In Deel 1 van hierdie artikel is die probleem van tradisionele teodisee bespreek. Vervolgens word ’n alternatiewe teodiseeteorie bespreek – ’n benadering wat ek ’n immanensieteodisee noem. Die immanensieteodisee maak ruim gebruik van insigte vanuit panenteïsme en die sosiale Triniteit, en word gemodelleer op die Nuwe Testament se narratief van Jesus se passie en opstanding. Hiermee word ’n benadering voorgestel wat geensins al die fasette van lyding hanteer nie (indien só ’n taak enigsins moontlik sou wees), maar stel bloot ’n beter perspektief deur die lens van die kruis en opstanding voor wat ook die teologiese voordeel van die kern van die evangelie dra.

Panenteïsme is die siening dat alles in die goddelike opgeneem word, alhoewel God steeds meer as die wêreld is. Dit staan dus vir enige teologie wat die nabyheid en immanensie van God beklemtoon. Hierbenewens word verstaan dat die wese van God die heelal insluit en penetreer sodat elke deel in God bestaan, maar God se wese steeds meer as die heelal is – teenoor die teologiese skeeftrekking van panteïsme.

Panenteïsme beskou ’n tweeledige “in”: Alles is in God en God is in alles. Die “in” is nie bloot ruimtelik en logies nie, maar beskou ’n dialektiese relasie. Die sentrale metafoor in panenteïsme is die “in”-metafoor. Laasgenoemde moet nie bloot ruimtelik verstaan word nie, maar verder metafisies, religieus en misties as metafoor van ontologiese afhanklikheid en deelname. Die wêreld in God en God in die wêreld laat ’n kreatiewe spanning wat verby blote letterlike interpretasies gaan.

In kontras met klassieke filosofiese teologie waar God die wêreld transendeer, is die immanente God ten diepste ’n relasionele God en roep Hy gelowiges op om deel van die goddelike misterie te word deur liefde as roeping uit te leef. Dit hou noodwendig ’n teenwoordigheid en aktiewe betrokkenheid in die omstandighede van dié wat ly voor.

Daar kan nie oor God se betrokkenheid in lyding gepraat word sonder om tegelykertyd van die Trinitariese God te praat nie. ’n Mens raak bewus dat God ten diepste die Drie-enige God is deur God se relasie met die wêreld. God raak egter nie Trinitaries in die verhouding met die wêreld nie – God wás en ís die Drie-enige God voordat daar enige verhouding met die wêreld ter sprake is. Die Drie-enige God deel in ’n perichoretiese eenheid, wat verwys na die wedersydse inlewing van die drie Persone in die een goddelike Wese.

Perichorese is ’n dinamiese maar simmetriese geheel, in plaas van ’n asimmetriese, hiërargiese relasie. Perichoretiese lewe kan trouens nie gerealiseer word sonder al drie Persone nie. Binne die perichoretiese relasionaliteit het die Persone vryheid om lief te hê in gemeenskap. ’n Immanensieteodisee in navolging van die Trinitariese aspek van gelykheid, afhanklikheid en liefde, dien as maatstaf vir die relasie tussen mense wat met die realiteit van lyding gekonfronteer word, in ware menslike gemeenskap (koinonia) en deelname in die lewe van die Triniteit. Daarom is die Triniteit nie ’n intellektuele konsep wat bloot gebruik word in die toepassing van ’n immanensieteodisee nie, maar ten diepste ’n uitleef van die Trinitariese werklikheid – imago Trinitatis.

In die oorweging van die huidige en toekomstige status van lyding, is dit belangrik om te vra wat ’n mens met die probleem van lyding in die huidige belewenis daarvan maak in die lig van God se skynbare swye of afwesigheid. Dit beskou ten diepste die verband tussen lyding en God se verlossingsgeskiedenis – veral deur ’n Christologiese lens benader.

Die dood van Christus aan die kruis behoort die middelpunt van alle Christelike teologie te wees: Alle aannames oor God, skepping, sonde en dood het hul fokuspunt in die gekruisigde Christus. Die lyding en dood van Christus word deur die lens van die kruis beskou as ’n liefde waar God vrylik kies om vir die mensdom te ly. Hoe anders kan ’n God wat liefde is (vgl 1 Joh 4: 8) en die wêreld liefhet (vgl Joh 3: 16), passief wees in die lyding van die wêreld? Die geïnkarneerde God, Jesus Christus, weet wat dit beteken om te ly – fisiese pyn, twyfel, alleenheid, dreigende dood, geestelike afmatting, godverlatenheid en die dood self.

Die kruis van Goeie Vrydag is die dieptepunt van goddelike medelye waar God die Seun uiterste godverlatenheid met sy uitroep My God, my God, waarom het U My verlaat? (Mark 15: 34) ervaar. Gegewe Jesus se intieme verhouding met sy Vader, is sy uitroep aan die kruis ’n uitroep na die geregtigheid en getrouheid van God waar God sy goddelikheid, wat bevraagteken word in die verwerping en dood van sy Seun, moes wys. In essensie is Jesus se uitroep ’n teodisee-uitroep vir die Vader om uiteindelik sy geregtigheid duidelik te maak.

Sodra die kruis en die Drie-enige God saamgelees word, raak dit moontlik om die kruis te sien as ’n uitdrukking van die Seun se solidariteit met menslike lyding, waar Jesus se uitroep aan die kruis ’n gemeenskaplike uitroep is van mense wat die realiteit van lyding betreur: Ons God, ons God, waarom het U ons verlaat? Terwyl dit weinige vrae oor die probleem van lyding antwoord, impliseer dit dat God die uitroep van lydendes aanhoor soos die Vader ook die Seun se uitroep aangehoor het. ’n Teologie van die kruis, verstaan in terme van die Drie-enige God, erken die Seun se ervaring van verwerping deur sy Vader, asook die Vader se ervaring van die verlies van sy Seun.

Die opstanding van Christus is inderdaad God se protes teen sonde, lyding, geweld, dood en godverlatenheid. Dit is die kruis wat die Christelike hoop realisties maak, en nie ’n utopie nie. Hierdeur word eerlike omgang met die tragiek in die lewe gemaak. Dit is egter die opstanding wat die Christelike hoop beklemtoon in die oorwinning van lyding. Net soos die opstanding die gebeure van die kruis kontrasteer, só is die hoop van die opstanding in teenstelling met sonde, lyding en dood.

Die opstanding bring hoop vir die probleem van lyding, maar slegs in eskatologiese terme. Die eskatologiese realiteit bied ’n antwoord op die probleem van lyding, want dit dui op die finale slag en einde aan lyding, alhoewel dié realiteit alleen nog in hoop ’n werklikheid is. Juis op grond van lyding wat voortduur, is die probleem van lyding steeds aktueel as in die skadu van die kruis. Teenoor die tradisionele teodisee, moet die probleem van lyding aktueel bly juis omdat God en die kwaad nie versoen kan word nie. Dit is tereg soos ’n “oop wond” van die teologie en sal steeds só bly, juis omdat lyding steeds die “oop wond van die wêreld” is.

(Ds Rudi Janse van Rensburg is leraar in Gemeente Swellendam,
en junior lektor in die Departement Hebreeus aan die Universiteit van die Vrystaat)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap