As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. (Johannes 7: 37-38)
Lees Johannes 7: 37-39
Ons hoor gereeld dit is ons roeping om missionaal te wees, om in alles op die wêreld om ons gerig te wees.
So ’n ruk gelede vertel ’n jong meisie my hoe sy op laerskool haar broodjies in die badkamer moes gaan eet het uit vrees vir meisies wat haar geboelie het. Sy vertel my van die tye toe hulle haar gepootjie en gestamp het, maar vir haar was die seerste die sweepslae wat hulle met hul skerp tonge uitgedeel het. Vandag is sy klaar met skool, maar sy het steeds die emosionele letsels, ’n lae selfbeeld, en sy voel identiteitloos. Sy kruip nog steeds weg, al is dit nou nie meer in badkamers nie, en sy bly eenkant met haar eie dinge besig.
Dalk is dit waarom ons nie graag betrokke raak in die wêreld om ons nie, waarom ons met ons eie dinge besig is, waarom ons alles in ons vermoë doen om onsself te beskerm. Ons ervaar onsself as slagoffers, ons het letsels, is dalk êrens geboelie, het êrens seergekry in die lewe, iemand het iets gesê of gedoen wat ons seergemaak het. Ons voel identiteitloos.
In die tyd toe Johannes sy weergawe van Jesus se storie geskryf het, is Christene wat eers Jode was ook geboelie. Meer nog, hulle is deur hul families afgeskryf en as dood beskou. Hulle was identiteitloos.
Johannes skryf van ’n huttefees, ’n fees wat in dié tyd ’n groot geleentheid was omdat die grootste gedeelte van die bevolking afhanklik was van die landboubedryf. Tydens die huttefees het hulle die Here gedank vir die oeste, maar ook gebid vir die Here se seën in die vorm van reën vir die winter wat voorlê.
By die fees het die priester elke dag water by die Siloambad gaan skep en dit in ’n bak by die altaar gegooi sodat die water dan voor die altaar uitloop. Op die sewende dag van die fees moes die priester dit sewe keer herhaal. Tydens die sewende keer terwyl die water afloop en die priester bid vir die Here se seën, sê Jesus: Ek is die water, die seën wat julle vra. Vir Johannes is water ’n teken van lewe, ewige lewe, nuwe lewe, herstelde lewe, lewe saam met God. So Jesus sê: Ek is die gewer van lewe.
Die mense in Jesus se tyd het God se nuwe tyd verwag wat eendag sou aanbreek. Dit sou ’n tyd van vrede, van herstel wees. Vir die eerste gelowiges wat verstoot is, vir mense wat geboelie word en nie weet wie hulle is nie, mense wat in badkamers gaan wegkruip, sê Jesus: Julle is verwond, kom na My toe, die verwagte tyd is hier. Ek herstel, Ek gee julle lewe, maar as jy hierdie water drink, dan word jy deel van ’n stroom wat lewe deel. In Johannes 4: 14 sê Jesus: Ek sal in jou opborrel en uit jou uit stroom.
Met Jesus se menswording het alles verander, die wêreld was nooit weer dieselfde nie, die nuwe lewe het aangebreek. God het mens geword, is deur mense gespoeg, geslaan, bespot en uiteindelik gekruisig. God is geboelie, sodat ons vandag die lewe kan hê. In sy wonde is daar herstel, ons deel in die nuwe lewe, ons praat en doen die lewe. Johannes interpreteer in vers 39 die strome water wat sal vloei wanneer die Heilige Gees uitgestort word.
Dalk is dit wat ons in hierdie Lydenstyd moet doen, dat die Heilige Gees weer hierdie boodskap kan vasmaak in ons harte, want dalk is ons net te verwond om die lewe te kan deel.