Dr Hein Delport het ’n tweede PhD-graad aan die begin van 2022 behaal. Die titel van sy proefskrif was ’n Basisteorie vir ’n homiletiese beweging. Vir sy studie het hy gesteun op prof Theuns Dreyer se basisteorie vir prediking in die NHKA. Dr Delport vertel hier meer daaroor.
Vanaf 1989 word homiletiek in die NHKA byna sinoniem met prof Theuns Dreyer se homiletiese definisie van prediking binne die NHKA beskryf. Alhoewel hy self verder ontwikkel het in sy verstaan en beskrywing daarvan, word sy definisie van prediking vandag nog algemeen in die Kerk aanvaar as ’n basisteorie. Met ’n evaluasiegesprek van ’n proeferediens wat ek vroeër vanjaar bygewoon het, was ek verstom oor hoe prof Dreyer se bekende boekie, Van teks na preek, steeds vir studente gebruik word as ’n verwysing na deeglike eksegese. Dit is geen wonder nie dat Hervormde gemeentes oral in die land gewoond geraak het aan hierdie manier van teologisering vanaf die preekstoel.
Vandag is hoorders in die Hervormde Kerk se reaksie ambivalent: Die hoorder is óf gemaklik met die manier waarop ’n preek beweging toon van die teks na die prediking, óf hulle kan hulself afvra of die preek werklik hul eie konteks raak.
Gedurende die byna drie dekades vandat prof Dreyer ’n basisteorie vir prediking in die NHKA ontwikkel het, het daar baie verandering in die konteks van die hoorder en in die homiletiese landskap wêreldwyd plaasgevind. Die verandering is sigbaar in prof Dreyer se verskillende beskrywings van prediking oor die jare heen. Die homiletiese veranderings is ook deur die dekades heen te sien in die openingsredes van die Algemene Kerkvergaderings.
In 1989 word prediking deur prof Dreyer só gedefinieer: ’n pneumatologiese woordgebeure, waarin ’n geroepe bedienaar van die Woord, via ’n kommunikasie-ervaring met ’n Skrifteks, die gemeente in hul konkrete situasie begelei tot ’n ontmoeting met die lewende God.
Hy bou in dieselfde jaar die definisie uit tot ’n basisteorie waarmee prediking deur dekades heen in die NHKA aangebied sou word. Die definisie maak dit moontlik vir die student om nie net tot ’n beter verstaan te kom van wat bedoel word met prediking nie, maar lei die student ook na ’n historiese, literêre en semantiese verstaan van die teks. Studente word aangemoedig om ’n eksegetiese skopus te formuleer en ’n kerugmatiese boodskap in die teks te ontdek. Met behulp van teologiese inkleding, konkretisering en ’n homiletiese skopus kan die student dan haar of sy doel vir die prediking omskryf. Prof Dreyer slaag daarin om die kontemporêre hermeneutiese verleentheid of impasse tussen teks en prediking vir die prediker te ontduik aan die hand van nuwe hermeneutiese denkers soos Gehard Ebeling en Hans-Georg Gadamer. Hierdie manier van dink maak dit vir die prediker moontlik om die kerugma of die boodskap van die teks vir die leefwêreld van die hoorder te interpreteer.
In dieselfde tydperk waarin hierdie basisteorie vir prediking ontwikkel is, het ’n sogenaamde Copernicaanse omwenteling in homiletiek plaasgevind. Die Nuwe Homiletiek word ingelei deur Fred B Craddock se bekende As one without Authority.
Die Nuwe Homiletiek vra na die gevare van deduktiewe prediking en stel ’n induktiewe werkwyse voor wat nie net die konteks van die hoorder in ag neem nie, maar ook die struktuur, die eenheid en die beweging van ’n preek. Dit is in hierdie spanningspole tussen die hoorder en die teks dat prof Dreyer dan weer later, in 2011, in ’n onderhoud met prof Andries van Aarde prediking op ’n nuwe manier beskryf: Elke erediens word ’n kreatiewe hermeneutiese kunswerk wat die rykdom van die evangelie in konteks en vorm na die hoorder toe bring en wat die hoorder boei in haar/sy eksistensiële konteks.
Prediking word nie meer gedefinieer as ’n sintetiese beweging van die teks na die prediking toe nie, maar eerder as ’n estetiese kunswerk wat die konteks van die hoorder in ag neem en die hoorder boei. Die vorm van die preek sowel as die hoorder se konteks word nou deel van prof Dreyer se verwysingsraamwerk oor prediking in die NHKA. ’n Deeglike eksegese van die konteks van die gemeente is vir prediking net so belangrik soos ’n deeglike eksegese van die teks. Die kultuur van elke gemeente in elke konteks speel net so ’n belangrike rol in die prediking soos die makro- en mikrokonteks van die teks.
Die konteks vir die hoorder van die NHKA het in die afgelope 30 jaar baie verander. ’n Goeie voorbeeld hiervan vind ons in die prediking van die voorsitters van die AKV vir die afgelope drie dekades. Oor die afgelope 30 jaar het sosiologiese, politieke en ekonomiese veranderings ’n groter rol begin speel in die konteks van die NHKA. Die ekklesiologiese identiteit van die NHKA het ontwikkel van die gedagte van ’n geïsoleerde volkskerk na ’n sterk missionaalgerigte ekklesiologie. Nasionalisme en isolasie het plek gemaak vir nuwe ekumeniese moontlikhede vir die NHKA.
Die politieke bevryding van “apartheid” het in die prediking van die NHKA ook die geleentheid geskep dat wegbeweeg kon word van ideologiese raamwerke of ’n vasstaande retoriek wat die homileet gebind het tot die verkondiging van absolute waarhede binne die konteks van die hoorder. Dit het die homileet bevry om ook ’n ander stem te laat hoor, naamlik die stem van die onderdrukte en die gemarginaliseerde. In 1996 het prof Dreyer dit as ’n geleentheid gesien om die spanning van ’n identiteit op ’n kreatiewe manier op die kansels van die NHKA te kon aanwend.
Dit is hierdie profetiese stem of karakter van die NHKA wat uitstaan te midde van veranderende kontekste vir die Kerk. Selfs in ’n donker tyd toe die Kerk voor ander uitdagings te staan gekom het, soos dié van fragmentasie en diversiteit, het die NHKA altyd ’n weg gevind om hierdie struikelblokke op ’n homiletiese vlak en met ’n profetiese stem te antwoord. Die NHKA is voortdurend op soek na kairos-oomblikke in die prediking ondanks uitdagings soos verminderende getalle of ’n pandemie, of selfs te midde van nuwe geleenthede soos ’n Industriële Revolusie. Die profetiese stem van die NHKA was nog altyd besig om evokatief te vorm en te reformeer binne gemeentes. Dominante diskoerse in die Kerk word deur profetiese prediking gekritiseer of gemobiliseer om die alternatiewe bewussyn in die samelewing te hoor.
In dieselfde onderhoud tussen proff Van Aarde en Dreyer in 2011 antwoord prof Dreyer sy eie vraag oor die missionale karakter van die kerk op ’n profetiese wyse: Ons is God se gestuurdes in die wêreld, maar sukkel om dit reg te kry. Miskien het ons toegelaat dat ons konvensies, gebruike, voorkeure en strukture vir ons belangriker geword het as ons roeping – dalk selfs ’n belemmering. “Wat moet ons doen?” Dit was die vraag van die mense aan Petrus na die uitstorting van die Heilige Gees. Sy antwoord was kort en kragtig: “Bekeer julle.”
Hierdie profetiese stem, saam met die induktiewe wyse van preekmaak en die kreatiewe estetiese kunsvorm, het deel geword van die Kerk se homiletiese karakter. Net soos prof Dreyer in 1989 prediking gedefinieer het binne ’n Reformatoriese raamwerk, kan prediking vandag in die Kerk ook verstaan word binne ’n raamwerk wat die konteks van die hoorder in ag neem en waar die profetiese stem wat kritiseer en evokatief ook ’n gemeenskap kan mobiliseer.
Predikers in die NHKA word uitgedaag om nie-liniêr te werk te gaan wanneer hulle ’n preek voorberei. Die proses van explicatio en applicatio wat gebruik is toe proposisionele waarhede ontdek en verobjektiveer is in die Bybel, is iets van die verlede. ’n Hoorder-georiënteerde kommunikasiemodel van die Nuwe Homiletiek verduidelik die verskillende vlakke van die hoorder beter as die gewone sender-ontvanger-model wat ons dikwels in deduktiewe prediking aantref. Die homileet in die NHKA kan getrou wees aan die Skrif en steeds kreatief wees in haar of sy homiletiese denke. Die struktuur en die eenheid van die prediking speel ’n belangrike rol.
Wanneer ’n hoorder vandag uit die kerk stap, is dit moeilik om die preek af te skud met die gebruiklike handdruk en Dankie, Dominee, omdat die prediking as Woord van God die hoorders aanspreek in hul eie unieke konteks, en die profetiese woord nie net ’n geloofsgemeenskap kritiseer nie, maar hulle ook mobiliseer.
(Dr Hein Delport is leraar in Gemeente Swartkop)