Daar is altyd ’n “olifant” in die vertrek wat ons nie wil raaksien nie. Met hierdie paar woorde wil ons juis oor so ’n “olifant” praat, een wat ons as predikante moeilik herken en erken, omdat dit baie keer in ons persoonlike blindekolle val. Wanneer ons dan wel in die moeilikheid beland, sien ons hierdie “olifant” bekend as UITBRANDING glad nie raak nie.
Die bediening in God se koninkryk is natuurlik baie vervullend en bevredigend, maar dit kan ook baie uitputtend wees en sy tol eis. Daar is van ons predikante wat ly aan uitbranding en dit nie eens besef nie. Jy dink dalk jy is net emosioneel uitgeput, oorwerk, moeg en gestres, en jy aanvaar dit maar as normaal.
Jy is nie alleen nie. Baie predikante worstel hiermee.
Daar word onderskei tussen lae-graad-uitbranding en volledige hoë-graad-uitbranding. Die meeste van ons ly dalk eerder aan lae-graad-uitbranding. Wat is dit? Dit is wanneer jy voortgaan met jou daaglikse take, maar die vreugde van die lewe is weg.
Predikante se algehele welstand is in die gedrang. Dit sluit in hul geestelike, fisiese, emosionele en geesteswelstand. Predikante se algehele lewenskwaliteit het gedaal. Die vlak van respek wat predikante altyd in die samelewing geniet het, het gedaal, en die aantal ware vriende het ook gedaal.
’n Predikant se gesondheid het direk ’n impak op sy of haar gemeente, want daar is ’n duidelike rimpeleffek.
Wat is nog bydraende faktore wat lei tot uitbranding?
Baie predikante is nie meer oortuig van hul roeping nie. Dit maak dit moeilik om voort te gaan met die bediening as jy gereeld jou roeping in twyfel trek. Iets moet na ’n ruk ingee. Dan is daar ook die druk wat gemeentes rondom finansies ervaar; gemeentes wat kleiner word; ons wat genoodsaak word om na alternatiewe vorme van bediening te kyk; predikante wat meer geïsoleer raak. Dit dra alles by tot die perfekte storm vir uitbranding.
Hoewel nie alle predikante op dieselfde vlak of graad hiermee sukkel nie, is dit nou maar eenmaal so dat as jy nie gaan sê genoeg is genoeg nie, sal jou liggaam wel.
Een van die belangrike dinge wat predikante nodig het, maar waaraan baie van ons ’n gebrek het, is ondersteuning van ’n geestelike aard. Hoe dikwels ontvang jy geestelike ondersteuning van ’n mentor of van jou kollegas? In die verlede was dit amper ongehoord dat predikante hul eie terapeute, beraders of geestelike mentors gehad het. Hier en daar het van ons wel die waarde van so iemand ontdek.
Selfsorg blyk ook nie heeltemal die oplossing te wees nie. Toe predikante gevra is wat hulle doen om hul batterye te herlaai, het die meeste gesê hulle bring tyd deur saam met hul gesinne; ander het gesê hulle rus of slaap; ander het gesê hulle bid; ander het gesê hulle soek dinge om hulle te inspireer of beoefen ’n stokperdjie; en ’n kleiner groep het gesê hulle gaan vir terapie of berading of besoek hul mentor.
Daar is natuurlik niks verkeerd met enige van bogenoemde nie, maar as jy ly aan uitbranding, het jy iets meer nodig.
Baie predikante wat ly aan uitbranding het ongelukkig nie eens ’n halwe idee hoe om ’n plan in plek te sit om gesond te word nie. Ons isoleer onsself eerder meer. Onthou: Afsondering is ’n geskenk van God, terwyl isolasie ’n wapen is wat die vyand gebruik.
So, wat kan ons doen?
Besef die erns van die saak
Ons skryf dikwels ons slegte gesondheid en stres toe aan ’n besige “seisoen”. Ons sal sê: As die basaar net eers verby is of as dit of dat net eers agter die rug is. Seisoene het darem ’n begin en ’n einde. As jou seisoen nie ’n einde het nie, is dit nie ’n seisoen nie, dis jou lewe.
Verstaan die diepte van die probleem (Leidraad: Dis persoonlik)
Ons mislei onsself dikwels om te dink: Dit kan nie met my gebeur nie. Maar dit kan. Jy moet na jouself omsien, sodat jy weer na ander kan omsien.
Kry hulp
Jy het nie op jou eie uitgebrand nie, so jy gaan ook nie op jou eie gesond word nie. Jy het nodig: beraders, mentors, vriende, familie, en ondersteuning van jou geloofsgemeenskap. Isolasie maak dinge nie beter nie. Inteendeel: Dit maak dinge net erger.
Die eerste stap is om te praat met ’n vriend of vriendin wat werklik vir jou omgee. Vra hom of haar om vir jou die waarheid te vertel, en maak dan werk daarvan om professionele hulp te kry. Verbreek die stilte en kry hulp. Dit is ’n betekenisvolle stap in die regte rigting.
Leer om jou tyd meer effektief te gebruik
Almal van ons kry dieselfde 24 uur. Rig dit in om die dinge te doen wat vir jou die belangrikste is.
Leer om jou energie te bestuur
Net soos ons moet leer om ons tyd meer effektief te bestuur, is dit belangrik om ons energie te bestuur. Jy het seker agtergekom dat daar sekere tye van die dag is wanneer jy meer energie het. Rig dan jou dag in dat jy die dinge wat die belangrikste is, doen wanneer jy die meeste energie het. As jy ’n vroegoggendpersoon is, skryf jou preke dan, en wanneer jou energievlakke laer is, gebruik dié tyd vir take wat minder energie verg. Kundiges sê ons het almal net tussen drie en vyf ure ’n dag waarin ons op ons beste funksioneer, en dan neem ons energievlakke af. Rig jou dag daarvolgens in.
Prioritiseer jou tyd rondom mense wat jou energie gee
Ons is geneig om die meeste van ons tyd deur te bring met mense wat ons dreineer en in elk geval dikwels nie baat by ons interaksie nie. Waak daarteen.
Leer om soms nee te sê
Sê nee vir minder belangrike dinge, sodat jy ja kan sê vir die meer belangrike dinge.
Maak tyd vir rus
Neem jou verlof, kyk na jou eetplan en jou oefenprogram. Jy sal bly wees jy het.
Maar die belangrike waarheid is dat tyd “af” nie genoeg sal wees om jou gesond te maak as die probleem eintlik lê by hoe jy jou tyd “aan” deurbring nie. Onthou: Jou lewe, jou geluk en jou gesondheid is in jóú hande!
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)