Twisgierige Tokkelok van Tamboerskloof vra: Beste Oupa Stoep, ons finalejaar teologiestudente is opgekommandeer om te help tydens vanjaar se Algemene Kerkvergadering. Ek het baie definitiewe standpunte oor baie van die sake wat bespreek gaan word. Dink Oupa ek sal my wysheid met die vergadering kan deel?
Beste Tokkelok, praat kan jy heel moontlik praat. Die voorsitter sal bepaal of jy mag praat. Of dit raadsaam is om te praat en watter invloed jou pratery op moontlike toekomstige beroepe na gemeentes kan hê, bly egter ’n ope vraag…
In Oupa se jong dae was dit ’n ongeskrewe reël by die AKV dat jy eers ’n spreekbeurt mag aanvra as jy minstens óf halfpad grys óf halfpad bles is. Kom Oupa probeer verduidelik: Toe die AKV die eerste keer in Gemeente Pretoria-Oos se kerkgebou gehou is, was die pastor loci, wyle dr Hennie van Deventer, al vir seker meer as 20 jaar ’n predikant. Toe hy moes verduidelik wat die reëlings rondom badkamergeriewe vir die broers en susters ter vergadering was, het hy gesê dat hy nooit sou kon droom dat sy nooienstoespraak tydens ’n AKV oor toilette sou gaan nie!
Een van Oupa se klasmaats was egter baie voortvarend en het hom min aan dié ongeskrewe reël gesteur en het by die eerste vergadering nadat ons afgestudeer het, ’n dringende spreekbeurt aangevra. Hy wou hê dat die vergadering ’n sterk bewoorde standpunt teen pornografie inneem. Ter motivering het hy ’n pornografiese tydskrif wat hy gekoop het by ’n kafee oorkant die Pretoria-stasie, net ’n blok weg van die Goddefroysaal waar die vergadering sitting geneem het, rondgeswaai. Hy was nog besig om spoegspattend standpunt in te neem teen die morele verval in die land, toe prof Bart Oberholzer hom erg geïrriteerd stilmaak en sê dat dit nie ’n saak is wat by die AKV tuishoort nie. Wat Oupa wel kan onthou, is dat, by die teepouse net daarna, daar ’n lang ry ouderlinge gestaan het wat die inkriminerende bewysstuk in situ wou inspekteer…
Maar, my liewe Tokkelok, as jy dan móét praat, onthou dat daar altyd plek is vir ’n gepaste en gevatte opmerking. Oupa onthou dat dr Piet van Zyl by die buitengewone vergadering wat gehou is om die nuwe Liedboek goed te keur, gemaan het dat die vergadering tog baie versigtig moet wees met die liedere wat hulle goedkeur en in gedagte moet hou waar die liedere orals gesing sal word. So het hy gesê dat dit dalk nie heeltemal van pas sal wees nie as ’n erediens in die gevangenis gehou word en die prisoniers sing Gesang 157, wat lui: Here Jesus, ons is saam op u roepstem hier vergader…