Ongeduldige Odette van Ogies skryf: Beste Oupa Stoep, help asseblief! Ek het ’n tydelike werkie gekry by die plaaslike tehuis vir bejaardes en die oumense maak my mal! Hulle vertel dieselfde stories oor en oor en oor! Ek kon dit nog vir ’n dag of twee uitstaan, maar na ’n week raak dit vir my te veel. Hoe hou ek my gesig vriendelik terwyl ek die duisendste keer na dieselfde storie moet luister?

Beste Odette, daar is drie reëls as ’n mens met ouer mense moet werk: Jy moet leer om te hou van herhaling; jy moet leer om herhaling lief te kry; en jy moet leer om herhaling te geniet! Ouer mense se geheue begin hulle in die steek laat en daarom vind hulle veiligheid in die bekende, in wat hulle kan onthou. Elke mens het ’n lewensverhaal en verdien die geleentheid om hul lewenverhaal te vertel, al gebeur dit baie keer na mekaar.

Oupa wil dit illustreer met ’n ware verhaal. Oupa se skoonsuster werk as dokter by ’n groot staatshospitaal. Eendag sien sy ’n klein ou tannetjie wat alleen in haar bed sit, kiertsregop en besig om ’n doilie te hekel. Skoonsus stap nader om ’n geselsie te maak. Die tannie is 88 en bly in die plaaslike ouetehuis. Sy is in die hospitaal vir ’n groot prosedure aan haar been. Skoonsus vra ’n bietjie meer uit. Sy verneem dat die tannie nege kinders gehad het, waarvan vyf oorlede is. Toe sy vra watse werk die tannie gedoen het, hoor sy tot haar groot verbasing dat die klein tannetjie dr Chris Barnard se skropsuster was. Sy het hom ingeskrop en bygestaan toe hy die eerste hartoorplanting ter wêreld gedoen het in 1967, en ook met al die hartoorplantings wat hy daarna gedoen het. Hy was ’n baie gawe man, sê die tannie. Hulle twee het altyd ’n dubbele espresso gedrink voor elke operasie en dan was hulle reg vir die paar uur wat die operasie sou duur.

Ten spyte van sy reputasie as ’n pierewaaier, het dr Barnard ’n baie goeie hart gehad, vertel die tannie. Sy praat oor die vyf kinders wat sy verloor het. Sy was swanger en in daardie dae was daar nie dinge soos sonars nie. Toe sy vroeg in kraam gaan, skenk sy geboorte aan ’n vyfling! As gevolg van die gebrekkige mediese sorg toe beskikbaar, het die vyf babatjies net ’n paar uur geleef voordat al vyf gesterf het. Dr Chris Barnard het uit sy eie sak vir die begrafnis betaal, vertel sy. Sy kan nou nog die vyf wit kissies in ’n ry sien staan voor in die kerk…

As Skoonsus nie ’n geselsie gaan maak het nie, was dié tannetjie maar net nog ’n pasiënt in die worsmasjien van ’n besige hospitaal. Maar watter storie had sy nie om te vertel nie!

Voor die tannie ontslaan word, maak Skoonsus weer ’n draai. Dit gaan goed met die tannie. Sy sê dankie dat Skoonsus na haar storie geluister het. Die tannie knip haar handsak oop. Skoonsus stap weg met ’n plak sjokolade en ’n gehekelde doilie, wat sy nou nog soos goud bewaar. So, my liewe Odette, kners maar op jou tande. Elke mens het ’n storie wat verdien om gehoor te word, al is dit ’n duisend keer na mekaar.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap