Verwarde Fiona van Vosbergshoop skryf: Liewe Oupa Stoep, tydens hierdie deurmekaar tyd met die Covid-19-pandemie, het daar kort-kort boodskappe deurgekom wat verwys na verse in die Bybel wat voorgee om óf te voorspel wat gebeur het, óf te verduidelik wat ’n mens moet doen. Dis dan verse wat iets te make het met die dag en datum waarop die staat van inperking afgekondig is of sinspeel op die “19” van die virus. Kan dit waar wees dat Jesaja of Josua al daardie jare terug geweet het dat Covid-19 in 2020 gaan losbars?
Beste Fiona, jy vra ’n wettige en baie relevante vraag. Oupa Stoep het ook etlike van die boodskappe gekry wat verwys na Jesaja 26: 20 – Gaan in julle slaapkamers in, my volk, sluit die deure agter julle toe. Kruip ’n rukkie weg totdat God klaar is met straf – met die verwysing dat dit nie toevallig is dat die staat van inperking afgekondig is op 26 Maart van 2020 nie.
Daar word ook gesê dat die 19 van Covid-19 verwys na Josua 1: 9 – Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.
Die paar haartjies wat Oupa Stoep nog oor het, het kiertsregop gestaan toe hy hierdie boodskappe lees. Oupa verstaan dat ons almal besorg en ontsteld is in hierdie dae en daarom amper wanhopig gryp na enigiets wat dalk vir ons troos kan bied, maar daar is ’n baie groot verskil tussen die Bybel gebruik as bron van troos en om die Bybel aan te wend as ’n abrakadabra-toorboek – om dit nou baie prontuit te stel!
Die Bybel bied juis vir ons troos omdat, baie kort gestel, dit in die Ou Testament vir ons vertel van God se handelinge met die mense deur die volk Israel, en in die Nuwe Testament deur Jesus Christus. Daarom is dit belangrik dat ons die Bybel lees binne die konteks waarin dit geskryf is. Die boek Jesaja het betekenis gehad vir die mense in Jesaja se tyd. ’n Paar woorde uit daardie boek het nie eers ± 2 700 jaar later toe ’n virus losbars, betekenis gekry nie. In Josua 1: 9 word God se opdragte en versekering aan Josua voor hy die beloofde land moet inneem, weergegee. Dit het niks te make met ’n koronavirus nie.
’n Ander ding wat Oupa se hare nog verder laat regop staan, is die neiging om amper magiese of heilige waarde toe te ken aan die hoofstuk- en versnommers van die Bybel. Die moeilikheid hiermee is dat, toe die Bybelboeke aanvanklik op skrif gestel is, dit lang aaneenlopende dokumente was wat meestal op rolle van papirus of gebreide leer (Latyn: vellum) met die hand oorgeskryf is. Daar was nie sprake van hoofstuk- of versindelings nie. Dié het eers in die 16de eeu bygekom toe die Bybel in boekvorm gedruk is. Robert Estienne word gekrediteer met die indeling van die Bybel in hoofstukke en verse soos ons dit tans gebruik. Die eerste Bybel hiermee was in Frans en het in 1555 verskyn, die eerste een in Engels in die jaar 1560. Hierdie indelings was gedoen suiwer om naslaan en verwysing te vergemaklik. Dis al. Die hoofstuk- en versnommers het geen ander waarde en betekenis nie.
Natuurlik kan en moet ons ons tot die Bybel wend vir troos en krag in moeilike tye. Daarvan bied die Bybel genoeg in die boodskap wat dit vir ons bring van God se oneindige liefde vir ons en sy onophoudelike betrokkenheid by ons. Dis waar die krag van die Bybel lê – beslis nie in die syfertjies van versies nie.
