Hoe wonderbaar u Naam!
As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp: skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld, die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis. Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde! (Psalm 8: 4-10)
U Naam is wonderbaar op aarde, Here,
en verder weg, verby die verste sfere.
Hoe glansryk, Here, word u Naam vertel
deur alles in u hemelruim gestel.
Selfs kinders sing van wat U als gemaak het,
van wat u hande skeppend aangeraak het.
’n Suigeling kan as getuie sing
en so u vyande tot swye bring.
U hemel, Heer, is vol van wonderwerke.
Ek sien aan ster en maan u vingermerke.
Hoe is die mens dan tog u gunsteling,
net bietjie minder as ’n hemeling?
U vestig hom as koning hoog verhewe;
U stel hom aan oor alle soorte lewe.
Met eer en aansien het U hom gekroon
en alles onderwerp U aan sy troon.
U laat hom heers oor alles: diere, vee,
voëls in die lug, die visse van die see.
Daarvan getuig die hele aarde saam:
Hoe wonderbaar, o Here, is u Naam!
(TT Cloete, Psalm 8: 1-5, Liedboek van die Kerk)