Net soos die koronavirus in opeenvolgende golwe op die wêreld afrol, het ons gemeentes se aanlyn bediening in reaksie op die virusgolwe uitgerol. Predikante is uit hul gemaksones geruk na ’n nuwe normaal.
Maar die nuwe normaal was nie vir almal vreemd nie. Een van die jonger predikante, ds Retha Losper van Ogies en Suidoos-Witbank, beskryf die aanpassing soos volg: “My man kyk YouTube vir projekte, en ek soms as ons saam ’n projek by die huis aanpak. Old Brown Sherry was die enigste OBS wat ek geken het. Ek moes leer OBS is nie net bedoel vir koue winteraande nie, en dat OBS ook Open Broadcaster Software is wat jou opnames makliker maak en dat jy jou klank beter kan maak met filters sodat ouer persone met ouer fone en selfs met gehoorapparate ook na die opname kan luister. Opnames het egter nie vinnig gebeur nie. ’n Mens moes jou ure en dae lank inwikkel in ’n nuwe wêreld. Die gemeente kon nie altyd verstaan hoekom die erediens nie meer normaal lyk nie. Gesange kan nie so maklik ingevoeg word op YouTube nie. Tyd en kopiereg het vir jou voorgeskryf. Die internet en seine wou ook nie altyd saamwerk as jy uiteindelik jou nederige poging met die gemeente wou deel nie. Ons moes baie leer en groot frustrasie verwerk.”
Ds Thomas Dreyer van Wapadrant, wat reeds ingegrawe was in digitale bediening, beskryf hul ervaring so: “Kyk, die waters, wind en weer, dreig en ruk en trek my neer! eggo die bekende melodie soos ’n duikbootsonar deur die paar orrelpype wat nog bo die water uitsteek. Help my, Heiland, ag, ek vrees! Hoor die woeste winde huil!
Sing, roep ek die woorde terwyl ek en ’n paar kerkraaddrenkelinge verbete klou aan die kerktoring, wat net-net bo die oppervlak uitsteek. ’n Waterwêreld is ons nuwe normaal en nie een van ons is ten volle voorbereid nie. Ons dobber rond in ’n veranderende, vloeibare wêreld wat deur die een Covid-golf na die ander getref word. Ons raak verstrengel in die onverstaanbare en kompleksiteit van ’n (inter)net. Makrogemeentes vaar voort soos Titanics met die grootste en beste tegnologie en pik gemeentedrenkelinge een na die ander met die (inter)net op. Video’s, editing, Green-screens, sosialemedia-algoritmes is die ingewikkelde lingua franca of sogenaamde mengels wat jy moet verstaan en praat om die evangelie te verkondig. Zoom meetings is die skeepsteleskope om kontak met medegelowiges te probeer behou terwyl hulle besig is om op die horison te verdwyn.
Laat ons nie verlore gaan… hoor ek weer die kerklied. In ’n waterwêreld is ons tevergeefs op soek na stabiliteit en gemoedsrus, want ons bedieningsmetodiek van ouds wat eens ons ankers was, is besig om ons die diepte in te trek. Rigiede swaar vorme word lukraak oorboord gegooi in hierdie vloeibare omgewing, waar reëls en regulasies maandeliks deur die president verander word. Wat maak ek as die kaptein van ’n klein sinkende gemeente? wonder ek. Klou ons vas aan die ankers, of dobber ons rond op soek na die volgende Titanic wat verbyvaar?
Terwyl jy watertrap in hierdie Covid-storm, kan jy nie net bly hoop vir dalende watervlakke dat julle darem aan die kerktoring kan vashou nie. Moet ook nie tevergeefs wag vir jou skip om in te kom nie. Maar terwyl jy tussen die kerkbanke ronddobber, kyk uit vir die stukkies dryfhout. Dit is gewoonlik die klein stukkies dryfhout wat dikwels die meeste lewens in ’n watervloed red. Die eenvoudige evangelie in sy mees basiese vorm is steeds die beste dryfhout vir ’n drenkeling.
Gebruik dit wat jy tot jou beskikking het. Gemeentelede, bemanningslede se kennis, vernuf en idees kan jou help. Jy moet maar net bly kerf en skaaf aan die stukkies dryfhout van die evangelie. Eenvoudige stemboodskappe, hakkelrige videogrepe en telefoongebede is alles stukkies dryfhout. Nog geen drenkeling het ’n stuk dryfhout van die hand gewys omdat dit te veel splinters het of omdat dit nie die naam Titanic het nie. Al kry jy net een view of twee luisteraars, twee-twee sal hulle ook in die ark ingaan soos jy dit splinter vir splinter met die dryfhout van Jesus se kruis aanmekaar timmer.”
Ewe skielik word jou bediening gemeet aan views. Ds Jimmy Manders van Witfontein vertel: “Wêreldwyd, tydens die streng inperking, het views/kyke van aanlyn platforms van kerke die hoogte ingeskiet. Mense was ontredderd en het hoop gesoek by die kerk, om iets van God se stem in hierdie krisis te hoor. Navorsing toon dat die aanlyn deelname gaandeweg oor die laaste 11 maande gedaal het teenoor die aanvanklike toestroming van kykers. Een ding is duidelik, ons aanlyn kerkbesoeker is skermvoos.”
Hy meen egter ook soos ds Dreyer dat ons nie daardeur gestuit kan word nie. Ten spyte van hierdie daling, is die navorsing dit ook eens dat ons as predikante en gemeentes net getrou moet voortgaan om “konneksie” met ons lidmate en aanlyn besoekers te behou, deur gereeld en konstant die boodskappe aanlyn te deel. Die roepstem is baie duidelik dat jy jou nie deur die getal “views” moet laat lei nie.
’n Verdere illusie wat besweer word deur die aanlyn predikergemeenskap is dat professionele produksies noodsaaklik is. Natuurlik maak jou eindproduk saak om die oog te vang, maar die primêre behoefte van kykers is dat die persoon wat voor die kamera met ’n aanlyn gemeenskap kommunikeer, opreg en eg moet wees. Dit is ’n stukkie bevryding vir baie van ons wat uit ons kanselgemaksone getel is tot voor ’n dooie kamera.
Nou, met ’n tweede golf van die pandemie, moes ons almal die proses herhaal om ons weer ten volle aanlyn te begewe met God se Woord. Met dalende kykertalle is en bly die groot uitdaging nou om engagement of betrokkenheid te bewerkstellig, nie net met jou as boodskapdraer nie, maar ook met ingeskakeldes onderling. Navorsing uit talle oorde het oor en oor bewys dat die aanlyn bediening gekom het om te bly, lank nadat die Covid-19-pandemie iets van die verlede sal wees. Die kerk wat nie meer relevant is nie, se bestaansreg is in gedrang, en daarom sal ons as predikante en gemeentes getrou moet bly aan ons Goddelike opdrag om die Woord te verkondig en die hoop van Jesus Christus uit te dra.
Dr Thinus van Staden van Montana het die uitdaging met ’n kopskuif hanteer. Hy skryf: “Van die begin van die pandemie af het ons gemeenteleiers geen druk ervaar dat ons moet meeding met ander gemeentes of met die celebrity preachers op TV nie. Ons het nie gevoel ons wil nou nuwe geleenthede ontgin om skielik ’n digitale gemeenskap te word nie. Ons besef dat ander gemeentes dit beter sou kon doen as ons. Ons wou eerder ons energie en tyd fokus op die bedieninge waarvoor ons voel óns geroep is. Digitale uitsendings van eredienste is ’n wonderlike hulpmiddel en dit het vir seker gekom om te bly, maar dit kan nooit verhoudings vervang nie. Hoevéél dit ook al vir Ouma en Oupa beteken om met hul kleinkind wat oorsee woon te kan zoom, dit kan nooit die leemte vul om hulle in persoon te sien, te druk en te omhels nie. Al het die skrywers van die Nuwe Testament briewe geskryf, het hulle altyd verklaar dat hulle na hul medegelowiges verlang en in persoon by hulle wou wees (lees Fil 1: 8, 2: 26, 4: 1; 1 Tess 2: 17, 3: 6; 2 Joh 12 en 3 Joh 13-15).”
Elkeen van die predikante met wie ek gesels het, se raad is uiteindelik: Bly net getrou om die hoop wat in ons leef te deel met mense wat golf na golf saam trotseer. Dit word ’n reddingstou vir iemand wat dit dalk net op daardie oomblik nodig het.
En stadig begin die drenkelinge twee-twee die ark binnegaan terwyl hulle saam neurie: Ons lof aan die Skepper wat altyd getrou sy kerk hier bewaar, dit vernuwe en bou.
(Ds Dalene Lourens is leraar in Selcourt en Springs-Noord)