Koningin Elizabeth die Tweede is met swier en skouspel soos niemand die Britte dit kan nadoen nie, ter ruste gelê. Gepas dalk, want in die wêreld van wêreldse mag en menslike politiek was daar min ander wat dié luister kon verdien. Tog het dié Engelse vrou se eie woorde weinig politieke strekking gehad. Trouens, haar eie woorde was oor die algemeen maar min. Die aura wat haar omring het, was dié van die staat van Brittanje en die Gemenebes van Nasies uit die eertydse imperiale Britse Ryk. Haar handelinge was fyn beplande rituele van simboliese betekenis.

Kragdadigheid kry jy by haar nie. Aardskuddende ideologie ook nie. Haar roem berus in bestendigheid.

Welby van Kantelberg het in die begrafnisrede kwytgeraak dat die woorde dienswillig en pligsgetrou selde van iemand in die publieke sfeer geld. Dit was háár woorde: plig en trou. Met dié dat haar openbare verskynings tot in die fynste besonderhede gechoreografeer is, is dit seker moontlik om te bevraagteken hoe gewillig sy haar aan al die staat se eise onderwerp het. Hoe sy tot op die voorlaaste dag van haar lewe, haar kwynende liggaamskragte ten spyt, nog ’n eerste minister ontslaan en ’n ander een aangestel het – al was dit seker maar net ’n vlugtige formaliteit – gee tóg geloofwaardigheid aan gerugte van haar getrouheid en pligsbesef. Die blymoedigheid waarmee sy in die openbare oog haar pligte uitgevoer het, bevestig dit.

Wat nie so haarfyn beplan kon word nie, en toe ook nie so netjies bepland verloop het nie, was die doen en late van haar eie huisgesin. Die teleurstelling wat dit moes ingehou het vir ’n vrou wat haar vir ’n ganse staat se wel en wee aanspreeklik gevoel het, moes galbitter gewees het om te sluk.

Die staat verdoesel eie foute net beter as wat families daarin slaag, maar dat dáár ook drooggemaak is, ly geen twyfel nie. State en volke is ook maar net moeilike families, hulle verg net meer propaganda as privaatheid. Beeldpoetsing op sulke groot skaal, kos egter geld; Operation London Bridge has Fallen moes die Britse skatkis die spreekwoordelike klein Afrikastaat se jaarlikse begroting gekos het, kostevermenigvuldiging weens korrupsie ingereken. Vir ululering en ’n luidkeelse geweeklaag hoef die Britte gelukkig nie te betaal nie – sulke roubeklaers kon jy in die Bybeltyd nog gaan huur vir ’n gepaste begrafnis – die skares burgers en toeriste daag sommer vanself op as die optog indrukwekkend is. En die optog was inderdaad groots.

Daar is persoonlike en politieke nut in ’n uitspattige gerou, genoeg nut dat die geleentheid nie sonder meer verbygegaan moes word nie. Die betrokke week se openbare roubeklag bedek talle euwels. Vergete is die skaamte oor die broer in die tronk (of wat in die tronk hoort). Volksmoord word suutjies saam met ander skandes en skades as ligte ou foutjies van bloot verganklike aard onder die rooi tapyt ingevee.

Hierdie verwikkeldheid van persoonlike lewe en openbare betekenis verwonder my. Kyk waar lei dit my heen:

Volkere en nasies het hulle ingehou, die koloniale moondheid verduur, net om haar nie te ontstel nie, soos ’n familie hul moeder troetel. Hulle het weldra hul vertrek geneem.

Vir haar kinders is daar nie dieselfde agting nie. Hulle word nie aan offerbereidheid geken nie.

Wat, na alles, het ma’s en kinders se vrygewige offers hoegenaamd met die staat uit te waai? En tog, dit het!

Dit is dalk waarin die waarde van ’n monargie te vind is, in die verweefdheid van volk en staat en die eie lewens van regte mense wat die staat uitmaak. Nie dat hierdie familie gebuk gaan onder gebrekkige diensverskaffing en ’n knellende belastinglas nie. Dit is die doodgewone sonde van hierdie familie wat hul menslikheid onderstreep. Elizabeth II het haar roeping as van God beskou, haar geloftes aan God gehou, en God in erediens onthou en gedien. Haar begrafnis was ’n dag vol Christelike godsdiens, Skriflesings, gebed en gesange, pleidooie om genade.

Miskien is dit dan gepas vir toeskouers soos ons om daarby te voeg die Christelike handelinge waarvoor ons graag bekend wil staan, soos vergifnis en vryspraak, versoening en vredemaak. Ons het oorgenoeg ondervinding van hoe dit voel as die swaard van wraak en voortdurende verwyt oor jou kop hang. As ons nie self aan verlossing daarvan erg het nie, hoekom sou ander ons dit gun?

Maar daar is onder Britte self meer haat vir die koninklikes en die adel as wat buitestanders besef. Hulle bedreig glo die moderne demokrasie, so glo Arbeiders, geharde Marxiste. Om vele redes daarom het die Britte daardie week spontaan getreur soos mense wat die ganse monargie vaarwel roep. Hierdie koninkryk hink op eindigheid.

Dog, die koninkryk van God is op hande. Of ons nou stof gaan afskud en of ons ons heelhuids met ander gelowiges gaan vereenselwig, die koninkryk van God is op hande.

Moet op prinse nie vertrou nie. Pas tog net op om wat oor eeue heen opgebou is, soms selfs in gelowige gehoorsaamheid en met egte diens en plig voor oë, sommerso te wil aftakel. Hoe raar sulke geloof ook al mag wees, so skaars soos gehoorsaamheid onder ons, koninginne – en soms self prinse – glo ook. Balke en splinters.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap