Ons woon op ’n klein blou ghoen
Soos kinders met haar gedoen
wat ons wou doen
Sy hang draadloos in die sfeer
haar skouers mank, sy’t geen verweer

Amanda Strydom se lirieke dring ons tot ’n diepe bewussyn van die uitdagings waarmee Moeder Aarde te kampe het. En die klein blou ghoen bly draai en draai, en die haan het lankal al gekraai…

Die ekologiese krisis wat die aarde tans vierkantig in die gesig staar, is grootliks te wyte aan menslike handelinge wat die natuurlike balans van ekosisteme versteur. Daar’s te veel met die wêreld gefoeter, aldus Koos du Plessis.

Die mens het kennelik hul rentmeesteropdrag versaak. Die haglike toestand van ons planeet is ’n somber getuienis van die mens se selfsug en traagheid. Ons sien alreeds oral rondom ons die vernietiging – en dit tref die armes en weerloses die hardste. Prof Johan Buitendag dui in die voorbladartikel aan hoe dringend ’n nuwe Hervorming nodig is – ’n Groen Hervorming.

Klimaatverandering het een van die grootste uitdagings van ons tyd geword. Begrippe soos kweekhuisgasse, verhoogde weerverwante risiko’s en rampbestuur raak alledaags. Ons het die afgelope winter eerstehands beleef hoeveel reën geval het in dele van die land wat as somerreënvalstreke bekend is. Globaal was Julie vanjaar die warmste maand op rekord tot op hede, wat die dringendheid van die probleem onderstreep.

Kweekhuisgasse soos waterdamp, koolstofdioksied, metaan, stikstofoksiede, chloorfluoorkoolstowwe en osoon het ’n groot invloed op die temperatuur van die aarde se atmosfeer. Die kweekhuiseffek veroorsaak dat die temperatuur van die aardoppervlak hoër styg as wat aan ’n kombinasie van die son se hitte en die interne hitte van die aarde toegeskryf kan word. Sonder hierdie gasse sal die aarde se oppervlak gemiddeld 33 °C kouer (en lewe haas onmoontlik) wees. Aardverwarming is egter ’n direkte gevolg van ’n toename in kweekhuisgasse tot waar dit nie meer voordelig vir lewe op aarde is nie. Die noodwendige resultaat is toenemende hittegolwe, brande, droogtes, vloede en die smelt van sneeu en ys – en ’n algehele versteuring van die ekologie.

Hierdie hitte-toename is die gevolg van veral die verbranding van fossielbrandstowwe wat die vlakke van koolstofdioksied in die atmosfeer beduidend laat toeneem. Daar is ook ander oorsake soos metaangasvrystelling deur sekere boerdery-aktiwiteite. Ontbossing is ’n ander groot sondaar. Die stelselmatige uitwissing van groot woude vernietig die kritieke habitat van ’n groot verskeidenheid plante en diere. Dit versteur ekosisteme, wat weer ’n direkte impak op biodiversiteit het, en vererger klimaatverandering deur die verlies van koolstofputte (gebiede wat meer koolstof uit die atmosfeer opneem as wat dit vrystel).

Hoe raak dit ons? Aardverwarming het ’n negatiewe en wydverspreide impak op die hele planeet. Dit beïnvloed lewenskwaliteit deur die impak op landbou, waterbronne, gesondheid, infrastruktuur en die ekonomie. Dit kan ook lei tot grootskaalse migrasie van mense, wat weer toenemende internasionale konflik tot gevolg kan hê.

Om die vernietigende gevolge van aardverwarming te beperk, is dit belangrik om die vrystelling van onder andere koolstofdioksied te verminder deur middel van die oorgang na hernubare energiebronne, die verbetering van energie-effektiwiteit, die voorkoming van ontbossing, en ander inisiatiewe. Verder is volgehoue internasionale samewerking nodig om die aarde te bewaar vir toekomstige generasies. Die kerk is ewe-eens geroepe om op te staan en op te tree. Ons durf nie meedoen aan die vernietiging nie, maar behoort die versorgers van die aarde te wees, en ’n helder stem te wees vir dit wat nie kan praat nie – die lug, bome, blomme, bosse, berge, riviere, see en al die diere.

Die kerk het ’n unieke geleentheid om mee te werk aan oplossings – in die eerste plek deur bewusmaking, en ook om getuienis te lewer wat wêreldleiers aanspoor tot gesonde beleidmaking en om internasionale ooreenkomste te sluit wat klimaatverandering voorkom en die ekologiese krisis prioritiseer. Kerke behoort die doelwitte van die Parys-klimaatooreenkoms (waarna die voorbladartikel verwys) heelhartig te ondersteun – en regerings aanmoedig om ondertekenaars te word, of regerings ontmoedig wat van voorneme is om van die ooreenkoms te onttrek.

Ons behoort ook te besin oor die manier waarop ons leef en voortdurend bewus te wees van ons energieverbruik, afvalproduksie en persoonlike impak op die omgewing. Dit mag soms voel asof ons individuele pogings geen verskil maak nie, maar elkeen van ons kan deur klein lewenstylveranderings ’n golf van bewusmaking en inspirasie skep. Begin vandag nog met eenvoudige dinge soos herwinning, water- en elektrisiteitbesparing en weldeurdagte voedselkeuses.

En verder moet die kerk omsien na hulle wat die meeste deur die krisis geraak word – kwesbares wat deur natuurrampe in armoede en ellende gedompel word. Prof Tanya van Wyk vestig ons aandag op die wrede werklikheid dat diegene wat nie die probleem veroorsaak het nie, die gevolge daarvan moet dra en die skade moet probeer ongedaan maak. Dit is ons verantwoordelikheid om liefde en medelye te betoon en saam die pad van herstel te loop – en dan toe te sien dat dit nooit weer gebeur nie.

Die Skepper het vir ons ’n wonderlike wêreld gegee om te bewerk en te geniet – alles ’n uitdrukking van God se almag, liefde en kreatiwiteit. Neels Jackson se foto-artikel is ’n aanskoulike getuienis daarvan. Bewaar die skepping. Ons leen immers net hierdie planeet by ons nageslag.

Sy vryf haar moeë bene
Sy’t ’n lang pad geloop
Sy wonder oor haar kinders
Dis haar heel laaste hoop
Sy vou haar hande saam
Soos ’n eensaam gebed
O, wanneer gaan ons leer
Sy’s al wat ons het
(Nataniël)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap