Ingang tot die Anglo-Boereoorlog-kerkhof vir ongedoopte kinders te Springfontein. Agterlangs is die opskrif Vir Vryheid en Reg deels bokant die hek sigbaar.
’n Mens ry maklik by Springfontein verby op die lang roete vanaf Gauteng na Kaapstad. Op die oog af lyk dit of hierdie Vrystaatse dorpie langs die N1 min te bied het aan die verbysnellende toeris, maar Springfontein moenie slegs op sy voorkoms beoordeel word nie.
Hierdie spoorwegdorpie het ’n belangrike rol vervul gedurende die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902. Die spoorlyn vanaf Oos-Londen het hier by die Kaapstad-Pretoria-hooflyn aangesluit. Vir die Britse magte wat afhanklik was van die verskillende spoorlyne na die Noorde vir die voorsiening van ammunisie, perde, proviand en uitrustings, was beheer oor die spoorlyn en aangrensende dorpies soos Springfontein van kardinale belang. Tydens die oorlog was hier ’n garnisoen en ’n hospitaal gestasioneer.
My eerste besoek aan Springfontein se militêre-en-konsentrasiekamp-kerkhof was in 2022, soekende na die grafsteen van konstabel Jurie Johannes Geldenhuys. Hy was een van ’n menigte polisiebeamptes wat destyds van oor die hele land dringend na Johannesburg ontbied is om die ontluikende geweld van die 1922 Randse mynwerkerstaking te bekamp. Helaas, die jong polisieman van Springfontein, wat voorheen slegs veediefstal en dergelike ligte misdade moes hokslaan, is in gewelddadige Johannesburg deur ’n gewapende staker in Brixton doodgeskiet.
As gevolg van die voortslepende geweld was dit onmoontlik om konstabel Geldenhuys by een van die Johannesburgse begraafplase – in Braamfontein of Brixton – te begrawe. Daarom word hy en verskeie andere sterfgevalle tydens hierdie staking in tydelike grafte in Milner Park, by die destydse Randse Skougronde, begrawe. Hy is waarskynlik eers in 1924 hier in Springfontein, sy tuisdorpie, herbegrawe.
Hierdie groot kerkhof aan die suidoostelike grens van Springfontein was moeilik om te vind of te bereik, omdat die paadjie daarheen toegegroei was. Gelukkkig word die kerkhof self uitstekend versorg deur die Raad vir Oorlogsgrafte. Ongeveer 299 Britse soldate is begrawe in die militêre afdeling van die kerkhof, asook enkele ander, soos konstabel Geldenhuys.
Die Springfontein-konsentrasiekamp het ontstaan tydens die tweede week van Maart 1901. Aanvanklik was die konsentrasiekampe onder Britse militêre beheer. Dit was die tydperk toe die swakste omstandighede in die kampe geheers het. Emily Hobhouse beskryf met deernis hoe etlike van die burgerlikes onder haglike omstandighede langs die treinspoor moes skuiling soek omdat daar nie genoeg tente in die kamp beskikbaar was nie. Moontlik kan die onverskilligheid en tekorte toegeskryf word aan die Britse militêre owerhede se fokus om tot enige prys die oorlog so spoedig moontlik te wen. Die Boere se ontsporing van voorsieningstreine het egter ook bygedra tot die tekort aan voedsel, tente en steenkool by die kampe.
Vanaf November 1901 het Lord Milner, as Koloniale Administrateur, beheer oorgeneem van die konsentrasiekampe, en vanaf hierdie datum het omstandighede vinnig verbeter. Nogtans het 622 vroue en kinders hier gesterf, en hulle is in die burgerlike afdeling begrawe. Meer as ’n eeu later gee die verlate koppies, uitgespreide veld, klein dorpie en groot kerkhof steeds ’n perspektief van eensame, radelose en weerlose geïnterneerdes in die konsentrasiekamp.
Die doel van hierdie artikel is nie om anti-Britse gevoelens te bevorder nie. Dit bly egter ’n tragiese feit dat die plattelandse bevolking altyd die ergste ly tydens enige guerrillaoorlog.
Daar is ook ’n klein kerkhof aan die noordwestelike grens van hierdie dorpie wat verdere navorsing regverdig. Hier is 37 ongedoopte kindertjies begrawe, wat wissel in ouderdom van slegs een dag tot een jaar. Sover my kennis strek, is daar, met die moontlike uitsondering van die Oranjerivier-konsentrasiekamp naby Hopetown, by geeneen van die talle ander konsentrasiekampe so ’n aparte kerkhof waar ongedoopte kindertjies begrawe is nie. Die seremoniële ingang tot hierdie kinderkerkhof is in 1985 onthul deur mev Louisa Botha, eggenote van die destydse Administrateur van die Oranje Vrystaat.
Eerwaarde Christoph Sandrock van die Berlynse Sendinggemeenskap het die Springfontein-konsentrasiekamp se geïnterneerdes geestelik bedien en sover moontlik bygestaan. Daar word steeds bespiegel waarom hierdie ongedoopte kindertjies nie in die algemene kerkhof ter ruste gelê is nie. Die logiese rede is dat hulle apart begrawe is as gevolg van die Berlynse Sendinggenootskap se aanhang van sekere Rooms-Katolieke gewoontes rakende die sakrament van die doop. Hierdie gebruike het waarskynlik die begrawing van ongedoopte kinders in die algemene kerkhof verbied.
Die kerkhof vir die ongedoopte kinders is op die hoek van Genl De Wet- en Piet Retiefstraat, Springfontein. Vra gerus by die Springfonteinse polisiekantoor vir aanwysings na die algemene militêre-en-konsentrasiekamp-kerkhof. My 4×4-voertuig het die rit na hierdie groot kerkhof baie vergemaklik, want die paadjie daarheen was erg toegegroei.
(SJ de Klerk is voorsitter van die noordelike tak van die Argeologiese Vereniging van Suid-Afrika
en deeltydse toergids vir die Johannesburgse Erfenisstigting)
Die militêre-en-konsentrasiekamp-kerkhof te Springfontein, Vrystaat
Sommige van die 37 graffies van die ongedoopte kinders