Sonja Herholdt sing liedjieboer Anton Goosen se verlangwoorde: Vat my terug (saam) na die Blouwaterberge … Van heinde en verre kom die kapkarre aan. Die vosperde galop dat die stofduiwels staan. Naby die groot tent hoor jy die gesing. Die blaaslong se kerm in die middel van die kring. Met gemmerbier, koeksisters, koffie en tert kom die kiesers om elkeen sy kruisie te trek. Die aand skoffel almal ’n setees in die skuur of sit by die braaivleis en tuur in die vuur. Want dis stemdag in die blou Waterberge; stemdag in die bosveldkontrei. Oor die vertes soos ’n Nagmaal kom die kapkarre aan om die kiesers by die stembus te kry.
Met die algemene verkiesing van 29 Mei 2024 wat al nader kom, begin verkiesingskoors so stadigaan opbou. Nie net hier in Suid-Afrika nie. Volgens TIME-tydskrif van Desember 2023 gaan ten minste 64 wêreldstate – omtrent 49% van die mense in die wêreld – stembus toe vanjaar.
So dink ’n mens onwillekeurig terug aan ander verkiesings lank gelede. Nee, in die Kerkargief vind ons glad nie verkiesingsmateriaal nie, aangesien dit nie ’n kerklike aangeleentheid is nie. Trouens, in die aanlyn beskikbare uitgawes (tot 1977) van Die Hervormer merk ’n mens op dat die NHKA wegskram van partypolitiek omdat dit so verdelend is. Daar is bitter min artikels oor verkiesings, want De Hervormer (uit 1929) bemoei hom nie met hierdie politieke gemodder nie. Laat ons by alle verskil wat daar is, nie teen mekaar wrok nie, maar mekaar verdra. Omdat kerkmense ook kultuurspore trap, vind ons wel verkiesingsvoorwerpe uit die ou Zuid-Afrikaansche Republiek in die SP Engelbrecht-museum.
Hoe het verkiesings in hierdie historiese Boererepubliek ZAR (1852-1877, 1881-1902) gelyk? Elke vyf jaar is ’n formele landwye verkiesing gehou. Dikwels is stemdag as ’n vakansiedag verklaar, moontlik in Nagmaaltye wanneer mense byeentrek. Dit is interessant om te verneem dat daar nie enige partye as sodanig was waarvoor burgers kon stem nie, maar die fokus was eerder op die beste individu wat verkiesbaar was – politieke leiers, maar ook militêre voorlopers. Die kommandant in die dorp en distrik, die veldkornette en assistent-veldkornette in die wyke. So ook is volksraadslede, lede van die uitvoerende raad (kabinet), staatsekretaris en uiteindelik die staatshoof verkies.
Slegs mans ouer as 21 jaar kon stem en was verkiesbaar. Burgerskap was gekoppel aan grondbesit. Eers in 1930 het wit vroue bo 21 in die Unie van Suid-Afrika stemreg gekry. Maar moeders en eggenotes het sekerlik immer ’n invloed gehad op hoe gestem word.
Dit was dan ook nie nodig dat ’n kandidaat ’n eleksievergadering sou hou nie, want in die goeie ou dae het ’n kandidaat vir die Volksraad nooit homself ingelaat met sy verkiesing nie en dus stemme probeer werf nie. Kerkverband, jou familieafkoms en jou onkreukbare karakter was aanbeveling genoeg. Na ’n rekwisisie of nominasie in die hande van die kandidaat was, het die kiesers self te werk gegaan. Koerantoorloë het wel ontstaan. Openbare kantkiesery en druk in families het dikwels floreer. Dit was so dat die publiek dit sterk sou afgekeur het dat die aspirant-raadslid op die stemdag by die stemming selfs teenwoordig sou wees.
Dit was voorts nie ’n anonieme stem nie. Die stemlyste of kieslote met die landdros teenwoordig, het op ‘n tafel gelê om geteken te word. Dit kan gesien word op die stembriewe, genoem kiesloot of kieslot, uit die ZAR-tyd.
Hiervan is drie voorbeelde in die Kerkmuseum. (A) Handgeskrewe kiesloot vir Volksraadslid. (B) Kieslot vir Staatspresident. (C) Blanko kiesloot vir Staats-President. Die grootte van ’n kiesloot wissel van 9-10 cm x 20-21,5 cm. Hierdie drie kieslote is in perfekte toestand.
(A) Kiesloot No 34. Ik Ondergeteekende Adriaan Erasmus De Lange Stemgeregtigde burger wonende op de plaats Buffelshoek Wyk Zwartruggens distrikt Rustenburg. Z.A.R. Kies tot Volksraadslid den Heer F.G.H. Wolmarans distrikt Rustenburg. Datum 8. July 87. Naamteekening. Dan volg die handtekening van De Lange.
(B) No. 7. Kieslot. M.M. Bekker, Paardeplaats, wijk No 1 klein Marico, distrikt Marico, kies tot Staatspresident S.J.P. Kruger, 23 Januari 1888, Naamtekening.
Die Museum het ook ’n kleurvolle geraamde litografie verkiesingsplakkaat van Staatspresident Paul Kruger tydens sy veldtog vir stemdag Vrydag 12 Mei 1893. Tweetalig, want daar was mos ook burgers wat Engels van geboorte was. Boonop was dit ’n byvoegsel in die koerant The Press / De Pers. Grootte 51 x 36,5 cm. Dis in die Vierkleurvlag se kleure met ’n groen lourierkrans om Kruger se gesig en ’n goue koord aan die vlagpaal.
Die stemmery van die ou Boere so oop en bloot klink dalk vir ons vreemd. Maar alhoewel die Grieke en Romeine reeds dikwels anonieme stemmings gehou het, het Westerse lande eers heelwat later begin stem waar die kieser se identiteit geheim gebly het. Daar was ook natuurlik ’n ingewikkelde verloop totdat bevolkings kon stem vir hul eie regerings. In die Franse 1795-regering ná die Revolusie word ’n geheime stem in die Grondwet bepaal, maar anonieme stemme word vandag die Australian ballot genoem na aanleiding van Tasmanië wat in 1856 anoniem begin stem het. Nieu-Seeland volg in 1870, Brittanje in 1872, en die VSA sedert 1884. Daar was Amerikaanse state waar daar toe nog mondelings gestem is.
In Australië, waar baie Hervormers ook woon en stem, is dit verpligtend om te stem. 92% van die geregistreerdes stem blykbaar. Baie stemlokale is by skole wat die verkiesing as fondsinsamelings mag gebruik. Dis geleenthede waar kos en dies meer verkoop word aan honger, wagtende kiesers. Sogenaamde demokrasie-worsies (democracy sausages) is ’n algemeen bekende gesig tydens Australiese verkiesings. Ons moet eet … en stem! is blykbaar hul leuse. Nie veel anders nie as ons voormense wat van stemdag sommer ook ’n volksfees gemaak het! Gemmerbier, boeretroos, koeksisters, melktert en ’n kiesloot om in te vul!
(Ds Carel Johann de Bruin is emerituspredikant en sekretaris van die Komitee vir die Argief, Museum en Biblioteek)