Dr Johan Dreyer (66) het tydens die wintergradeplegtigheid van die Noordwes-Universiteit ’n PhD-graad in Teologie met Dogmatiek verwerf. Hy is ’n seun van ds Herbert en mev Sus Dreyer. Die titel van sy proefskrif was Interpretasieverskille ten opsigte van die natuurwetenskaplike werklikheid – ’n reformatories-teologiese beoordeling.

Protestantse liberalisme in die 19de eeu was in oorsprong ’n poging om geloof relevant te hou in die vinnig veranderende wêreld na die industriële revolusie, wat in 1733 begin het en die bekende wêreld letterlik op sy kop laat staan het. Boeke soos Charles Lylell se Principles of Geology het bestaande interpretasies van die Skrif as bron van waarheid verdag gemaak, soos byvoorbeeld Genesis se ses skeppingsdae. Die Bybel is gevolglik in die liberale teologie as absolute bron van die waarheid vervang met ’n fokus op moderne idees en die Christelike ervaring van geloof, waar albei kwalik as onbetwyfelbare waarhede beskryf kan word. Evolusie (Darwin se On the Origin of Species) as teorie was vet in die vuur in die teologiese debat oor liberalisme omdat daarin oënskynlik bewyse gevind kon word dat God, in teenstelling met die Bybel, nie betrokke was by die ontstaan van die geskape werklikheid nie. In hierdie debat het ’n gaping tussen geloof en die wetenskap ontstaan wat vandag nog sigbaar is.

Die grense van hierdie teologiese debat was aan die een kant die Bybel met God se Naam, “EK SAL WEES WAT EK SAL WEES” (YHWH), wat terselfdertyd ’n openbaring maar ook die belofte is van ’n skeppende, genadige, ontsaglik heilige Wese wat in ’n intieme verhouding met sy skepping wil staan. Die ander grens is die natuurwette wat die rasionele basis vir die natuurwetenskappe vorm, waar die mens die waarneembaar logiese ordelikheid en doelmatighede waarmee God die natuur geskep het, beskryf as natuurwette. Aan die een kant dus God en sy woord wat in die Bybel as die oorsprong van alles beskryf word, aan die ander kant natuurwette wat onder liberale interpretasie blykbaar outonoom kon funksioneer, dit wil sê, sonder God.

In populêre interpretasie was dit ’n dooiepunt, maar wat sê die natuurwetenskap wat sedert die 1900’s ongelooflik ontwikkel het self daarvan?

  • Wat verandering oor tyd betref, is evolusieteorie onaanvegbaar, want verandering vind wel oor tyd plaas. Daar is talle voorbeelde op mikrovlak en selfs op makrovlak waar spesies uitsterf en ander spesies verskyn. Die evolusieteorie droog egter op as evolusionêr na die oorsprong van totaal nuwe organismes (soos insekte) gesoek word.
  • Die evolusieteorie dui op ’n gemeenskaplike oorsprong van alle organismes wat ’n enkele oer-voorouer veronderstel waaruit alle hedendaagse organismes ontwikkel het deur ’n kontinue proses van verandering oor tyd. Hoewel daar goeie verduidelikings is vir gapings in die fossielrekord, weerspreek genoemde gapings in die fossielrekord van veral die hoër taksonomiese groepe asook bewyse dat ’n kontinue proses nie algemeen voorkom nie, hierdie aanname. Geneties is daar ook ’n tweeledigheid, want hoewel gedeelde/oorgeërfde gene so die aanname van ’n enkele oer-voorouer ondersteun, dui genomiese patrone op die onontbeerlikheid van ’n wonderwerk of twee om so ’n aanname enigsins haalbaar te maak.

In geheel gesien, dui die natuurwetenskap dus op ’n begeleide proses en verklaar evolusioniste (neo-Darwiniste) self dat evolusieteorie nie die oorsprong kan verklaar van, onder andere, die anatomie en groter eienskappe van diereliggame, nuwe organe, nuwe strukture, nuwe liggaamstipes en die skielike verskyning van totaal nuwe spesies nie.

Verder is daar in die natuur genoeg natuurwetenskaplike vraagstukke − byvoorbeeld ’n sorgvuldig aangepaste heelal en aarde; die beginsel van lewe; die omvang van die versteekte beskikbare genetiese potensiaal in lewende selle; die mens se taal- en verstandelike vermoë wat stroomop teen die tweede wet van termodinamika in ontwikkel het, ver verby evolusionêre vereistes van oorlewing en doeltreffende benutting van hulpbronne om ’n bewussyn te ontwikkel – wat die vraagstuk van die doel van die skepping na vore bring. Die vraagstuk van ’n doel onderstreep egter net die dooiepunt, want slegs ’n Skepper kan ’n doel hê; ’n outonome meganisme soos evolusieteorie dit beskryf, het nie ’n doel nie.

In bogenoemde paragrawe is wetenskaplike terme so ver moontlik vermy, maar onwillekeurig kom die vraag op: Wat beteken dit alles? Dit: Evolusie is ’n werklikheid, ook op makrovlak, nieteenstaande reformatoriese ontkenning daarvan. Dit is egter ’n werklikheid verwyderd van die werklikheid soos die nuutste evolusieteorieë dit aanbied, veral in terme van God se betrokkenheid daarin. Die feit dat verandering in vorm oor tyd deur middel van natuurlike seleksie kan plaasvind, skakel God nie uit nie, dit plaas Hom juis in die middelpunt daarvan. Natuurlike seleksie skep niks, dit selekteer net wat reeds bestaan.

Outonome verandering in tyd kan wel slegs plaasvind deur mutasies, dit wil sê, deur verandering in die genoom van die organisme, waar die oorgrote meerderheid van mutasies betekenisloos is. Betekenisloos, want in die eerste plek is verandering nie die norm in die natuur nie, uitsterwing is – 99% van alle organismes wat ontstaan het, het uitgesterf. Verder is daar genoegsame bewyse dat mutasies wat ’n verskil in ’n spesie veroorsaak het, in die natuur gewoonlik deur meegaande aanpassings ondersteun is, wat beteken verandering het nie net ’n mutasie nodig nie, dit het ’n mutasie plus meegaande ondersteunende mutasies nodig. Laastens is enkele genetiese veranderings (dit is, mutasies) gewoonlik betekenisloos, tensy die geen betrokke ’n beheerfunksie het, want die gene as sodanig het weinig invloed, die programme wat die gene beheer, bepaal verandering in ’n spesie. Die oorsprong van die programme wat die gene beheer, is egter onbeantwoord in evolusionêre teorie en versterk net die dooiepunt, want alle gevalle van betekenisvolle inligting aan die mens bekend het ’n intelligente outeur.

God het genoeg inligting in die geskape werklikheid gelaat om die gewillige te oortuig, maar nie soveel dat dit die onwillige dwing nie, terwyl sonde ook nie die logiese ordelikheid in die natuur verander het nie, maar wel die mens se waarneming en interpretasie daarvan. Die dooiepunt tussen geloof en wetenskap ontstaan daarom in die interpretasie van natuurwetenskaplike werklikhede tussen mense, met die oorsprong daarvan by die interpretasies van die werklikheid soos gevorm in die mens se bewussyn. Geloof tree in waar kennis ontbreek. Dit is in die ondeursigtigheid van die geskape werklikheid dat geloof gevra word van alle mense in oorbrugging van die waarskynlikhede. Hoewel ’n oorwig van waarskynlikhede oortuigend is, vra oortuiging instemming van die wil, waar verskille dan in wese ontstaan weens geloof in God Almagtig al dan nie.

Neurologies is die werklikheid wat in elke menslike brein gekonstrueer word, die gevolg van die wederkerige verbindings en die integrasie van neurale netwerke wat verwyderd is van dit wat sensories waargeneem word, hoewel nie heeltemal onverwant daaraan nie. Hierdie werklikheid wat die brein konstrueer, bevat nie net feite nie, maar veral ook die geestelike gevolge van fisiese oorsake, waarin geloof bepalend is. Neurologies egter, hoe meer ’n persoon nadink oor enige saak, of dit ’n ewige God of natuurwetenskaplike teorie is, hoe meer word die persoon se siening van die saak van oordenking vir hom of haar as ’n objektiewe werklikheid in die brein gekonstrueer. Wat jy glo, is met ander woorde neurologies gegrond op jou voorkeure.

Hiervolgens, gegewe al die wetenskaplike teorieë en ontdekkings, staan die wêreld en die wetenskap voor Adam en Eva se keuse in die paradys. Die vraag is: Hoe sien ek myself in verhouding tot God?

God het ’n “dodelike” erns om genade aan almal te bewys, soos Christus se kruisiging beklemtoon. As iets wat gevestig is in die mens se bewussyn, hou die begrip beeld van God in dat die mens ’n rasionele wese is wat morele keuses kan maak. Die mens is as morele wese geskape met ’n toereikende mate van vryheid van keuse. God se aanbod van genade maak daarom egter nie ’n sondaar se aanvaarding daarvan ’n noodwendigheid nie. Hoewel aanvaarding geen verdienste inhou nie, is dit die mens se keuse. Barth het gesê dat the enterprise of setting up the ‘No-God’ is avenged by its success… our conduct becomes governed precisely by what we desire. In God se groot ontferming het die mens se keuses betekenis, sy lewe ’n doel, en niemand hoef verlore te gaan nie, want almal wat Jesus as die Christus bely, sal gered word.

(Dr Johan Dreyer is ’n ouderling in Gemeente Coligny)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap