Ek antwoord nie e-pos op Sondae of publieke vakansiedae nie. Hierdie sin het ek twee jaar gelede tot my e-pos se elektroniese handtekening toegevoeg en sedertdien het die handjievol woorde taamlik reaksie ontlok. Haastige antwoorde op ’n e-pos word nou opgevolg met ’n tweede e-pos-opmerking: Ek hou van jou elektroniese handtekening… of, ek stem volledig saam met die sin wat jy daaronder het… of, dit is ’n interessante gedagte… en dan ook, dit is goed dat jy ’n voorbeeld stel.

Elke keer as ek só ’n reaksie kry, ervaar ek ’n opeenvolging van gewaarwordings, soos domino’s wat ná mekaar omval. Eers ’n kolletjie warmte van medemenslikheid: Nou toe nou, iemand het dit raakgesien! Daarna kom ’n bietjie lekkerkry oor my “waagmoed” om dit in die eerste plek by te sit, omdat ek ook ’n kolletjie vrees het vir etikettering. Dan volg ’n stukkie trots oor my poging om “werk” en “huis” van mekaar af te baken. Ek is vir ’n kort oomblik ook oortuig dat ek dit regkry om hierdie grense te stel.

Maar dan val die laaste domino om en dit stop by moedeloosheid. Telkens wonder ek: Om daardie sinnetjie te waardeer of selfs miskien kortstondig te bewonder, is een ding, maar om dit self toe te pas, en volledig te respekteer, is iets gans anders. Ek lees die sinnetjie weer en wonder wat die werklike rede was vir my destydse besluit, en wat ek daarmee te kenne wou gee.

Daardie sinnetjie is kniediep in ons swaarste grendeltyd in Suid-Afrika geskryf en bygevoeg. Dit was die maand waarin ek stoksielsaligalleen my verjaardag in my woonstel gevier het terwyl ek eintlik in Berlyn moes wees vir lesings. Twee jaar later besef ek dit was ’n poging om my beheer oor my leefruimte terug te neem, en ook ’n poging om die eskalerende web wat die internet – en digitale spinnekop – om my spin, te probeer hokslaan. E-pos was voor die begin van ons grendeltye ’n monster. Tydens grendeltyd het die monster, soos Oubaas van 7de Laan sou sê, “epidermiese proporsies” aangeneem.

Vandag kyk ek terug en wéét dat daardie paar woorde broodnodig was – en is. Dis nie net ’n sinnetjie nie. Dit is ’n kragtige stelling. Die reg om te kan ontkoppel (the right to disconnect) móét tog bestaan en ek behoort dit te kan uitoefen. Maar ek stel myself aanhoudend teleur – net soos Dana Snyman erken het onlangs in sy Kerkbode-artikel, Sosiale media: word vrees en bedreigings aangeblaas? (16 Mei 2022).

Dit is egter nie in my geval sosiale media nie. In 2013 het ek tydens ’n buitelandse kongres besluit om my Facebook-profiel te sluit – en dit is steeds gesluit. Tans is ek besig om te kyk of ek met die Instagram-platform sosiale media ’n kans kan of wil gee. Na twee weke “daar”, is ek egter byna op die punt om dit stop te sit. So, dit is nie sosiale media wat my soos ’n spinnekop in sy web vasvang nie. Dit is die vloedgolf van digitale inligting wat ek moet absorbeer: e-posse, YouTube, aanlyn nuusflitse, aanlyn konferensies, aanlyn kursusse, en WhatsApps, WhatsApps en nogmaals WhatsApps. Die vloedgolf oorweldig my en die spinnekop spin. En ek het eenvoudig nie die energie om die krag van die golf en die web te keer nie, so dikwels gee ek toe en laat my meesleur (of vasvang).

Dit is egter lankal nie meer net ’n kwessie van wilskrag nie.

Die pandemie het dit vererger en op die spits gedryf, maar die mensdom se kompeterende mentaliteit, ons vaste geloof in die positiewe uitwerking van ontwikkeling en vooruitgang (progress) ten spyte daarvan dat ons herhaaldelik onsself in geskiedenis bloedneus vasgeloop het, en mededinging om skaars hulpbronne, het meegebring dat elkeen van ons vir ’n duisend redes bang is om agtergelaat te word en uitgelaat te word. Ons moet meer kan doen, met minder. Gegewe die klimaatskrisis is “minder” wel “meer”: Ons benodig wel oplossings en slim planne om eeue van die mensdom se omgewingsmisbruik te probeer omkeer. Die wêreld is egter in sekere opsigte baie klein en almal ding mee vir ’n plekkie êrens – en daarom moet ons “meer” doen: meer nuwe idees, meer nuwe oplossings, meer uitsette, meer nuwe, beter produkte, meer nuus, vinniger nuus, meer bemarking, meer sigbaarheid op sosialemediaplatforms. Waarheen lei hierdie “meer-mentaliteit”?

In my daaglikse bestaan beteken dit dat ek in enige gegewe stadium 15 items op my doenlys het, waarvan ek by sowat drie of vier uitkom. Die gevolg is ’n tuimeldroërbestaan: Ek val uit een dag uit en val in die volgende een in.

Die ander gevolg is dat ’n mens toenemend aandagafleibaar is en navorsing bevestig dit. ’n Onlangse gesprek met ’n kollega bevestig verder dat dit nie net ék is nie: Omdat ons dikwels soveel verskillende dinge gelyktydig moet doen, en omdat digitale verbindings en tegnologie die illusie skep en versterk dat ons dit kan en moet doen – multitasking – is ons brein toenemend net in staat tot kort intervalle van konsentrasie. Wanneer ek met een taak besig is, het my brein al hoe minder die vermoë om my af te sluit van die 12 ander dinge op die lysie, of van die nuus, of van die e-posse. En die gevolg is dat ek minder werk gedoen kry, en die siklus duur voort. Daar is nou reeds ’n definisie vir tegnologieverslawing en multidissiplinêre studies oor die impak van ’n tegnologieverslawing op liggaamlike en geestesgesondheid.

Grense is nodig om liggaam en siel aan mekaar te hou. Maar só ook is my salaris. So, ek probeer myself troos met ek antwoord nie e-pos op Sondae of publieke vakansiedae nie, maar elke een uit vyf keer kry ek dit nie reg om myself te beskerm en vir ander te leer dat 24 uur se werk, sewe dae ’n week, nie ’n prestasie of menslike deug is nie. Dit is ’n teken van ’n siekte. En wie dra die verantwoordelikheid daarvoor? Is dit my werkgewer wat amptelik dit nie verwag nie, maar die werk só baie maak en die verwagtings só hoog stel dat ek nie werklik ’n keuse het nie? Of is dit ek wat deur my instemming en meedoen aan die stelsel, dit in wese regverdig en voortsit? Is dit ek wat vir mense leer hoe om my te behandel op grond van wat ek toelaat?

Dalk is dit so maklik soos om die spreekwoordelike skakelaar net af te sit. Skakel die slimfoon en tablet af. Ontkoppel die internetverbinding. Ignoreer die WhatsApp-boodskappe en die e-posse. En dan? Hoe betaal ek my rekeninge? Hoe plaas ek geld oor? Koop kos? Koop elektrisiteit? Maak ’n afspraak by die bank, by Binnelandse Sake, by die lisensiekantoor? Hoe sien ek familie wat in Londen woon? Hoe praat ek met die nagraadse student wat in Kenia werk? Hoe bestel ek ’n Uber?

Hierdie vrae laat my dink aan die bekende filmtrilogie van die Matrix, wat almal sowat 20 jaar gelede gaande gehad het. Die trilogie handel oor die verhouding tussen mens en masjien (tegnologie) en dit beeld ’n komplekse filosofiese vraagstuk uit: Wie beheer vir wie? En is ons nie reeds so vasgespin dat ons nie tussen werklikheid en fiksie kan onderskei nie? Daar is ’n baie bekende toneel waarin die burgemeester van die laaste mensbewoonde stad en die hoofkarakter, Neo, in ’n debat gewikkel is, oor “wie in beheer is”. Neo argumenteer dat die mens in beheer is, want ons kan nog die spreekwoordelike skakelaar tog afsit. En dan, vra die burgemeester, wat dan? Waar kom jou vars lug, water, kosproduksie en vervoer vandaan? Die mensbewoonde stad is diep in die aarde se kors versteek sodat die masjiene en rekenaars (die Artificial Intelligence) nie by hulle kan uitkom nie. Derhalwe is al hul lewegewende stelsels van tegnologie afhanklik. Is dit vir ons enigsins anders?

Goed, miskien kan ons onderskei en ’n balans vind tussen lewegewende tegnologie aan die een kant en die internet-sosialemedia-vloedgolf van inligting en die grensloosheid van elektroniese kommunikasie aan die ander kant. Dit beteken egter ons gaan moet leer om die balans eerstens raak te sien, en tweedens toe te eien, en dan verder konsekwent toe te pas. Myns insiens beteken dit minstens dat ons vir mekaar die volgende gun:

Die reg om nie te kompeteer of mee te ding nie: Die idee dat ek vinniger, beter, mooier, ryker moet wees, is ’n boosaardige euwel. Is daar regtig so iets soos “gesonde kompetisie”? Die najaag van aansien en groter getalle is ’n vergiftigende illusie. Dit vat alles en gee niks in ruil daarvoor nie. Êrens het ons die vermoë verleer om trots en tevrede te wees met wat ons nóú het. Hiermee saam gaan die reg om nie te multitask nie. Die feit dat ons multitasking tot menslike deug verhef het, is ’n simptoom van die mate waarin ons vasgespin is in die web en vasgevang is in die net.

Die reg om te ontkoppel: Die Franse regering het so ’n paar jaar gelede die reg om te ontkoppel (the right to disconnect) deel van hul arbeidswetgewing gemaak. Die res van die arbeidswetgewing was kontroversieel, maar hierdie toevoeging is ’n erkenning dat die mensdom ons verhouding met tegnologie en digitale verbindings gaan moet uitklaar – en dat ons beskerming teen digitale verbintenisse nodig het. In my werkskonteks beteken dit ek het die reg om nie op ’n Sondag of ’n vakansiedag ’n e-pos te beantwoord nie, en dat ek die reg het om nie na-ure op ’n werkgewer se WhatApp-boodskap te antwoord nie. Dit behoort my ook die ruimte te gee om alle skerms, telefoon- en internetverbindings periodiek af te skakel sonder skuldgevoelens, of vrees vir etikettering of uitsluiting.

Daarom is ek antwoord nie e-pos op Sondae en vakansiedae nie ’n protes. Dit is my protes teen die vloedgolf en die web van verbindings, inligting en tegnologie. Dit is my protes teen die always on-kultuur van ons tyd. Ek gaan aanhou oefen om te protesteer en miskien kry ek – en ons – dit reg om dít te systap waarvan Koos du Plessis in Grafskrif skryf:

Sy lewe lank was hy in transito:
op pad van iewers;
op reis na êrens

Of is dit nêrens?

(Prof Tanya van Wyk is medeprofessor in Sistematiese en Historiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap