Doen soos die Here vra

Die woord van die Here het tot Jona seun van Amittai gekom: “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.” Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en daar het hy ’n skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning Tarsis toe te gaan, weg van die Here af. (Jona 1: 1-3)

Die woord van die Here het ’n tweede keer tot Jona gekom: “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee.” Toe maak Jona klaar en gaan na Nineve toe soos die Here hom beveel het. Nineve was ’n baie groot stad: ’n mens het drie dae gevat om dit deur te stap. Jona het die stad ingegaan en ’n dag lank daar rondgestap en toe roep hy: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!” (Jona 3: 1-4)

God roep ons om met woord en daad
vir Hom te leef en werk.
Hy roep ons deur sy Woord en Gees
en maak van ons sy kerk.
Hy kies, bewaar en onderhou;
Hy inspireer en bou.
Geloof wat deur die liefde werk,
hou aan, bly groei, maak sterk.

God roep, en salf ons met sy Gees
tot koning en profeet;
tot priester, met ’n hart en hand
vir hul in nood en leed.
Hy leer ons om te werk en bid,
om berge te versit.
Hy wat vir ons die gawes gee,
maak ons vir diens gereed.

Ek hoor U roep; ek ken u stem;
ek luister na u woord.
Laat, Here, ons gehoorsaam wees;
U dien soos wat dit hoort.
Waar kan ’n groter vreugde wees,
o Vader, Seun en Gees?
Deur omgee en met uitreik, Heer,
gaan ons met blydskap voort.

(Attie van der Colf,
Gesang 524: 1-3, Liedboek van die Kerk)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap