Beste Oupa Stoep: Ek het grootgeword in ’n stadsgemeente waar almal suutjies Sondaeoggende by die kerkgebou inglip en gou op die eerste beste plek gaan sit terwyl hulle hoop niemand sien hulle nie. Nou die ander Sondag beland ek en my man vir die eerste keer in Oupa en Ouma se kerkgebou op ’n Sondag. Hulle bly op die platteland. Dit het my nogal opgeval hoe almal mekaar vriendelik groet as hulle by die kerk instap. Dis nou almal behalwe die oom en tannie wat voor ons kom sit het. Hulle het lank na ons gestaar voor hulle gaan sit het en die tannie het iets gemompel soos: “Hierdie jongmense het darem geen respek nie!” Die oom het kort-kort omgeloer en “Gmff!” sy keel skoongemaak. Dink Oupa Stoep die parfuum wat ek aangehad het, het hulle dalk gepla, want dit was nie 4711 Eau de Cologne soos al die ander tannies aangehad het nie?
Oupa Stoep antwoord: My liewe kind, dit het niks met jou parfuum uit te waai nie. Jy het net op die oom en tannie se “plek” gaan sit in die kerk en daarmee die ongeskrewe Protokol vir Sitplek-inname verbreek. Laat Oupa Stoep vir jou probeer verduidelik:
Hervormers is óf agterbankers óf wydlopers
As reggeaarde Hervormers by die kerkgebou instap, kies hulle dadelik óf ’n sitplek heel agter in die kerkgebou (die agterbankers) óf hulle neem stelling in direk langs een van die paadjies in die kerkgebou (die wydlopers). As jy dus nie soos ’n seer oog in ’n erediens wil uitstaan nie, sorg dat jy so ver moontlik agter of so styf moontlik teen die paadjie sit. As jy agter sit, is die kanse skraler dat die dominee dalk vir jou ’n vraag gaan vra tydens ’n kinderdiens. As jy langs die paadjie sit, sal jy baie gouer die kerkgebou kan ontruim as daar ’n lugaanval teen die kerkgebou geloods word, iets wat mos baie gereeld gebeur…
Wees op die uitkyk vir die hogere gestoeltes
As jy in ’n vreemde Hervormde kerkgebou op soek is na ’n sitplek, wees op jou pasoppens as jy sien dat daar voor, weerskante van die kansel, nog baie sitplek beskikbaar is in banke wat so dwars lê met die ander banke. Dis die ouderlinge en diakens se banke. Jy kan dit waag om daar te gaan sit, maar wees bedag op die gevare: ’n Oom met sulke dik wenkbroue kan jou baie kwaai aangluur, maar halfpad deur die diens kan hy dalk net op jou skouer aan die slaap raak. Jy mag ook, as jy nie gou genoeg padgee nie, sommer dadelik as ouderling of diaken bevestig word.
Vermy die bespreekte sitplekke
Goeie Hervormers is ook roetinemense. Hulle hou nie baie van verandering nie; daarom wil hulle baie graag Sondag vir Sondag op presies dieselfde sitplek sit. As jy sien dat die persoon wat voor of langs jou die hele erediens deur rondskuif, kan jy seker wees dat jy op sy sitplek sit. ’n Ander teken wat daarop dui dat jy op iemand se “bespreekte sitplek” sit, is as daar ’n Bybel en Liedboek met identiese oortreksels reeds voor in die rakkie staan, of as daar ’n gehekelde kussing op die bank lê.
Maar wees nie bevrees nie!
As jy al dié slaggate kan vermy, sal jy sien dat Hervormers oral baie vriendelike en aangename mense is. Die erediens is nie vir Hervormers ’n modeparade waar jy jou nuutste ontwerpersklere moet kom tentoonstel nie. Ons Hervormers kom in die erediens omdat dit vir ons in die eerste plek daaroor gaan om daar, deur Woord en lied, met God in ontmoeting te tree. En dis vir ons lekker om dit te doen, en daarom is ons oor die algemeen baie vriendelik met mekaar in die erediens. Maar wee jou as jy op iemand se plek durf waag sit….
