Gesondheid en welstand word dikwels gemeet aan mense se veerkragtigheid (resilience). Veerkragtigheid het te doen met die menslike vermoë om te herstel, “terug te bons” na die belewenis van trauma en teenslae in die lewe. Mense se vermoë om te herstel na trauma word bepaal deur hul innerlike krag, positiewe lewenshouding en gewoontes, en eksterne hulpbronne soos hul familie, godsdiens, kultuur en die gemeenskap waarin hulle leef.
Die navorsing oor veerkragtigheid is ’n omvattende veld. In hierdie artikel wil ek aandag gee aan die Community Resiliency Model (CRM). Dit is deel van die Trauma Resiliency Model (TRM) wat bekend geword het deur die werk van onder andere Linda Grabbe en Elaine Miller-Karas. Die CRM as eerste deel van die TRM, is deel van selfsorghandelinge wat deur enigiemand beoefen kan word vir emosionele stabilisering in traumasituasies of emosionele nood.
Volgens hierdie model het elke mens ’n veerkragtigheidsone – Resilient Zone (RZ). Die veerkragtigheidsone (RZ) verwys na die natuurlike ritme of gebalanseerde vloei van energie en menslike vitaliteit, die staat waarin ’n mens goed kan funksioneer en jou beste self kan wees. Binne hierdie sone is ons in staat om die op en af van die lewe te hanteer, hartseer te wees, kwaad te wees, en steeds konstruktief te funksioneer (sien figuur hieronder).
Sommige persone het as gevolg van hul temperament of lewensuitkyk ’n aangebore smal veerkragtigheidsone, terwyl ander ’n natuurlike wye veerkragtigheidsone het. Ons het almal smal veerkragtigheidsones wanneer ons honger, kwaad, moeg, verveeld, eensaam of in pyn is, wat die moontlikheid verhoog dat ons uit ons veerkragtigheidsone gestamp kan word. Dan Siegel beskryf die veerkragtigheidsone as die window of tolerance.
Wanneer ons trauma en spanning ervaar, word ons uit ons veerkragtigheidsone gestamp. Die stamp kan na bo (hoë sone) of na onder (lae sone) wees (sien figuur hieronder).
Wanneer ’n mens uit jou veerkragtigheidsone gestamp word, help die CRM-vaardighede jou om bewus te word van die liggaamsensasies wat met woede en prikkelbaarheid in die hoë sone gepaard gaan, of depressie en hartseer in die lae sone.
Die TRM gebruik ’n stel van nege vaardighede om die senuweestelsel te stabiliseer, wat die simptome van traumatiese stres kan voorkom of verminder, en gebruik kan word om traumatiese ervarings te verwerk. Die eerste ses selfreguleringsvaardighede van TRM word gebruik in CRM. Hierdie ses selfreguleringsvaardighede wat aangeleer kan word en gebruik kan word om terug te keer na jou veerkragtigheidsone wanneer jy uit jou veerkragtigheidsone gestamp word, word soos volg benoem: Die eerste vaardigheid is tracking, die tweede is resourcing and resource intensification, die derde is grounding, die vierde is gesturing, die vyfde is help now, en die sesde is shift and stay.
Die tracking-vaardigheid behels die naspeuring en beskrywing van die interne en eksterne liggaamsensasies. So word die fisiese reaksie op stres gemonitor, en word geleer om te onderskei tussen sensasies wat op spanning dui en sensasies wat ervaar word wanneer jy in jou veerkragtigheidsone is.
Met die gebruik van die vaardigheid van resourcing and resource intensification wanneer jy uit jou veerkragtigheidsone gestamp is, word gefokus op ’n eksterne bron, ’n persoon, ’n plek of herinnering, ’n dier, aktiwiteit of geloofswaarheid, wat ’n gevoel van vrede en vreugde bring. Terwyl jy daaraan dink, neem jy jou liggaam se reaksie op dit waaraan jy dink waar. Laat dit jou gespanne of meer ontspanne voel? Sit vir ’n oomblik in daardie ruimte van ontspanning.
Grounding gaan oor bewus wees van jou voete wat op die grond rus, jou liggaam se kontak met die stoel, die klere teen jou vel. Die bewus wees van jou liggaamskontak met oppervlaktes maak jou teenwoordig in die oomblik, die hier en die nou, en dit bring ’n gevoel van veiligheid en beheer.
Gesturing gaan oor die bewuste gebruik van gebare wat herhaal word en wat gerusstellend is, soos om jou hande in ’n biddende gebaar te hou.
Help now verskuif die fokus weg van die emosie wat jou oorweldig. Die fokus word verskuif deur op te staan en byvoorbeeld ’n glas water te drink, te dink aan ’n spesifieke kleur, of teen ’n muur te druk.
Met die gebruik van die vaardigheid van shift and stay word rekening gehou met interne en eksterne snellers wat vrees, angs, woede, hartseer en isolasie veroorsaak. Wanneer jy bewus word dat iets jou uit jou veerkragtigheidsone gestamp het, gebruik jy die vaardigheid wat die beste vir jou werk om weer in jou veerkragtigheidsone terug te beweeg.
In die uitdagende tye waarin ons leef, waarin trauma en spanningsvolle situasies deel is van ons lewe van elke dag, kan ’n beter verstaan van hoe trauma ons affekteer en hoe om ’n weg daarmee te vind, ons lewenskwaliteit verbeter. Geloof en vertroue in God is die bron van ons innerlike krag wat ons bemagtig om hierdie vaardighede te gebruik om onsself terug te kry in ons veerkragtigheidsone. Dit is die sone waarin ons optimaal kan funksioneer, die beste mens kan wees wat God ons roep om te wees. Dit kan ook gebruik word om ander wat oorweldig word deur dit wat hulle ervaar, te help om hul veerkragtigheid te herwin.
Jy kan die CRM gebruik of meer daarvan te wete kom deur die gratis toepassing iChill op jou foon af te laai.
(Dr Annelie Botha is senior dosent in Praktiese Teologie aan UP, en leraar in Gemeente Kempten)