Die Van der Hoff Teologiese Vereniging is, soos die tweede deel van die naam aandui, ’n vergadering van teologiestudente wat op ’n gereelde basis byeenkom. Deur die jare het Van der Hoff die plek van heenkome en tuiskoms geword. Dié plek waar studente mekaar beter kon leer ken en besondere bande met mekaar kon smee.
Daar het ook gevestigde tradisies ontstaan soos wat onder andere Dinsdagaand 7 Maart 2023 plaasgevind het – ’n installasievergadering wat die eerste vergadering van die jaar is, waar ’n formele opening plaasvind (gelei deur prof Wim Dreyer), eerstejaars verwelkom word, en ’n gemeenskaplike beker (met wyn) omgestuur word met die volgende woorde: Ek drink en ek oorhandig aan… Dit alles om die besondere band tussen mede- Hervormde studente en dosente te smee en te versterk.
Die praeses is Annami McClintock, wat besig is met haar finalejaarstudies en praktiese werk by Gemeente Midstream. Die abactus is Tanya Maartens; die assessor is Annia van Deventer; en die fiscus is Drian Cockeran. Laasgenoemde drie is vyfdejaars.
Van der Hoff Teologiese Vereniging is die oudste studentevereniging op die kampus van die Universiteit van Pretoria, en is volgende jaar (2024) 100 jaar oud. Die studente beplan reeds om besondere aandag aan die eeufees te gee.
Op die foto verskyn dosente van UP, asook dosente van die Hervormde Teologiese Kollege (HTK). Dr André Ungerer is die hoof van die HTK, en prof Wim Dreyer is die voog van die studente.
