Ons kniel hier voor U neer
Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader. (Filippense 2: 5-11, AFR1983)
Ons kniel hier aan u voete neer
en hoor die hemelkore.
Hul loof en prys en roem u eer
oor ons, eens so verlore.
U liefde is onpeilbaar groot,
ontsien nie om te ly nie.
Geen kruis stuit U, geen vloek, geen dood
om sondaars te bevry nie.
Die Lam wat vir ons sondes boet
oorwin die hel se magte.
Hy koop ons met sy dood, sy bloed,
uit duisende geslagte.
Tot priesters deur u bloed gewy,
is al ons skuld vergewe.
U maak ons konings, heel en vry,
om tot u eer te lewe.
(Izak de Villiers,
Gesang 390: 1-4, Liedboek van die Kerk)
