Elke gemeente wil graag haar eie predikant hê. En as hulle ’n predikant beroep, moet dit ’n goeie predikant wees – goed opgelei, dinamies en ’n reggeaarde predikant eie aan die Hervormde Kerk.

Vandag aanvaar gemeentes dit as vanselfsprekend dat daar predikante is wat hulle kan beroep, maar hulle dink dikwels nie na oor die proses en die koste om ’n predikant op te lei nie. Wanneer gemeentes gekonfronteer word met die koste van teologiese opleiding, vra hulle dikwels of ses jaar se opleiding aan ’n universiteit regtig nodig is.

Tog is die eise wat vandag aan predikante gestel word, hoër as ooit: Die predikant moet Hebreeus en Grieks leer om die Bybel in die oorspronklike tale te kan lees; die predikant moet al die teologiese vakrigtings se inhoud in hooftrekke leer ken om selfstandig teologie te kan beoefen; die predikant moet pastorale vaardighede ontwikkel en die uitdagings van maatskaplike werk leer ken; die predikant moet finansieel geletterd wees en oor bestuursvaardighede beskik; die predikant moet moderne inligtingstegnologie bemeester. O ja, en hierdie Hervormde predikant moet ook ’n goeie begrip hê van die hedendaagse multikulturele gemeenskap waarin ons leef. Hoe doen ’n mens dit in minder as ses jaar? Die meeste predikante sal sê dat jy na ses jaar net genoeg geleer het om te weet waar om inligting te gaan soek! Jy kan onmoontlik alles leer wat jy in die bediening nodig het, en daarom is voortgesette bedieningsopleiding (VBO) ononderhandelbaar.

Vir baie jare was die Hervormde Kerk bevoorreg om haar predikante deur haar eie teologiedosente en professore aan ’n universiteit op te lei. Selfs na die vestiging van ’n enkele, geïntegreerde teologiefakulteit aan die Universiteit van Pretoria (UP) in 2000, kan die Kerk vandag nog kragtens ’n vennootskapsooreenkoms vyf dosente binne die Fakulteit Teologie en Religie aanstel mits die betrokke predikante aan die Universiteit se normale aanstellingsvereistes voldoen. Die ooreenkoms maak ook voorsiening vir die vestiging van die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) aan UP, waardeur Hervormde teologiestudente kerkeie opleiding ondergaan en ’n Diploma in Kerklike Bediening verwerf.

Vir hierdie voorreg betaal die Kerk jaarliks slegs ’n klein deel van hierdie dosente se totale vergoeding aan die Universiteit oor. In die proses kry die dosente – en indirek ook die Kerk – toegang tot die Universiteit se infrastruktuur en die internasionale navorsingsgemeenskap. As personeellede van UP kry ons dosente toegang tot navorsingsfondse en geleenthede om nasionaal en internasionaal vakkongresse by te woon en te publiseer. Hierdie dosente het oor die jare deur hul kundigheid en toewyding baie respek afgedwing en mense deeglik van die Hervormde Kerk laat kennis neem.

Die Hervormde Kerk, as UP se oudste kerklike vennoot, is tans deel van ’n fakulteit wat ekumeniese bande met ander kerke stimuleer en koester. Hierdie interaksie met studente en akademici van ander kerke is vir die Hervormde Kerk van groot waarde, veral nadat ons Kerk vir dekades ekumenies geïsoleer was. Hervormde dosente doseer tans ongeveer een derde van die kursusse wat binne die Fakulteit Teologie en Religie aangebied word en oefen so ’n baie groot en waardevolle invloed uit op die studente van ongeveer 45 verskillende denominasies. Ons het in 2021 maar 20 Hervormde studente uit ongeveer 740 studente aan die Fakulteit, maar die wedersydse kontak en stimulasie tussen studente hou op die lang duur vir ons toekomstige predikante se bediening groot belofte in.

Predikante wat aan UP afstudeer, verwerf na vyf jaar ’n meestersgraad in teologie wat internasionaal erken word. Oor die jare heen het dit vir tientalle predikante die deure oopgemaak om oral in die wêreld nagraads te studeer en doktorsgrade te verwerf. Die bekende joernalis en voormalige redakteur van Kerkbode vertel dat dit hom telkens opgeval het dat daar meer predikante met doktorsgrade by die Algemene Kerkvergadering was as by die sinodes van enige ander kerk.

Kortom: Die voorregte en geleenthede wat die Hervormde Kerk na 104 jaar se betrokkenheid by die Fakulteit Teologie en Religie aan UP geniet, is beduidend, en dit beteken geweldig baie vir die vorming van ons predikante en vir die aansien van die Kerk in die gemeenskap.

Tog staan die Kerk vandag voor baie groot uitdagings wat die Kerk se teologiese opleiding én die voortsetting van die vennootskap met UP in die gedrang bring.

Die eerste hiervan is die voortgaande daling in die Hervormde Kerk se lidmaattal. Dit is grootliks te wyte aan ’n drastiese daling in die geboortesyfer sedert die vroeë 1990’s, toe ons doopsyfer skielik met amper 80% geval het. Die implikasie is dat die Kerk se lidmaattal nog vir die volgende 20 tot 30 jaar bloot om demografiese redes gaan aanhou daal. Wanneer die impak van emigrasie en ontkerkliking ook in berekening gebring word, moet ons aanvaar dat die Hervormde Kerk teen die middel van die 21ste eeu kleiner gaan wees as een vyfde van die Kerk se grootte teen die einde van die vorige eeu.

Die dalende lidmaattal en stygende gemiddelde ouderdom van ons lidmate maak dit jaar vir jaar vir die Kerk moeiliker om teologiese opleiding te bekostig en die ooreenkoms oor teologiese opleiding met UP voort te sit. Helaas is die koste van teologiese opleiding nie net beperk tot die koste verbonde aan die ooreenkoms met UP nie, maar sluit dit ook die koste van die Hervormde Teologiese Kollege (HTK), die Sentrum vir Gemeentelike Bediening (SGB) en die Sentrum vir Reformatoriese Teologie (SRT) in. Trouens, die koste aan die HTK (wat vir die Kerk van wesenlike belang is) beloop meer as die koste aan die ooreenkoms met UP.

Daar is soms mense wat meen die Kerk moet (deur middel van die HTK) die opleiding van predikante selfstandig en onafhanklik bedryf, met akkreditasie aan ’n universiteit. Die probleem is egter dat die HTK nie self as hoëronderwysinstansie by die Departement van Hoër Onderwys geregistreer is nie, en dat die HTK dus slegs deur die akkreditasie aan UP erkenning geniet. Indien die Kerk haar teologiestudente slegs aan die HTK sou oplei, sou hul kwalifikasies nêrens anders erken word nie en sou die deure na nagraadse studie toeslaan. Dit sou fataal wees vir die Hervormde Kerk se aansien in ons eie gemeenskap en ook die erkenning wat ons predikante en teoloë internasionaal geniet.

Die dalende lidmaattal en kwynende finansiële vermoë van die Kerk skep nog ’n probleem: Al minder jongmense lê jaarliks belydenis van geloof af en al minder jongmense meld aan om teologie te studeer en predikant te word in die Hervormde Kerk. Terwyl gemeentes dus vandag nog van emeriti gebruik kan maak (die groot groepe predikante wat in die 1970’s en 1980’s afstudeer het, emeriteer nou), vind die lewensnoodsaaklike natuurlike verjonging deur die toetrede van nuwe predikante nie in groot genoeg getalle plaas nie. Ons moet waarskynlik byvoeg dat die gebrek aan ’n beursleningskema soos vroeër dit onder die huidige finansiële omstandighede vir jongmense moeilik maak om die koste van ses jaar se universiteitstudie aan te gaan.  Wanneer jongmense verder opmerk dat gemeentes predikante toenemend slegs deeltyds beroep en van die predikant verwag om self ’n addisionele inkomste te genereer, word teologiestudie selfs vir reggeaarde jong lidmate ’n onaantreklike opsie.

Benewens die bostaande interne uitdagings, is daar ook faktore buite die Hervormde Kerk wat ons teologiese opleiding aan ’n universiteit in die gedrang bring.

Die eerste faktor is die inmenging van die regering en die maniere waarop hulle inbreuk maak op universiteite se outonomie. Prof Flip Smit, voormalige rektor van UP, verwys onlangs in die Nuusbrief van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (Jaargang 59, 2/2021) na twee aspekte hiervan: die politieke druk wat aanleiding gegee het tot ’n ongeëwenaarde groei in studentegetalle, en die aftakeling van universiteite se outonomie. Dit het onder meer tot gevolg dat die student:dosent-verhouding sedert 1993 tot vandag van 24:1 tot 55:1 gestyg het en staatsubsidie aan universiteite per student in reële terme gedaal het, sodat die koste vir betalende studente proporsioneel al duurder word.

Verder het die Wysigingswet op Hoër Onderwys van 2016 die minister die magte gegee om transformasieteikens vir die studente- en personeelkorps te stel, en mond politieke druk uit in ideologiese voorskrifte oor vakinhoude. Afgesien van die aandrang op dekolonisering en afrikanisering van alle leerplanne (selfs grammatika en wiskunde!), lei dit byvoorbeeld tot die ontkoppeling van die Departement Antieke Tale van die Fakulteit Teologie en Religie, met die gevolg dat die vakinhoud van Hebreeus en Grieks nie meer primêr op Bybelse tekste afgestem is nie, maar al meer op buitebybelse en klassieke literatuur.

Die herkolonisering van staatsuniversiteite deur die owerhede se verengelsingsbeleid is natuurlik ironies, maar dit skep ’n wesenlike probleem vir Afrikaanse studente in enige vakrigting en spesifiek vir teologiestudente van die Afrikaanse kerke. Hoewel UP se taalbeleid die konsessie maak dat sekere teologiekursusse in Afrikaans aangebied mag word, veroorsaak die praktyk dat die handjievol Afrikaanse studente nie wil aandring op aparte klasse in Afrikaans nie, maar eerder saam met die ander teologiestudente in Engels klasdraf. Dit het egter tot gevolg dat die studente vaktaal en teologiese taal hoofsaaklik in Engels leer en beswaarlik by wyse van ’n paar kortkursusse gaan leer om hulself vlot in Afrikaans uit te druk. Die vraag is uiteindelik of teologiestudente so voorberei word vir ’n bediening in ’n tipiese Hervormde gemeente.

Voeg hierby die aktiwiteite van vakbonde en studenteorganisasies wat skade aanrig aan die infrastruktuur én status van universiteite, dan word dit duidelik waarom studente hulself dikwels onveilig voel op kampus en in universiteitskoshuise, en aan studenteaktiwiteite onttrek. Tans is daar seker maar ongeveer 10% van UP se studente wat uit huis uit Afrikaans is, en Hervormde lidmate vind hulself toenemend ontuis in hierdie omgewing. Waar baie Afrikaanse studente reeds die afgelope paar jaar by voorkeur na die Universiteit van Stellenbosch of Noordwes-Universiteit gaan, is dit om verskeie redes nie vir die Hervormde Kerk se teologiestudente ’n opsie nie.

Mense vra al meer waarom die Hervormde Kerk nie haar predikante aan die private hoëronderwysinstansie Akademia laat oplei nie. Akademia het egter nie tans ’n geakkrediteerde graad in teologie nie, en beskik (nog) nie oor dieselfde infrastruktuur en netwerke as die gevestigde staatsuniversiteite nie. Akademia het die Afrikaanse kerke genooi om hulle te adviseer oor die samestelling van ’n graad met die oog op teologiestudie, en die Hervormde Kerk het hierdie uitnodiging aanvaar. Maar dit is ’n lang proses om ’n kursus geakkrediteer te kry, en die klein studentegetalle van die Afrikaanse kerke en die hoë koste aan die opleiding hou op sigself groot uitdagings in.

Die uitdagings vir die Hervormde Kerk se teologiese opleiding is dus geweldig groot. Gemeentes sal die demografiese werklikhede in die oë moet kyk en kragte moet saamsnoer om nie ons kragte en geld op die instandhouding van onnodige infrastruktuur te vermors nie. Gemeentes moet vooruitkyk om te verseker dat daar lewensvatbare werkruimtes vir predikante is, en die Kerk moet vooruit beplan om te verseker dat daar predikante sal wees wat in die gemeentes kan werk. Die Kerk moet die kosbare geleenthede wat die vennootskap met UP ons bied, benut. Maar die Kerk moet ook die HTK benut en uitbou, en die hand wat Akademia na ons uitsteek, aanneem. En ons almal moet jong lidmate aanmoedig om teologie te kom studeer en hulle as predikante van die Kerk te bekwaam.

 

(Hierdie teks is ’n persoonlike meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap