekker-leiers.
  4. 1904-kerkbank van die Du Toitstraat-kerkgebou, Gemeente Pretoria. Dit het in 2018 ’n staanplekkie in die Museum gekry toe die res van die banke in Montana-Oos se kerkgebou geïnstalleer is. Die eikehout is ingevoer van Nederland.
  5. Stoel langs die orrel in Du Toitstraat-kerkgebou tot 2018. Dalk ’n kanselstoel van iewers?
  6. Opvoubaar, met rieme.
  7. Stoel van ds Marié Goddefroy, wat sedert 1887 gehelp het met die heropbou van die Hervormde Kerk na die mislukte kerkvereniging. Predikant in Nederland 1877-1887 en in Transvaal 1887-1917, oorlede 1920. Pragtige stoel oorgetrek met leer, fyn houtwerk en wieletjies. Die sitgedeelte het hard gewerk! Eikehout; was ZAR-staatsdiensstoel.
  8. Hoekstoel van eikehout.
  9. Ds Jac van Belkum se stoel. ’n Fraaie, lae sitstoel, gestoffeer, met geblomde bekleedsel. Ds Jac is gebore 1851, oorlede 1933.
  10. Ds Louis Brandt (bedieningstyd in NHKA 1904 tot sy afsterwe in 1939) se leeu-hoekstoel. Die leeus is moontlik ’n sinspeling op sy naam, met die s-klank hardop uit-gespreek. Maar daar is ook ’n mening dat dit aan ds Goddefroy kon behoort het.
  11. Miniatuur riempiesbankie (armleunings ontbreek) as dankbaarheidsgeskenk saam met ’n mini-tafeltjie vanuit die Irene-konsentrasiekamp aan Johanna van Warmelo (later mev ds Louis Brandt) vir haar barmhartigheidswerk in die kamp. Johanna se kinders het dit byna “opgespeel”. Die riempies is met garing gemaak. Twee stoele wat ook deel van die stel was, het tot niet gegaan deur die Brandt-kinders se spel. Dennehout. 1901.
  12. 1905-kerkbank wat oorspronklik in die NH of Gereformeerde (dit was die amptelike naam van die Verenigde Kerk 1885-1962) kerkie Eloffsdal was, wat vandag ons Museumgebou is. Dalk het Jopie Fourie nog op dié bank gesit saam met sy liefvrou Susy? Hulle was lidmate in die gemeente. Baie mooi, maar sit lekker hard. Harde, duursame oregon-dennehout.
  13. Ds JJ Prinsloo sr (J’sn) se bal-en-klou-tambotiehoutstoel met riempies uit die 1940’s. Hy was sedert 1909 predikant en is in 1955 oorlede.
  14. Besonderse mooi, lae stoel met blou geblomde bekleedsel.
  15. Voetstoeltjie – ons het twee. Moontlik ook klein tafeltjie. Baie laag.
  16. Uit ou TUK (UP) se Ou Lettere-gebou, ’n studentesitplek gebruik sedert 1910, sedert 1917 in teologieklaskamer. Griekse letters is uitgekrap op die skryfblad.
  17. Ou opvou Nagmaalstoel van Belfast (gestig 1935).
  18. Traporrelstoeltjie van Dordrecht (gemeente bestaan 1939-2018). Koperplaatjie daarop met “NHK Dordrecht”. Gestoffeer met gestreepte materiaal in herfskleure.
  19. ’n Riempies Nagmaalstoel van Brakpan (gemeente bestaan 1925-2021). Moontlik gemaak toe kerk gebou is in 1946 in die tyd van ds JJ Prinsloo (G’sn) jr. Nagmaalstoele was gewoonlik deel van kerkgebou se interieur, of ook in die konsistorie.
  20. Nagmaalstoel van Kimberley, vandag bekend as Dora Theo Kimberley, gestig 1950.
  21. Nagmaalstoel van Gemeente Pretoria-Suid in Sunnyside, hv Kotzé- en Cilliersstraat. Gemeente bestaan 1966-2004.
  22. Nagmaalstoel van Wonderboompoort toe kerkgebou ingewy is in 1967.
  23. “Proefkerkbank” van Rustenburg-Suid. Die skrynwerker en argitek het ’n voorbeeld gemaak en aan die kerkraad voorgelê vir goedkeuring. Die kerk is ingewy op 7 November 1965.
  24. Een van drie kantoorstoele (materiaal diagonale strepe) waarop teologiestudente mondeling gedoen het in prof Theuns Dreyer se kantoor (?) in die Teologiegebou (Nuwe Lettere).
  25. Draaistoel met leersitplek uit studeerkamer van dr CJ (Kerneels) Mans, predikant van 1953 tot sy dood in 1974 in Krugersdorp; onder andere in Oos-Afrika en Rustenburg-Suid toe daar kerk gebou is.
  26. Leeskamerstoel (in navorsingskamer) uit Kerkargief in Dirk van der Hoffgebou tot 2017 (moontlik sedert 1961).
  27. Kerkargivaris FS (Riek) van Rensburg se kantoorstoel 1981-2008. Voor dit prof SP Engelbrecht s’n in sy Argiefkantoor.
  28. Kerkbank uit Wesmoot-kerkgebou wat op 11 April 2019 deur vandale beskadig is. Die kerkgebou was eers die Gereformeerde Kerk Pretoria-Booysens, ingewy op 15 September 1962. Wesmoot-gemeente hou sedert 1979 daar kerk.

Skryf asseblief die sitgoed in jou huis en in jul kerkgebou se geskiedenis neer! Stuur die kerkverwante inligting na my by 082 733 3951 of cjdb@boomaap.co.za.

Bronne

  • Foto’s geneem deur ds Carel Johann de Bruin, 15 Augustus 2022. Met die hulp van die koster van Wonderboompoort, Jane Müller. Foto nommer 3 geneem deur Nicol Stassen, November 2018.
  • Alle sitgoed word bewaar in die SP Engelbrecht-museum.
  • Jackson, Neels. Ondersoek na die oorsprong van die byname vir lidmate van die drie susterkerke. 1992.
  • Konteks. In eie museumkas. Die SP Engelbrecht Museum (8) Restourasie, NG Sarkady. September 1996.
  • Konteks. Inspraak. Stoepsitters. Maart 1999.
  • Konteks. Ons lesers sê hul sê. Vanwaar dié “Stoepsitters”? Mei 1999.
  • Sarkady, Nandor G. Die kerkgebou van die NH Gemeente Pretoria 1904-1992: ’n kultuurhistoriese studie. Skripsie vir BA Honneurs in Kultuurgeskiedenis (UP). 1992.
  • Stassen, Nicol. Dorslandtrek 1874-1881. Protea Boekehuis, Pretoria. 2015.
  • Hulp van Facebook-lede, veral die groep “Ou-Kaapse Meubels”.

(Ds Carel Johann de Bruin is kurator van die SP Engelbrecht-museum)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap