Aan die begin van 2024, met reeds amper een kwart van die 21ste eeu agter die rug, is daar oorgenoeg rede om te wanhoop.
Suid-Afrika steier onder die onbevoegdheid van ’n regering sonder enige morele kompas. Die allerverskriklikste oorloë woed in Oekraïne en die Midde-Ooste, met geen hoop op ’n spoedige einde nie. In Suid-Afrika is meer mense in die vorige jaar vermoor as wat in enige van die twee oorloë in Oekraïne of Palestina gesterf het. Op talle plekke in Afrika woed laevlakburgeroorloë met militante groepe wat chaos en dood saai. Die aarde het waarskynlik die warmste jaar in ons opgetekende geskiedenis agter die rug, en daar is nog geen teken dat owerhede en industrieë internasionaal genoegsaam daarop ag slaan nie.
Teen hierdie agtergrond kies ’n prominente progressiewe publikasie om vlak na Nuwejaar ’n ou artikel van nege jaar gelede weer op te warm – ’n artikel waarin ’n bemarkings-ghoeroe met groot bravade verklaar dat die wêreld sonder godsdiens beter daaraan toe sou wees. Hy gee dan vyf redes waarom mense nie behoort te glo nie:
- Daar is geen bewys dat God bestaan nie.
- Dit is onlogies om te redeneer dat God moet bestaan sodat alles sin maak.
- Die geweldige lyding van mens en dier beteken dat God nie bestaan nie, of ten beste dat Hy ’n sadistiese maniak is.
- Mense het God nie nodig nie – nie as morele kompas nie, en ook nie vir hul daaglikse bestaan nie.
- Die lewe is beter sonder God en die beperkings wat godsdiens mense oplê.
Die outeur verweer hom by voorbaat deur enersyds te stel dat sy opmerkings vir alle godsdienste geld en andersyds dat hy nie verwag dat sy argumente “akademiese filosowe” tevrede sal stel nie.
Daarmee ontbloot hy ironies genoeg sy swak argumente. Sy eerste twee stellings is, filosofies gesproke, eenvoudig positivisties – met ander woorde, dit redeneer dat die hele werklikheid meetbaar, rasioneel bewysbaar en objektief is. En dit is eenvoudig nie waar nie, sal feitlik alle geleerde mense in die 21ste eeu sê. Sy derde stelling was oor die eeue die onderwerp van duisende diepsinnige geskrifte en boeke van gelowiges en ongelowiges wat worstel met pyn en onreg, en kan op geen manier as getuienis vir of teen die bestaan van God gebruik word nie. Maar in my ervaring ontbloot die skrywer die kern van sy opstand teen geloof in die twee laaste stellings: die weiering van ’n mens om homself aan enige gesag ondergeskik te stel. Daar kan geen God bestaan nie, want in wese wil ek self god wees.
Tóg wil ek nie in hierdie artikel die agenda van ’n opstandige ongelowige volg nie. Ek wil eerder ons gedagtes rig op alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien (Fil 4: 8, AFR2020). Ek wil die lig laat val op die mooi van die lewe.
Ek dink daarom eerstens aan die skone kunste – beeldende kuns, bewegende kuns soos gimnastiek of dans, drama en film, letterkunde, en vir my veral musiek. Al die kunste spruit voort uit die skepping en sy skepsels, en daar is niks logies, bewysbaar of voorspelbaar nie. Trouens, in teenstelling met die resultaat van algoritmes (soos ChatGPT) of siellose geprogrammeerde telefoonmusiek is die beste kuns juis die kuns wat ’n mens verras, onverhoeds betrap en emosioneel roer. Die dramatiese opwelling en naakte gebrokenheid wat irrasioneel in woord, klank of beeld tot uiting kom, bring ’n mens tot selfkennis, maak ons sensitief en bring ons daartoe om die goeie na te streef. In die universiteitskoor het ons destyds ’n liedjie gesing (deur prof Petru Gräbe uit Duits vertaal):
Waar gesing word, hoef jy niks te vrees nie,
want bedrieërs kan nie note lees nie…
Dit bring my tweedens by geloof, eweneens iets wat nie uit die logiese of voorspelbare voortspruit nie. Nee, die Bybel vertel baie vroeg reeds (Gen 12) dat die Here Abraham roep om te trek – wat is logies aan die roeping of Abraham se reaksie? Eintlik is die hele Bybel vol van verhale wat juis die verwagte, voorspelbare op sy kop keer wanneer mense in geloof op die roepstem van God antwoord. Ja, selfs die hoogs geskoolde Fariseër, Saulus, se sekerhede verkrummel wanneer hy die Here Jesus op die pad na Damaskus teenkom. ’n Mens kan maar net Paulus se briewe lees om onder die indruk te kom van ’n hoogs intelligente mens met ’n uitsonderlike vermoë om rasioneel te redeneer. En daarom stel hy dit dalk onverbeterlik in 1 Korintiërs 1: 20-24:
Waar is die wyse man, waar die skrifkenner, waar die redevoerder van hierdie wêreld? Het God dan nie die wysheid van die wêreld dwaasheid laat word nie? Trouens, deur die wysheid van God het die wêreld Hom nie deur hulle wysheid leer ken nie. God het verkies om hulle wat glo, te verlos deur die dwaasheid van die verkondiging. Die Jode vra tekens en die Grieke soek wysheid. Ons egter, verkondig ’n gekruisigde Christus. Vir die Jode is dit ’n struikelblok en vir die nie-Jode ’n dwaasheid. Maar vir diegene wat geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God.
Ja, godsdienste en godsdienstige mense het deur die eeue die verskriklikste dinge in die naam van geloof gepleeg. Maar dit bewys nie dat God nie bestaan nie; dit bewys die waarheid van die sondeval. En waarom geen mens ooit soveel vertroue in sy eie oordeelsvermoë behoort te stel nie.
Derdens wil ek die lig laat val op hoop. Hoop bestaan juis in neerdrukkende omstandighede; bevoorregte mense wat baai in oorvloed en sukses hoop nie op beter dae nie. Nee, die feit dat ’n mens steeds kan hoop te midde van die diepste beproewings, is ’n Goddelike gawe. Hoop het gelowige Judeërs in ballingskap laat vashou aan die onwaarskynlike belofte van ’n terugkeer na hul land. Hoop het die volgelinge van die Here Jesus in die eerste eeue van ons Christelike jaartelling laat getrou bly aan hul belydenis, al is hulle bespot, sosiaal uitgeskuif en wreed vervolg. Hoop stel ’n mens in staat om vas te hou aan God se beloftes al spreek alles om jou daarteen. Hoop stel ’n gelowige in staat om te inspireer wanneer ander lankal in ’n donker put van moedeloosheid versink het. Daarom bid die apostel Paulus in Romeine 15: 13 vir die gemeente in Rome:
Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees.
Dit bring ons ten slotte by die allerbeste gawe, die liefde. Ware liefde, wat nie uit logika voortspruit of op jouself gerig is nie. Liefde wat blyk uit geduld, vergifnis, vriendelikheid, deernis en barmhartigheid. Die teendeel van mense se natuurlike neiging tot beterweterigheid, verwaandheid, selfsug, jaloesie, wrokkigheid, aggressie en onreg. Liefde wat alle kwaad bedek en alles oorkom. Onvoorwaardelike liefde, soos Jesus Christus ons geleer het. Telkens wanneer ek sulke liefde in mense se optrede raaksien, voel ek God werk.
Daarom glo ek. Nie omdat ek God met my menslike verstand kan vasvat nie. Maar omdat Hy my aanraak met die mooie in die lewe. En my beweeg om beter te word as wat ek is.
(Dr Wouter van Wyk is sekretaris van die Kommissie van die AKV)
