Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek dat ons in ’n uiters gefragmenteerde samelewing woon. Tipies in die gees van die postmodernisme het feitlik elkeen ’n eie siening oor alles wat rondom ons gebeur.

’n Mens het dit in 2020 en 2021 baie akuut ervaar in die meningsverskille wat onder mense, trouens baie maal onder gesinslede, bestaan het oor Covid-19, inentings en byvoorbeeld die gebruik of nie van dieremedisyne as voorkoming van Covid-19.

Hierdie fragmentasie beleef ons ook in mense se siening van politieke en sosio-ekonomiese vraagstukke in ons land. Ons hoor iets daarvan in mense se menings oor die oorlog in Oekraïne.

Dit kan nie anders nie, want die postmodernistiese tydgees wat die optrede en denke van mense bepaal, laat elkeen eintlik met sy of haar eie idee van die waarheid. Ek weet daar is vele definisies van postmodernisme, maar ek deel hierdie eenvoudige definisie om u te help om beter begrip te kry vir dié tydgees en denke. Postmodernisme fokus op die werklikheid van die individu en ontken stellings wat beweer dat die werklikheid waar is vir alle mense. ’n Voorbeeld van hoe postmodernisme dink, is die idee dat nie alle mense diefstal as negatief sal sien nie...

Dit is daarom nie vir my vreemd nie dat daar ook oor die feit dat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering besluit het om teen die uitspraak van die hof oor die kerkgeboue te appelleer, soveel uiteenlopende reaksies is. Dit is te verstane, en dit is ook goed so dat ons van mekaar mag verskil. Ons besef dat daar baie menings is en dat almal glo dat hul mening die grootste deel van die waarheid beet het. Ons moet egter net altyd seker maak dat ons werklik al die feite oor die saak in gedagte hou.

Verder moet ons ook nie toelaat dat ons eie ideale en voor- of afkeure ons siening van wat aan die gebeur is, vertroebel nie. Soos ek in my redaksionele kommentaar in die April-uitgawe geskryf het, herhaal ek dat net die tyd sal leer of die hantering van die uitspraak ’n goeie of ’n slegte ding is. Ek glo die geheim lê daarin dat ons, selfs as ons van mekaar verskil, selfs tot die mate dat ons mag dink dat net ons die waarheid beet het, dit altyd in ’n gees sal doen wat pas by die geloof wat ons bely.

Verder sal die Kommissie van die AKV ook moet verseker dat daar goeie kommunikasie na die gemeentes is sodat almal kan verstaan hoekom sekere besluite geneem word. Dit bly egter my bede dat hierdie donker deel van ons Kerk se geskiedenis spoedig agter ons sal wees sodat ons net weer kerk van Christus kan wees, sonder die bagasie wat kerkskeuring en hofsake op ons plaas.

Een van my voorgangers het altyd gesê dat Die Hervormer soos ’n buffetete is. Elkeen gaan na die opskeptafel met sy of haar eie voor- en afkeure. Almal skep waarvan hulle hou. Hierdie uitgawe is weer ’n goeie voorbeeld van Die Hervormer as ’n buffetete.

Op die voorblad het ons die artikel van prof Ernest van Eck oor vrede. Ons het eintlik die artikel vir die April-uitgawe beplan toe die oorlog in Oekraïne uiters aktueel was. Die boodskap van die artikel bly egter aktueel. Wanneer hy oor vrede praat, wys prof Van Eck ons op ons verstaan van bid vir vrede, en help hy ons om te besef dat ons ook ’n verantwoordelikheid het. Sy slotparagraaf het my in die besonder getref; hy skryf: Natuurlik terwyl ons bid vir ander, vir mekaar, vir vrede, bid dat die koninkryk sigbaar sal word waar ons woon en werk, waar ons besig is, waar ons lewe. Maar dan moet ons onthou: Om te bid, is ’n ernstige saak, dit vra iets van jou. Om te bid vir vrede, is om jou aan te meld om in vrede te gaan lewe, om vrede te soek, in alle omstandighede. Hierdie ingesteldheid moet in alles wat ons doen ons manier van optree wees.

Ons het dr Sanrie de Beer gevra om haar siening van die debat oor Kindernagmaal, wat weer hierdie jaar by die AKV gevoer gaan word, met ons te deel. En weer eens sal daar mense wees wat met haar beskouing op bladsy 3 gaan saamstem en ook ander wat gaan verskil. Gaan lees gerus die ander studiestukke oor hierdie saak wat op die webblad van die Kerk beskikbaar is. Oom Gert van Staden, wat ons wyksouderling was in Groot Marico, het eenmaal toe daar nuwe dinge by die AKV besluit is, vir my vertel dat wyle ds At Mc Donald in sy wysheid eenmaal op ’n kerkraadsvergadering in Zeerust sou gesê het dat nie alle ou dinge goed is nie, en dat ook nie alle nuwe dinge sleg is nie. Ek dink die tyd is reg dat daar weer oor die meriete van Kindernagmaal gepraat moet word.

Nog ’n artikel wat vir my uitstaan, is dié van dr Daan van Wyk (jr): Nie goeie mense nie, maar gelowige mense word gered. Aan die hand van die gebruik om die lewe van ’n gestorwene te gedenk en te wys op al die goeie goed wat die persoon sou gedoen het, wys hy ons op die feit dat die redding nie deur ons dade kom nie, maar van God.

Verder is daar weer, soos ons meer onlangse gebruik is, op die middelblad pragtige foto’s wat onder meer die grootheid van God se skepping vier – met dank aan dr Thinus van Staden, leraar in Gemeente Montana.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap