Wonderende Wilhelmina van Wonderboom wil weet: Deel van die Kersversierings wat mens nou orals sien, die prentjies van die drie wyse manne in hulle mooi kleurryke gewade met sulke punthoede op hulle koppe. Wie was hulle nou eintlik?
Beste Wilhelmina, Oupa gaan jou soos volg probeer antwoord: In die sesde eeu na Christus, het die legende ontstaan dat die wyse manne se name Caspar, Melchior en Balthazar was. Maar die Bybel sê nêrens dat daar net drie was nie. Dis maar net ’n afleiding wat mense maak omdat daar drie geskenke was. Die Ou Vertaling van 1933/1953 praat van wyse manne, en die 1983-vertaling van sterrekykers. In Grieks word hulle magi genoem – ’n woord waarvan die Engelse magician afgelei is.
Die magi, of sterrekykers, was die astroloë van daardie tyd – hulle het die sterre bestudeer vir aanduidings oor wat in die toekoms in die lewe van enkelinge of volke sou gebeur. Ons lees hulle het uit die ooste gekom – dit was heel moontlik vanuit Babilonië of Persië, daar waar Irak vandag lê.
So – wat weet ons eintlik van die sterrekykers of wyse manne? Nie veel nie. Ons kan uit die geskiedenis ’n paar afleidings maak, maar die Bybel sê nie vir ons presies wie hulle was, hoeveel van hulle daar was, waarvandaan hulle presies gekom het of wat van hulle geword het nadat hulle van Betlehem af weggegaan het nie. Al wat ons in Matteus lees, is: Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.” (Matt 2: 1-2).
En dan weet ons mos wat daarna gebeur het: Herodes vra dat die sterrekykers vir hom kom sê as hulle die Kindjie gekry het. Die sterrekykers volg dan die ster tot in Betlehem. Daar kry hulle die Baba Jesus in ’n krip. Hulle buig voor Hom in aanbidding, gee vir Hom geskenke en, nadat God hulle in ’n droom gewaarsku het, gaan hulle nie terug na Herodes toe nie, maar keer met ’n ander pad na hul land toe terug. Dis die somtotaal van wat die Bybel ons vertel oor die sterrekykers, of, soos die Ou Vertaling gesê het: die wyse manne.
Maar Oupa dink tog dat ons ’n paar lewenslesse kan leer uit die optrede van die wyse manne. So, kom ons kyk dan nou na die dinge wat die wyse manne wys gemaak het:
Die wyse manne was wys omdat hulle God in hul gewone lewe en werkomstandighede raakgesien en gevolg het. Hulle was daar in hul eie land besig met hul eie dinge op hul eie manier toe God dit op hul harte gelê het om na Israel toe te trek. Hulle was besig om na die sterre te kyk en teorieë oor die beweging van die son, maan en sterre te formuleer. God raak hul lewens aan en hulle volg sy leiding.
Die wyse manne was wys omdat hulle, toe hulle onseker was, weer koers gekry het deur die Woord van God te raadpleeg. Toe die wyse manne in Jerusalem by Herodes beland, was hulle nie seker waarheen om te gaan om die Baba Jesus te kry nie. Wat gebeur toe? Weliswaar was dit Herodes wat die skrifgeleerdes en die priesterhoofde bymekaar geroep het, maar die wyse manne kry weer rigting toe hulle hoor dat die Woord van God sê: En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal ’n leier voortkom wat vir my volk Israel ’n herder sal wees (Matt 2: 6). So kom hulle by die Baba Jesus uit.
Die wyse manne was wys omdat hulle vir Jesus gegee het wat hulle by hulle gehad het. Daar is ouens wat sê dat die wyse manne eintlik in eie reg self konings was. Ons weet dit nie vir seker nie. Maar hulle was klaarblyklik vermoënde mense, want hulle het baie kosbare geskenke met hulle saamgebring: goud, wierook en mirre was duur items. Maar dit is wat hulle by hulle gehad het. Hulle gee aan Jesus wat hulle het.
Die wyse manne was wys omdat hulle God meer gehoorsaam was as mense. Herodes sê dat hulle moet terugkom en vir hom kom sê as hulle die Kindjie gekry het. God verskyn in ’n droom aan hulle en sê dat hulle met ’n ompad moet teruggaan na hul land toe. Hulle doen dit. Hulle was God meer gehoorsaam as vir mense.
So, my liewe Wilhelmina, Oupa hoop dat elke keer as jy ’n prentjie van die wyse manne sien, Oupa se storietjie oor wat hulle wys gemaak het sal onthou en ook dieselfde sal gaan doen! Geseënde Kersfees!
