Volg My!
Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie. Hy moet lewe soos iemand wat weet dat hy aan ’n kruis sal sterf. Dit is hoe hy My moet volg. Want as iemand homself wil red, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand sy lewe verloor omdat hy lief is vir My, dan sal hy sy lewe red. As jy alles in die wêreld kry maar jy verloor jou lewe, dan help dit jou niks. Hoeveel sal ’n mens betaal vir sy lewe?” (Matteus 16: 24-26, Die Bybel vir almal)
Aanskou die Heiland, sien die kruis –
die Hemelvors, verag, verguis.
Vir my het Hy Hom daar laat hang.
Hy leef, Hy sterf – in my belang.
Hy hang, van God en mens verlaat,
Hy seën waar ander spot en haat.
Hy bly verdra, vergeef, versoen –
in só ’n redder sal ek roem.
Vir al my skuld het Hy betaal;
vir my in helle-angs gedaal.
Sy kruis, sy liefde onbegrens,
ontsluit in my ’n nuwe mens.
Hom kan ek nou met vreugde dien
in ruimte deur sy kruis voorsien.
’n Liefde so volmaak en vry
eis alles, alles ook van my.
(Attie van der Colf,
Gesang 396: 1-4, Liedboek van die Kerk)
