My kinders steek goedig met my die draak oor my volslae skepsis oor die media. Ek vertrou geen media meer nie. (Danksy Freek en Jakkals.) Ek aanvaar niks as waar nie, nie eens meer wat ek voor my eie oë sien afspeel nie. Alles wat vir my opgedis word, is so betroubaar na aan die werklikheid soos ’n episode van Binnelanders. Ek kyk al na nuusbulletins met die verwagting om Tobie Cronjé of Liz Meiring daarin te sien. (Hoekom hulle en ander akteurs nog nie nadergehaak is om nuusberigte op te kikker nie, gaan my verstand te bowe. Ons almal weet al sogenaamde “nuus” is ’n storie. Beter akteurs sou dit net soveel te meer boeiend en vermaaklik kon maak; hulle is immers veel meer bedrewe met toneelspel.)

Vat nou maar die lyk in Oekraïne. Op ’n twiet staan ’n “verslaggewer” en vertel van ’n menseslagting in Oekraïne. Hy kyk na die kamera toe, sy rug gekeer op rye swart sakke waarin lyke lê. Agter hom beweeg meer kameramanne tussen die lyke deur om lekker nabyskote te kry.  Dit ruk, totdat een van die dooies toe mos opstaan. Wel, nou nie heeltemal tot op sy voete opstaan nie, hy trek net sy swart sak reg om knus om sy dooie liggaam te pas. Die dooie wil blykbaar nie terugkom lewe toe nie, hy wil net beter lyk, vir die kameras, want as ’n mens dood is, kan jy tog so onvleiend voorkom, mos. Gelukkig kry sommige ouens blykbaar darem die kans om na afsterwe nog so ’n bietjie beeld te poets. Dis so gerusstellend. My ouma sou teruggekom het om gou haar skottelgoed te kom was. Skoon skottelgoed was haar maatstaf vir ’n goeie vrou. En hoekom nou nie? Haar kombuis was haar trots. (In die film Cabaret sing Liza Minnelli met deernis van ’n vriendin wat the happiest corpse I’ve ever seen was. Dit moes regtig gebeur het. Liza sal nie jok nie. Maar aan die ander kant, wat het feite nou met ’n goeie storie uit te waai, nè?)

Nee, die duimsuiery is nie net staatspropaganda en oorlogstaktiek nie, die media lieg. Die media het agendas. Agter die agendas sit geld. Waarheid is teen die hoogste bod te koop. Pryse beloon geslaagdheid met dié agendas, sodat veertjies in die hoed oor goeie verslaggewing so waarheidsgerig is as wat die Oscars dit is.

Sies! Skaam julle!

Die joernalistiek het vir my alle geloofwaardigheid verloor.

My kinders sê my frustrasie spruit daaruit dat ek met een televisiekanaal grootgeword het, en alles wat die SAUK my vertel het, vir soetkoek gesluk het. Nou is daar talle mediaplatforms, sommige meer betroubaar as ander. Ek stry nie. My dogters is vreeslik slim, sien, slim genoeg om koring van kaf te kan skei, verseker hulle my. Maar ek, ek is seker nou al te oud om die gawe van onderskeiding te knie en te plooi en soos stopverf te gebruik om my wêreld te probeer heelmaak; my eie beterwete is ’n gans te harde klont om te brei. Die kinders kla ek moenie al wat ’n ding is, probeer “fix” nie. Ek verskil. Maar van hier waar ek nou die dinge sit en bekyk, lyk hul perspektief vir my ook maar na ’n hoek, ’n ander hoek as myne, toegegee, maar nietemin ook ’n hoek. Daar is baie hoeke. Hulle word vreeslik kwaad as ek so sê, daarom sê ek dit net waar hulle my nie kan hoor nie.

Die professionele media vererg hulle ook vir my. Verontwaardig beskuldig hulle nou weer Adamsgewys sosiale media vir al die snert wat in omloop is. Max du Preez het my probeer omhaal om nie meer mediaplatforms as sodanig te vertrou vir waarheid nie (behalwe nou sosiale media wat syns insiens per definisie al boos is), maar om individuele joernaliste op die naam te leer ken en op hul integriteit staat te maak. Dit klink vir my maar een en dieselfde as om uit te vis wie ek op Facebook en Twitter wil volg. Dit was seker ’n opsie toe ek nog bereid was om swaarverdiende geld op koerante uit te gee. Daardie skippie het lankal reeds geseil. Ek maak seker nog die fout om te glo professionele mense en gevestigde mediahuise het meer integriteit as hul amateur eweknieë op sosiale media. Toe nou nie, dink ek.

Ek weet, ek weet, Twitter daag nie by my op met die beste waarborg van waarheid nie, maar ironies genoeg, juis daarom verdra ek die banaliteit en uitgesprokenheid van twiete: Niemand daar verwag om geglo te word nie. Jy is daar om gal te braak en amok te maak. Om te skreeu, is soms goed vir jou, en glo my, ek het nodig om af te blaas. (Liza, weer in Cabaret, gaan staan onder ’n treinbrug en wag, en as die trein bo haar kop verbykom, skreeu sy, uit volle bors skreeu sy, geluidloos.)

Moenie vals wees nie.

Hou op met lieg.

Laas toe ek gekyk het, onthou ek nog so vaagweg, het daar naastenby so iets in die tien gebooie gestaan. Of het ek dit nou heeltemal mis?

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap