Amper-op-emeritaat van Apiesrivier vra: Beste Oupa Stoep, toe die nuutste Almanak uitkom, sien ek my naam staan baie naby aan bo op bladsy 2 van die lys van diensdoende predikante. Ek besef toe met ’n skok dat ek my sal moet begin voorberei vir my emeritaat. Oupa is so wys dat Oupa seker vir my raad het oor hoe om emeritaat te hanteer, asseblief?

Beste Amper-op-emeritaat, alhoewel Oupa se jeugdige voorkoms die teendeel aandui, is Oupa een van die geseëndes wat betreklik onlangs geëmeriteer het. Dis ’n loutere vreugde vir Oupa om afstand te kon doen van die lastige verantwoordelikhede wat predikant-wees in ’n gemeente meebring. As Oupa nou op uitnodiging in ’n gemeente gaan preek en ’n beswaarde ouderling kerm na die erediens in die konsistorie oor die orrelis wat weer te hard / te sag / te stadig / te vinnig gespeel het, dan vat Oupa net sy toga en maak hom uit die voete…

Maar om by die stuk saligheid uit te kom, moes Oupa eers deur die proses gaan om op emeritaat te gaan, en laat Oupa jou nou uit dure ervaring waarsku: Jy moet nou al begin pastorie skoonmaak en oppak. Moenie wag tot jy eers bladsy 1 van die lys van diensdoende predikante gehaal het nie. Begin nou! Nie môre nie, dadelik!

Die wysheid waarvolgens Oupa sy lewe lank geleef het, is Hoe gouer ek agter raak, hoe meer tyd het ek om in te haal! Dit het Oupa duur te staan gekom toe hy die pastorie moes ontruim na sy emeritaat. Die verhaal van die weduwee se kruik het ook vir Oupa nuwe betekenis gekry, want soos daardie kruik wou die verdomde pastorie net nie leeg word nie.

Oupa en Tannie Oupa het gepak, uitgehaal, weggegooi, weer gepak, weer uitgehaal, weer weggegooi, maar sprake van ’n duik maak in die besittings wat oor meer as 40 jaar opgegaar is, was daar helaas nie. Selfs na Oupa drie van daardie groot blou vullishouers van die munisipaliteit boordens toe volgemaak het met oortollige goed uit die pastorie, was daar nog genoeg goed in die kaste en laaie om drie gastehuise volledig mee toe te rus!

So, my liewe boetie op bladsy 2 – begin nou al pak en weggooi en spaar jouself baie sonde en ergernis. Oupa se knaende uitstellery het gemaak dat hy vir drie maande saam met die kartondose in die motorhuis moes slaap voordat Tannie Oupa hom eers in hul aftreehuisie toegelaat het.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap