Oupa Stoep onthou dat daar in sy geskiedenishandboeke op laerskool ’n foto was wat hom baie gefassineer het. Dit was ’n foto van ’n Nagmaalnaweek op Kerkplein in Pretoria.

Die hele plein was vol kakebeenwaens en almal het van heinde en verre gekom om die hele naweek lank Nagmaal te vier: Voorbereidingsdiens, Nagmaal en Danksegging is deur die loop van die naweek gevier, maar Oupa Stoep glo dat daar tussendeur ook lekker gekuier is. Oupa is nogal spyt dat hy nooit so ’n naweek kon meemaak nie. Dis helaas een Nagmaaltradisie wat in die slag gebly het.

Dit is algemeen bekend dat verskillende kerklike tradisies Nagmaal op verskillende maniere vier, ook met uiteenlopende gebruike. In die Hervormde Kerk is daar ’n paar opvallende gebruike wat ’n mens laat wonder waar dit vandaan kom. Die bekendste hiervan is die aansit by die tafel, die gebruik van die gemeenskaplike beker, die ouderlinge wat voor langs die predikant sit, die geld onder die tafeldoek, en die diakens wat diens doen by die tafel. 

Verskillende maniere van Nagmaalviering is al in die Nuwe Testament sigbaar. Jesus se instelling van die Nagmaal soos ons dit in die Evangelies vind, in vergelyking met die gemeenskaplike maaltyd waarvan ons in Handelinge 2: 46 en 1 Korintiërs 11 lees, verskil. Daarom dat Paulus dit nodig geag het om die gemeente in Korinte te vermaan om te bly by dit wat aan hulle oorgelewer is. Die opstandingsmaaltye in Emmaus (Luk 24: 30-32), Jerusalem (Luk 24: 36-49) en op die strand (Joh 21) was ook geleenthede, gekoppel aan ’n maaltyd, waartydens die dissipels die opgestane Here ontmoet het en die eenheid en gemeenskap met Hom kon ervaar.   

In baie kerklike tradisies word Nagmaal weekliks gevier. Johannes Calvyn was ook van mening dat ’n weeklikse Nagmaal gewens is. Ten spyte daarvan, word Nagmaal in die meeste Calvinistiese kerke elke drie maande gevier. Die rede hiervoor is dat die Hervormers wou wegkom van die Roomse Kerk se oordrewe beklemtoning van die sakramente as heilsmiddel en tegelykertyd die verkondiging van die Woord sentraal wou plaas; en omdat die opsig en dissipline in Calvinistiese kerke van groot belang was.

Die gebruik het reeds in die 16de eeu in Genève posgevat dat ouderlinge hul wyke voor elke Nagmaal moes besoek, om seker te maak dat die lidmate met vrymoedigheid aan die Nagmaal kan deelneem. Indien lidmate hulself in leer of lewe wangedra het, moes die ouderling hulle aanspreek en dit aan die kerkraad rapporteer. Lidmate wat ’n ergerlike lewe gelei het, is weerhou van die Nagmaal (sensuur). Ouderlinge moes by die Nagmaaltafel aansit om toe te sien dat niemand op ’n onregmatige wyse aan die Nagmaal deelneem nie. Die gebruike word tot vandag in die Hervormde Kerk gehandhaaf, waar ouderlinge nog voor Nagmaal lidmate besoek en weerskante van die predikant by die Nagmaaltafel plaasneem.

Ook die diakens het hul plek aan die Nagmaaltafel. Terwyl die ouderlinge teenwoordig is om opsig uit te oefen oor die bediening van die Nagmaal, is die diakens daar om met die bediening te help. Hulle is egter nie net “kelners” nie. Van die vroegste tyd (al in die gemeente in Korinte) was Nagmaal en barmhartigheidsdiens ten nouste aan mekaar verbind. Die liefdesmaal waarvan ons in die Nuwe Testament lees, was ’n manier om aan die armes kos te gee. Almal het kos gebring en almal het saam geëet, ook dié wat niks gehad het nie. Tydens die maaltyd sou die voorganger almal se aandag vra en dan die brood en die wyn omstuur, met die bekende instellingswoorde: Dit is my liggaam… Dit is my bloed… Doen dit tot my gedagtenis… In die Hervormde Kerk word die barmhartigheid sigbaar wanneer geld onder die tafeldoek geplaas word, omdat daardie geld slegs vir die diakonaat en die versorging van behoeftiges aangewend mag word. Miskien het dit tyd geword om die armes weer uit te nooi om saam te eet.

Die Hervormde Kerk het gekies om by die tafel Nagmaal te bedien. In Calvyn se tyd was daar verskil van mening oor die wyse waarop die Nagmaal bedien moet word, naamlik “sittend, staande of gaande”. Calvyn se antwoord daarop was dat dit nie van belang is nie. Dit is die gemeente se keuse hoe hulle die Nagmaal wil bedien, omdat dit nie gaan oor die wyse van bediening nie, maar (1) om te onderskei dat dit om die liggaam en bloed van Christus gaan, en (2) om die gemeenskap met die opgestane Here te ervaar. Omdat die Nagmaal ’n maaltyd is, maak dit volledig sin om dit aan tafel te bedien, omdat ’n maaltyd binne ons sosiale konteks aan tafel bedien word. Om by ’n tafel saam met ander mense aan te sit, beeld nie net die maaltyd uit nie, maar skep ook gemeenskap tussen almal wat by die tafel aansit. Om die Nagmaaltafel word die huisgesin van die Vader sigbaar, en sit almal om die tafel as mekaar se broers en susters. Die gemeente as gesin van God kry sigbaar gestalte aan die Nagmaaltafel. 

Vir Oupa Stoep is elke Nagmaal ’n kosbare geleentheid en ook ’n voortsetting van ’n ryke tradisie. ’n Mens kan net hoop en bid dat dit so sal bly.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap