Prof Andries van Aarde se meesterwerk (magnum opus), Jesus, Paul and Matthew, Volume One: Discontinuity in Content, Continuity in Substance; en Jesus, Paul and Matthew, Volume Two: To and From Jerusalem, is onlangs deur Cambridge gepubliseer.

Prof Andries van Aarde het geen bekendstelling in die Nederduitsch Hervormde Kerk nodig nie, maar hy is ook ’n wêreldgerekende Nuwe Testamentikus deur sy akademiese arbeid oor jare, met besondere verwysing na sy Fatherless in Galilee in 2001 wat in Suid-Afrika aandag getrek het. Hy is nie ’n stem roepende in die woestyn nie, maar veral met betrekking tot navorsing oor die historiese Jesus ’n gespreksgenoot in die wêreldwye teologiese debat wat oor die onderwerp gevoer is en gevoer word.

In opdrag van Cambridge Scholars Publishing publiseer prof Van Aarde twee volumes wat met ’n wye verskeidenheid temas die klem terugplaas op God se wysheid, geregtigheid en liefde soos hy dit terugvind in die lewe van die historiese Jesus, die apostel Paulus en Matteus. Hy sluit die volumes af met sy eie lewensverhaal en vertel van die pyn en vreugde wat die vashou aan Goddelike wysheid meebring.

Die mening word hiermee geboekstaaf dat die Kerk met dank en waardering kennis kan neem van die lewenswerk van prof Van Aarde wat in dié publikasie ter sprake kom. Die Kerk het oor jare steeds kritiese teologie bedryf en teoloë van die Kerk toegelaat om hul navorsing te publiseer vir kennisname.

Die Hervormer stel prof Van Aarde graag self verder aan die woord.

Agtergrond

Cambridge Scholars Publishing (CSP) het my versoek om in boekformaat aan te toon hoe my lewensreis my siening van God, Jesus en die Bybel mekaar wedersyds beïnvloed het. CSP het die oorgang vanaf ’n pre-kritiese, meer fundamentalistiese siening na ’n wetenskaplike en kritiese teologie in gedagte gehad.

Fundamentalisme was egter nooit deel van my lewe nie. Dit is eerder my konstante kritiese teologie wat ’n eksistensiële impak op my lewe in die Kerk uitgeoefen het. Hierdie persoonlike lewensverhaal vorm die laaste hoofstuk van die tweede volume.

Reeds nou vir bykans 30 jaar word my denke soos dit neerslag gevind het in talryke publikasies, in sommige kringe in Suid-Afrika as omstrede gebrandmerk. Vir baie jare is my “sosiale teologie” en Bybelverstaan vir sommige te ónortodoks en vir ander selfs as “dwaalleer” bestempel. Ek het egter nog altyd volgehou dat ek nie van die kern van die “ortodoksie” (“regte leer”) afwyk nie.

Die tweede laaste hoofstuk van Volume Twee sentreer rondom my siening van wat die ortodokse belydenis leer en hoe dit by die Bybel aansluit. My kritiese teologie het wel die openheid om ryklik te put uit insigte van enersyds nie-Bybelse getuienis en andersyds aweregse geloofsoortuigings. Ek bly ook van oortuiging dat die teenstand teen my in die eerste plek nie op teologiese gronde berus het nie, maar soos in die geval van prof Albert Geyser in die 1960’s, eerder polities gedrewe is. Die rede daarvoor is dat my oortuiging van “radikale inklusiwiteit” kritiek uitoefen op Afrikaner-nasionalisme, manlike dominansie, kerklik-institusionele magsug, homofobie jeens seksuele minderhede, onderwaardering van kinders met behulp van kerklike sanksie, rassisme en populistiese selfhandhawing met gepaardgaande louheid jeens die ekumene.

Daar is besluit om op omtrent 60 relevante publikasies vanuit my wetenskaplike oeuvre te fokus. Die verwerking en opdatering van hierdie seleksie publikasies het gelei tot die verskyning van twee omvattende boekdele elk van meer as 400 bladsye. Die titels van hierdie volumes is: Jesus, Paul and Matthew, Volume 1: Discontinuity in Content, Continuity in Substance; en Jesus, Paul and Matthew, Volume 2: To and From Jerusalem.

Veelvormigheid

Albei volumes begin met ’n beskrywing van die veelkleurigheid en veelvormigheid van die vroeë Christendom. Ek wys op die rol wat die Gnostiek en die Ebioniete gespeel het. Die eerste groep het op grond van wat ek “bio-politiek” noem, aversie getoon teen ’n godsdienstigheid waar die mens se eenheid met God in aardsheid en wêreldsheid (kosmies) verwesenlik. God se verlossing kan hiervolgens glad nie sin maak van die geloof dat God in en deur Jesus van Nasaret mens soos ander mense geword het nie. Wêreldontsnapping is eerder die antwoord. Die Ebioniete het weer op hul beurt geglo dat egte godsdienstigheid binne die biologiese verwantskappe van wêreldlinge ware sinvolheid bied.

Albei hierdie geloofsoortuigings het vroeg in die kerkgeskiedenis verdwyn, maar elemente daarvan kom in latere tye weer onverwags aan die orde. Huidige globalisering en interreligieuse affiniteite kweek “gnostiese” affiniteit. Die opkoms van die “nasiestaat” en die huidige tydgees van populisme en ander faktore is daarvoor verantwoordelik dat nasionalismes, rassisme en geweld teen minderhede, vroue en kinders in “bio-politiek” herlewe.

Ek verwys na die eintlike stroming as die “Nuwe-Testamentiese Christenheid” en is ook van oortuiging dat die vroegste ortodoksie hierby aansluiting vind. Die vroegste getuienisse van hierdie eintlike stroming vertoon groot verskeidenheid in die wyse waarop ’n gelowige mens se bewussyn van God op grond van “registers van herinneringe” en mondelinge oorlewerings uitdrukking vind in geskrifte wat dikwels evolusionêr van mekaar, in mekaar en los van mekaar ontwikkel het. Die kern het egter dieselfde gebly en dit vertoon soos ’n ellips twee brandpunte.

Die een pool is die rol wat die kruisiging en opstanding van Jesus vervul het. Die ander pool is die getuienis dat Jesus “een in wese” met God is in die sin dat die Goddelike wysheid die historiese Jesus deurdring het soos hitte ’n rooiwarm stuk yster deurgloei. Die Jesus-volgeling deel hierdie bewussyn van God. Dit word in die teologie – reeds vroeg in die ortodoksie – teōsis genoem. Hierdie “wysheid” het in Jesus se lewe in goedheid en deernis uitdrukking gevind. Dieselfde internalisering van Goddelike wysheid in die lewe van Jesus-volgelinge – tot vandag toe – lei tot ’n lewe wat getuig van radikale inklusiwiteit. Dit verteenwoordig ’n etos wat gegrond is in God se “geregtigheid” – veral teenoor gemarginaliseerdes in die samelewing. Jesus se koninkryksetiek getuig hiervan. By Paulus vind dit uitdrukking in sy “nuwe skepping”-teologie en by Matteus in die Immanuel-motief. In die vroeë kerk vind dit in Athanasius se “ortodokse” leer uitdrukking in die “een in wese Triniteit”.

Reeds vroeg in die geskiedenis van die teologie het die Nederlander Willem van Manen, en sy latere volgelinge, geoordeel dat daar nooit so ’n historiese figuur soos Jesus van Nasaret was nie. Paulus sou volgens hulle die “stigter” van die Christelike kerk gewees het. Ek het oor die jare beklemtoon, soos onder andere die teoloë Friedrich Schleiermacher en Rudolf Bultmann, dat die uitdrukking van die wysheid van God ’n historiese feitelikheid as basis het, naamlik dat Jesus van Nasaret werklik ’n historiese figuur was en op grond van sy subversiewe verkondiging en uitleef van sy koninkryksetiek gekruisig is.

Friedrich Nietzsche en Sigmund Freud, onder andere, het van die Christendom afskeid geneem omdat die skerp verskille in die Nuwe Testament, veral tussen die “onskuldige” Jesus en die “skuldige” Paulus, volgens hulle die geloofwaardigheid van Christene se spiritualiteit ondermyn. Matteus staan weer vierkantig teenoor Paulus se “wetvrye” verkondiging, en Matteus eis gehoorsaamheid aan Israel se wette tot selfs elke jota en tittel.

My argument is dat, alhoewel Jesus enersyds nie self die “stigter” van die “kerk” was nie en eerder die waardes van God se koninkryk vergestalt het, die begrip “koninkryk” ook nie deur Jesus self “uitgedink” is nie. Dit is ’n erfenis van veral die Stoïsynse filosoof Epictetus, ’n gestremde wat eers ’n slaaf in keiser Nero se huishouding was, en wat dit weer van sy mentor Musonius Rufus, bekend as die “Romeinse Sokrates”, oorgeneem het. Die begrip “koninkryk van God” is dus die alternatief vir Aristoteles se stadstaat-ideologie. Hierdie ideologie is gebaseer op hiërargie en arrogansie en verdrukking van die geringes van die samelewing.

Die etiek van God se koninkryk sluit nie uit nie, maar skep ruimte vir kinders, slawe, vroue, verarmdes en nederiges. Jesus se etos is van begin tot einde die beliggaming en uitlewing van hierdie etiek wat by Paulus én Matteus as “God se geregtigheid” bekendstaan. Hierdie etiek is die opgaaf aan die kerk om dit uit te lewe. Die kerk vorm ’n familie in metaforiese sin. In God se huishouding is bio-politiek onbelangrik en het almal sonder aansien des persoons – herkoms, geslagtelikheid of ouderdom – direkte toegang to God.

Waar die stand van Pauliniese navorsing voor en ná die 16de-eeuse Kerkhervorming neergekom het op die oortuiging dat die “geregtigheid van God” die kern van Paulus se denke is, is ek van oordeel dat Luther se beklemtoning van die begrip “geregtigheid” eintlik ’n etiese oortuiging is. Paulus behoort so verstaan te word dat die mens wat “geregverdig” is, lewe op grond van God se geregtigheid. Die uitleef van hierdie wysheid van God het Jesus lynreg teenoor die konvensionele leer van die Jerusalemse tempelowerhede en teenoor die Romeinse imperiale mag (gebaseer op die hiërargiese “stadstaat”-ideologie) te staan gebring.

Hiervoor is Jesus op brutale wyse gekruisig. Sy dood is egter getuienis van sy lewe op grond van God se geregtigheid. Paulus bou sy teologie op die kruisiging en opstanding van Jesus. Paulus vra van die mens om die “ou lewe” af te sterf en as ’n “nuwe skepsel” saam met Jesus “op te staan” en te lewe asof daar geen hegemonie en hiërargie jeens vreemdelinge van ander nasionaliteite en mense van ander geslagtelikheid bestaan nie. Ook hierdie denke oor radikale inklusiwiteit is gegrond in Stoïsynse filosofie.

Dieselfde kern word by Matteus se deernisvolle gesindheid – weer eens gegrond in die gangbare Stoïsynse etiek – teenoor geringes, biologiese minderhede, kinders en armes gevind. Matteus is derhalwe nie die een wat verskil en afwyk van wat Paulus oor God se geregtigheid verkondig nie. Dit is daardie skrywers in die Nuwe Testament wat opportunisties Paulus se naam gebruik, maar met hul konvensionele kodes – geleen uit die heteronormatiewe konvensies van die hiëragiese samelewing – die weg baan vir ’n “nuwe normaal” wat opnuut lei tot onderdanigheid van vroue en slawe aan sogenaamde meesters.

Hierdie afwyking en vervreemding van die historiese Jesus se koninkryksetiek word, myns insiens, skynbaar maar moeilik in kerk en wêreld agtergelaat. Vandag vind dit weer opnuut ’n bedding om in te groei en uitwasse voort te bring soos wat nasionalismes wêreldwyd herontwaak en eksklusiwistiese populisme (verberg agter elitisme, manlike dominansie en hegemoniese diktatuur) in politiek en kerk nuwe gestaltes kry.

In my twee Cambridge-volumes wou ek met ’n wye verskeidenheid temas die klem terugbring na God se wysheid, geregtigheid en liefde. Ek vind hierdie wysheid in die lewe van die historiese Jesus, van die apostel Paulus en van die rabbi Matteus. My lewensbydrae word afgesluit met my persoonlike reis in die Kerk waarin ek vertel van die pyn en vreugde wat die vashou aan hierdie Goddelike wysheid meebring.

[Gaan na www.cambridgescholars.com om die boeke te bestel]

(Dr Barry van Wyk is emerituspredikant en leraar in Waterberg en Zoutpansberg; prof Andries van Aarde is emeritusprofessor en senior navorser in die kantoor van die dekaan van die Fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit van Pretoria, asook redakteur van die HTS Teologiese Studies en hoofredakteur van AOSIS Scholarly Books)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap