Voel jy permanent uitgeput, nie lus vir sosiale geleenthede nie, twyfel jy aan jouself, is jy onnodig geïrriteerd by jou huis en werkplek, of ly jy aan slaaploosheid? Dink jy soms Ek ken myself nie meer nie, maar bly steeds sê Ek is ok? As jy êrens Ja antwoord, is daar ’n moontlikheid dat jy aan uitbranding lei of stadigaan op pad is daarheen.
Dalk dink jy: Ag, hierdie artikel is nie vir my bedoel nie. Dink weer en lees tog, want uitbranding is ’n stadige proses en bekruip ’n mens lank voor jy dit besef. Uitbranding ontwikkel veral by persone wat dink dat hulle álles self kan doen, oormatig passievol is oor hul werk, altyd langer werk, meer doen en nie Nee kan sê nie. So verwaarloos hulle hulself, hul familie en hul vriende.
Wat is uitbranding?
Uitbranding is ’n negatiewe proses as gevolg van chroniese langtermynstres en -frustrasie wat uiteindelik lei tot uitputting (fisies en emosioneel), ontpersoonliking (afname in persoonlike prestasie), verlies aan empatie teenoor mense en kliënte, sinisme, en depressie en angs wanneer die persoon dit nie meer self kan verwerk nie.
Uitbranding kan by enige persoon in enige deel van die samelewing voorkom. Dit kom wel veral voor by die helpende/dienende beroepe soos verpleegsters, maatskaplike werkers, predikante en onderwysers, maar kan ook by ander beroepe voorkom, asook by studente met stresvolle studieverpligtinge. Dit kom ook voor by die moeder wat haar gestremde kind oppas en die werkende ma wat die huishouding, kinders en haar beroep gelyktydig moet hanteer.
Op 29 Mei 2019 berig Maroela Media dat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) uitbranding nou amptelik erken as ’n beroepsprobleem, en die sindroom is amptelik opgeneem in die WGO se handboek van mediese diagnoses wat gesondheidspraktisyns wêreldwyd lei.
Wanneer en hoekom begin uitbranding?
Dit kan reeds begin wanneer jy nog oorloop van idealistiese geesdrif vir jou werk/omstandighede. Jy doen hierdie taak met baie energie, ideale en ambisie. Druk (stressors) neem toe weens verskeie onverwagte redes, en jy moet hierdie stressors verwerk en hanteer. Jy begin jouself verwaarloos, en skielik kan jy nie al jou doelwitte bereik nie. Wanneer jou ambisie en energie nie meer realisties is nie, moet die waarskuwingsklokkies begin lui! Jou idealisme vervaag en onproduktiwiteit, angs en depressiwiteit begin ontstaan.
Watter omstandighede maak my ’n kandidaat?
- Blootstelling aan meervoudige, langdurige en voortgesette stressors. Die veeleisende en onverbiddelike aard van jou omstandighede, tesame met ’n gebrek aan hulpbronne en ondersteuning, en jou ignorering van waarskuwingstekens, maak jou ’n perfekte kandidaat.
- Spesifieke persoonlikheidseienskappe. Persone met ’n lae selfevaluering is byvoorbeeld meer vatbaar vir uitbranding. Hulle sien werkopdragte as bedreigend/oorweldigend in plaas van as haalbare uitdagings, en hulle twyfel aan hulself en hul vermoëns. Aan die ander kant loop perfeksioniste ook gevaar, want hulle stel oormatige hoë prestasiestandaarde vir hulself wat hulle dan nie kan bereik nie, en wat lei tot ’n gevoel van verminderde persoonlike prestasie.
- Suid-Afrika se ekonomiese klimaat en minder werkgeleenthede veroorsaak ook stres.
- Uitdagende werkomstandighede, soos interpersoonlike en werkverhoudinge wat verander weens die groter verskeidenheid kulture en godsdienste wat saamwerk. Daar is ook meer vroue in bestuursposte, en die samelewing moet nog gewoond raak daaraan; die vroue voel hulle moet hulself bewys. Daarby veroorsaak besnoeiings en samesmeltings by maatskappye spanning; eise word gestel vir harder werk, meer tyd insit, meer moeite doen en ekstra vaardighede. Daar is dikwels ook minder geleenthede vir bevordering by die werkplek. Werknemers kan ook voel dat werkgewers net eise stel, en hulle ervaar dan ondankbaarheid en ontevredenheid van die werkgewer.
Ervaar jy van die volgende simptome?
- Fisiek: Chroniese moegheid, slapeloosheid, afname in konsentrasievermoë, gewigsverandering (toename of verlies) en nagmerries. As gevolg van uitputting verswak jou immuunstelsel en is jy makliker vatbaar vir infeksies soos verkoues en griep. Jy ontwikkel ook allerhande siektetoestande soos hartkloppings, kortasemigheid, floutes en hoofpyn.
- Emosioneel: Oormatige geïrriteerdheid wat later woede-uitbarstings word, verveeldheid, pessimisme, onnodige en oormatige sinisme, buierigheid, jy verloor jou humorsin (lewensgenot), voel hartseer, alleen, ’n bietjie hopeloos, onbevoeg, waardeloos en later selfs depressief.
- Gedrag: Jy sê van jouself Ek ken myself nie meer nie, en ander sê van jou Jy is nie jou gewone self nie. Jy is ongeduldig, krities, altyd op die verdediging, twyfelend aan jouself, jy vind dit moeilik om logies te dink en basiese besluite te neem, of jy is ’n werkslaaf.
- Kommunikasie: Jy kommunikeer swak, onttrek sosiaal en vervreem jouself van werkverwante aktiwiteite, stel take uit, het onnodig onmin met medewerkers, familie en vriende, klou aan rigiede reëls, en medewerkers ondervind dat take wat jy in die verlede met gemak kon doen, nou vir jou ’n groot krisis is.
- Kommerwekkend: Jyy ontwikkel destruktiewe gewoontes soos oormatige alkohol- of pillegebruik.
Gevolge van uitbranding
- Toenemende afwesigheid en ondoeltreffendheid by die werk kan lei tot tugstappe of selfs afdanking.
- Tekort aan energie, entoesiasme en kommunikasie, en toenemende buierigheid, ontevredenheid en pessimisme maak die lewe vir jou gesin ondraaglik en kan lei tot huweliksprobleme.
- Sosiale onttrekking vind plaas en jy begin jou vriende en betrokkenheid in die gemeenskap verloor.
- Fisiese en emosionele simptome ontwikkel en jy ervaar min lewensbevrediging; jy ontwikkel ook ’n verlaagde weerstand teen siektes, en jou gesondheid verswak.
- In die gevorderde stadium van uitbranding ontwikkel jy geestestoestande soos depressie en angs.
Hoe hanteer jy uitbranding?
Jy weet nou uitbranding het jou op ’n slinkse manier bekruip! Dit is nie iets wat oorwaai soos ’n verkoue nie. Ons moet vinnig op die waarskuwingstekens reageer, anders lei dit tot angs of depressie. Jou lewenswyse moet verander, wat groot deursettingsvermoë van jou gaan vra.
Jy kan die probleem só aanpak:
- Voorkoming is die beste medisyne. Wanneer jou uitbrandingsprobleem agter die rug is, maak seker dat jy vroegtydig op die uitkyk bly vir die waarskuwingstekens.
- Maak ’n kopskuif, ken die waarskuwingstekens en probeer dadelik iets doen. Erken dat daar ’n probleem is. Weet jy kan ander keuses maak, al is dit hoe klein, en probeer die wortel van die probleem identifiseer: Wat pla jou regtig en hoekom pla dit jou? Moenie skaam wees om hulp en raad te vra by persone wat jy vertrou nie. Herevalueer jou doelwitte en dink na oor wat jy in jou lewe wil bereik. Glo dat wat jy bereik, afhang van jou eie gedrag en vaardighede. Jy is dan in beheer. Ontdek wie jy is en wat jou sterk en swak punte is.
- Put as gelowige uit die Bybel, byvoorbeeld uit Psalm 130: 1, 2 en 5: Uit die dieptes roep ek na U, Here, luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep. Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Tye van stilword en gebed moet deel wees van jou lewensroetine: Bid gedurig (1 Tess 5: 17); Ek het rus en kalmte gevind (Ps 131: 2).
- Neem ’n blaaskans: Stap lang ente en doen fisiese oefening.
- Beweeg stadiger vir ’n paar dae wat verantwoordelikhede betref. Laat staan ’n paar take en verantwoordelikhede. Maak byvoorbeeld vinnige etes, los van die kinders se aktiwiteite, kanselleer ’n vergadering of twee…
- Bring tyd deur saam met vriende en familie. Sorg dat jy leer om dit weer te doen.
- Skryf al jou frustrasies neer vir emosionele ontlading en vernietig dit later.
- Stel vir jouself grense en hou daarby. Lig ander in oor jou grense. Verminder jou werklading as dit moet en kan.
- Beoefen ’n bestaande stokperdjie of kry ’n nuwe een.
- Bestuur jou tyd meer doeltreffend. Leer om te delegeer en vra hulp met groot take.
- Verbeter jou kennis en vaardighede deur middel van kursusse en deur konferensies by te woon.
- Eet gesond. Meer vrugte, groente en genoeg water, maar vermy vetterige kos, drank en kafeïen. Stres verminder jou vlakke van vitamiene A, E, B6 en C – neem dus aanvullings.
- Slaap genoeg en maak gebruik van ontspanningsmetodes soos asemhalingsoefeninge en verbeeldingsvlugte/visualisering).
- Klop jouself op die skouer as jy iets reg gedoen het. Leer tegnieke aan om jou selfbeeld te verbeter.
- Verander van loopbaan as dit moet (en moontlik is).
- Kry professionele hulp. Wanneer jou eie leefstylveranderinge nie die gewenste resultate oplewer nie, is jy dalk reeds in die gevorderde stadium van uitbranding en is mediese en professionele hulp nodig. Depressie- en angsbehandeling, medikasie en psigoterapie mag nodig wees.
Slotsom
Uitbranding is ’n waarskuwingsteken dat daar ’n gebrek is aan balans tussen ’n mens se werkomgewing/omstandighede en jouself. Dr Elizma van der Smit, ’n kliniese sielkundige van Klerksdorp, sê: Dit maak nie saak hoe oulik en sterk jy is nie, ons het almal ’n breekpunt waar dit vir ons voel of ons dit nie meer kan vat nie. Mense bereik breekpunt op verskillende tye en maniere – sommige trek terug en ander ontplof, afhangende van hoe ons ons huidige omstandighede beleef en hanteer.
Net jy weet hoe jy voel, en nou het jy die kennis om die waarskuwingstekens raak te sien. Net jý kan iets daaraan doen. Hoe gouer hoe beter!
Miskien het hierdie grendeltyd met die koronavirus baie van ons tot stilstand gedwing, verpligte rustigheid gebring en tyd gegee om kopskuiwe te maak om ons so ook van gewisse uitbranding te red. Met Suid-Afrika se ekonomiese probleme, dalk jou eie finansiële uitdagings, en werkloosheid, weet ons dat daar groot druk op ons as werknemers en ook in ons eie persoonlike omstandighede ná die grendeltyd gaan wees. Kort voor lank kan die waarskuwingstekens van uitbranding dalk weer hul verskyning maak. Wees bedag daarop, bid en handhaaf ’n gesonde leefstyl.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)
NHSV Streekvoorsitter: Rustenburg
