Dra mekaar se laste
Broers, as iemand deur een of ander sonde oorval word, moet julle wat met die Gees vervul is, so iemand in ’n gees van sagmoedigheid reghelp; maar let op jouself, dat ook jy nie versoek word nie. Dra mekaar se laste, en vervul so die wet van Christus. As iemand werklik meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, bedrieg hy homself. Elkeen moet sy eie dade beoordeel. Dan sal hy trots kan wees slegs wat homself betref, en nie wat ’n ander persoon betref nie; want elkeen moet sy eie las dra. (Galasiërs 6: 1-5, AFR2020)
Ons Vader, neem ons hande en maak ons één.
Versterk U self die bande – gee ons u seën.
Bind ons in u genade aan U, o Heer,
en leer ons om met dade u Naam te eer.
Heer, wees vir ons ’n Vader wat sorg en sien.
Trek ons in Christus nader om U te dien.
Laat, Heer, u Gees ons voorgaan, laat Hy ons lei,
dat ons u Woord gehoorsaam – ons aan U wy.
Leer ons mekaar vergewe, mekaar vertrou.
Laat ons die hele lewe op liefde bou.
Laat heers oor ons u vrede, en bind ons saam.
Verhoor tog ons gebede in Jesus Naam.
(Andries Breytenbach,
Gesang 532: 1-3, Liedboek van die Kerk)
