Die mensdom vra al vir millennia die vraag: Waarom is daar lyding in die wêreld? Die term teodisee word gebruik vir die probleem van lyding op teologiese vlak, en verdedig die feit dat God goed en almagtig is, al is daar lyding in die wêreld.

Tradisionele teodisee bied primêr ’n verantwoording vir die probleem van lyding soos vanuit die Verligting en soos verwoord deur David Hume. Hy het aangevoer dat indien God lyding wil verhoed maar dit nie kan doen nie, dan is God onmagtig. Indien God lyding kan verhoed maar dit nie wil doen nie, dan is God kwaadwillig. Indien God lyding wil verhoed en dit kan verhoed, waarom is daar dan lyding?

Tradisionele teodisee se antwoord op die probleem van lyding sluit onder andere die volgende tipiese reaksies in: Sommige mense sal getuig dat hulle vanuit moeilike omstandighede iets geleer het en beter persone geword het (’n tipiese sielvormende teodisee). Ander sal getuig dat hul belewing van lyding hulle meer bewus gemaak het van die goedheid en skoonheid van die lewe (’n tipiese kosmiese skoonheidsteodisee), terwyl ander weer sal getuig dat hulle te midde van lyding alleen kon vertrou dat God in totale beheer van die lewe is (’n teodisee onderhewig aan God se wil).

Selfs in die Bybel vind ons verskillende benaderings tot die probleem van lyding. Die boek Job is ’n voorbeeld van ’n sielvormende teodisee waar ’n onskuldige mens lyding beleef om sy geloof te toets. In dieselfde boek vind ons ook ander benaderings, soos in Job 34-42 wat aanvoer dat ’n mens nie werklik die kapasiteit het om God te bevraagteken nie (’n teodisee onderhewig aan God se wil).

Die profeet Habakuk wou weet waarom die regverdiges vergaan, maar die onregverdiges floreer. Die antwoord wat God vir Habakuk gee, impliseer dat die oplossing vir die probleem van lyding nog moet kom: Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe (Hab 2: 3, AFR33/53). Laasgenoemde maak dit verdag indien enige teodiseeteorie ’n definitiewe oplossing vir die probleem van lyding wil bied.

Tradisionele teodisee versoen relatief maklik ’n God van liefde met lyding in die wêreld, en hou voor om God se aksies en doel te ken in hul verdediging van God. Daar bestaan dus ’n groeiende besef dat wanneer tradisionele teodisee poog om God te regverdig te midde van lyding, juis die teendeel plaasvind: Lyding word geregverdig in die teenwoordigheid van God. Tradisionele teodisee voer inderwaarheid maklik ’n oordrewe argument vir die positiewe rol wat lyding speel.

In sielvormende teodisee is dit moontlik om te sê dat God lyding toegelaat het en dat ’n mens se belewenis van lyding jou meer volwasse gemaak het – ’n observasie wat ná die belewenis van lyding gemaak is (a posteriori). Dit is egter totaal anders om in die algemeen, voor en gedurende die belewenis van lyding (a priori), na die rede waarom God lyding toelaat te verwys as die doel vir menslike volwassenheid. Dit stel voor dat God goeie rede vir lyding het en dat dit selfs ’n konstruktiewe rol in die skepping het. In plaas daarvan dat God in die lig van kwaad regverdig is, word die kwaad in die lig van God geregverdig, want dit stel voor dat die mens nie sonder lyding volwasse kan word nie.

In die kosmiese skoonheidsteodisee is dit moontlik om a posteriori te sê dat die belewenis van lyding wat God toelaat tot ’n groter waardering van die goeie en skoonheid in die lewe gelei het, maar dit is totaal anders om a priori te sê dat die teenwoordigheid van lyding ten doel het om die goedheid en skoonheid in die lewe te aksentueer – so asof dit nie waardeer kan word sonder lyding nie! Hierdie argumente van tradisionele teodisee stel lyding as ’n positiewe werklikheid voor en neem nie die destruktiewe realiteit van lyding ernstig genoeg op nie.

Die narratief van die Bybel beklemtoon die antitese tussen God en die kwaad, en selfs die uiterste waartoe God gegaan het met lyding. Die verbond en eksodus van Israel, die inkarnasie, kruis en opstanding van Jesus, asook die nuwe skepping, is sentrale momente in die Bybelse narratief wat ’n aaneenlopende stryd met die kwaad beklemtoon, maar tog betreklik min aandag in tradisionele teodisee geniet.

Teodiseeteorieë moet liewer fokus op ’n deelnemende spiritualiteit van omgee wat wegbeweeg van rasionaliteit na hegter relasionaliteit. Laasgenoemde fokus op teenwoordigheid te midde van lyding. Die probleem van lyding moet nie rasioneel benader word nie, maar relasioneel gekonfronteer word. Indien dit nie plaasvind nie, sal enige teodisee probleme ervaar – hoe lofwaardig die argumentatiewe vlak van die teodiseeteorieë ook al is.

’n Paradigmaskuif is dus nodig vanaf Wat sê ’n mens vir iemand wat ly? na Hoe kan ek medelye toon? Pogings wat lyding probeer rasionaliseer sonder om die realiteit van lyding ernstig op te neem, moet verwerp word. Lyding is tragies, pynlik en persoonlik en dit moet as sodanig erken word. Indien teodisee dit ignoreer, verloor dit sy relevansie om lyding te verduidelik.

*** In Deel 2 word bespreek hoe ’n alternatiewe teodiseeteorie daar uitsien – ’n benadering wat ek ’n immanensieteodisee noem. Die immanensieteodisee maak ruim gebruik van insigte vanuit panenteïsme en die sosiale Triniteit, en word gemodelleer op die Nuwe Testament se narratief van Jesus se passie en opstanding. Hiermee word ’n benadering voorgestel wat geensins al die fasette van lyding hanteer nie (indien só ’n taak enigsins moontlik sou wees), maar stel bloot ’n beter perspektief deur die lens van die kruis en opstanding voor wat ook die teologiese voordeel van die kern van die evangelie dra.

(Ds Rudi Janse van Rensburg is leraar in Gemeente Weltevreden tot einde Junie 2023, en daarna in Gemeente Swellendam;
hy is ook junior lektor in die Departement Hebreeus aan die Universiteit van die Vrystaat)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap