Vir meer as ’n eeu lank was daar deurlopend ’n tekort aan predikante in die Hervormde Kerk. Die situasie het ongeveer ’n halfeeu gelede verander toe groot getalle predikante afgestudeer het – soveel dat daar naderhand selfs ’n oorskot predikante was! Nou het die situasie egter weer omgekeer: Daar is te min predikante om al die gemeentes in die Kerk te bedien.
Aan die begin van 2022 het die Kerk ongeveer 272 aktiewe gemeentes gehad, maar slegs 221 predikante in aktiewe diens. Hiervan het 116 in ’n voltydse werkruimte gedien en 74 in ’n deeltydse werkruimte. Daarby was daar ses voltydse dosente, vier predikante met ’n besondere opdrag, en 21 emeriti wat in werkruimtes van die Kerk diens doen.
Die tekort aan predikante hang met verskeie faktore saam. Eerstens tree die groot groepe predikante wat sedert die 1970’s afgestudeer het, nou af. In die ses jaar sedert die 71ste AKV het 43 predikante geëmeriteer, en in die ses jaar tot die 75ste AKV gaan nog 52 predikante emeriteer. Dit is benewens predikante wat weens siekte of ander redes vroeë emeritaat aanvaar, te sterwe kom of van lewenstaat verander.
Tweedens het ons verbeterde ekumeniese betrekkinge met ander kerke in Suid-Afrika en oorsee die onvoorsiene gevolg dat al meer Hervormde predikante beroepe na ander kerke aanvaar: ’n verdere 18 predikante oor die afgelope ses jaar.
Derdens het die getal studente wat jaarliks as predikant afstudeer, dramaties gedaal. Die feit dat die getal dooplidmate oor die afgelope 30 jaar skerp afgeneem het, beteken natuurlik dat daar nou al minder jong lidmate is wat belydenis van geloof aflê en matrikuleer. Hierdie jong lidmate van die Kerk gee dikwels voorkeur aan opleiding wat die deure na ’n lonende betrekking en buitelandse werksgeleenthede kan open. Daarteenoor moet ’n teologiestudent rekening hou met die risiko dat hy of sy na ses jaar se duur universiteitstudie slegs ’n beroep met deeltydse vergoeding kan kry en dus terselfdertyd ook ’n tweede loopbaan sal moet volg om sy/haar inkomste aan te vul.
’n Vierde faktor wat die beskikbaarheid van predikante kortwiek, is baie gemeentes se vooroordeel teen vrouepredikante. Gemeentes idealiseer dikwels nog die jong manlike predikant wat by alles van die skoolraad tot die boerevereniging kon betrokke raak en sy vrou wat (sonder vergoeding) leiding geneem het by die NHSV en ’n klomp ander gemeenteaktiwiteite. Daar is egter ál minder manlike predikante en teologiestudente. Gemeentes oraloor moet raaksien watter uitnemende werk vrouepredikante nou al vir meer as 40 jaar in die Kerk verrig – in die stad en op die platteland!
Laastens moet die Kerk verstaan dat predikante (mans sowel as vroue) al meer gebonde is aan hul eggenote se beroepe en hul gesinne se behoeftes. Baie predikante (mans én vroue) se eggenote verdien ’n groter inkomste as hulle, terwyl die vermindering in goeie Afrikaanse skole en die verval van ander infrastruktuur hul kinders se geleenthede beperk. Die predikant kan daarom nie sommer ’n beroep aanvaar as dit sy of haar eggenoot se werk, of die kinders se skoolonderrig of mediese sorg in die gedrang bring nie.
Baie gemeentes wat nie meer kan bekostig om ’n predikant voltyds te beroep nie, wend hulle dan tot emeriti. Maar daar is nie oral emeriti beskikbaar nie – veral nie op die platteland of in gebiede waar die Hervormde Kerk tradisioneel nie sterk verteenwoordig was nie (soos KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Noord-Kaap en Vrystaat). Waar gemeentes hulle dan soms tot emeriti van die NG Kerk wend, roep dit ander vrae op: Vir hoe lank sal so ’n NG emeritus die gemeente kan bedien? Watter groei is daar onder sulke omstandighede moontlik, of is die gemeente net besig om die onvermydelike uit te stel? Hoekom sluit die plaaslike gemeentes van die Hervormde Kerk en die NG Kerk dan nie eerder ’n samewerkingsooreenkoms nie? Of moet gemeentes van die Hervormde Kerk in ’n wyer gebied nie eerder saamwerk of saamsmelt om ’n Hervormde predikant voltyds te beroep en so die voetspoor van die NHKA te behou nie?
Maar dit bring ’n mens onvermydelik by ’n ongemaklike vraag: Het ons nie te veel gemeentes eerder as te min predikante nie? Is dit sinvol as predikante in gemeentes naas mekaar elkeen in ’n groot kerkgebou vir 30 lidmate preek? Die lidmaattal van die Hervormde Kerk het oor die afgelope 30 jaar met ongeveer 60% gedaal, maar die getal gemeentes slegs met 10%. Daarom het die gemiddelde getal lidmate per predikant van 461 (in 1988) gedaal tot 201 (in 2021). Wat onmiddellik verklaar waarom gemeentes noustrop trek: Al minder mense moet steeds dieselfde vaste gemeentelike uitgawes (traktement, instandhouding van kerkgebou, munisipale kostes, versekering, dienste) dra. Dit sal interessant wees om te sien watter persentasie van die gemeente se uitgawes met hul kerklike eiendom en administrasie verband hou, en watter persentasie geld daar beskikbaar is vir die vergoeding van ’n predikant.
Die tekort aan predikante dwing gemeentes om opnuut te dink oor die manier waarop hulle in hul eie omgewing wil getuig en dien. Om bloot elke Sondag ’n predikant – enige predikant wat tog net beskikbaar is – te kry om ’n handjievol lojale lidmate te bepreek, is nie sinvol of volhoubaar nie.
Ons moet verwikkelinge in ons omgewing in die oë kyk en vra hoe samewerking en konsolidasie ons in staat kan stel om hiér ons roeping uit te leef. Wat kan die lidmate self doen? Wat kan die kerkraad doen? Hoe kan ons daadwerklik met ander gemeentes saamwerk om ’n lewensvatbare ruimte te skep waar een van die krimpende getal predikante hom- of haarself tog met sy of haar gesin kan vestig? Sodat die Woord verkondig en bestudeer kan word, sodat kategese vir kinders en buitekerklikes kan plaasvind, sodat ’n geloofsgemeenskap kan gedy, sodat die kerk van die Here hiér kan uitreik na die nood van die wêreld.
(Dr Wouter van Wyk is sekretaris van die Kommissie van die AKV)