Die 73ste Algemene Kerkvergadering van die NHKA vind vanjaar van Sondag 2 Oktober tot Donderdag 6 Oktober plaas. Hierdie vergaderings bied ’n besondere geleentheid vir die predikante van die Kerk om bymekaar te kom, en die besluite wat deur die afgevaardigdes geneem word, gee belangrike leiding en dui die rigting aan vir wat daarna in die Kerk gebeur.
3 Mei 1983 e.v.d. Dit is die datum wat aangedui word op die buiteblad van die agenda van die eerste AKV wat ek bygewoon het as geordende predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Dit het plaasgevind in wat toe nog genoem was die Dirk van der Hoffsaal, Pretoria. Dié saal sou later hernoem word tot die Goddefroysaal.
Ek meld, ge-toga en ge-bef, om 10:00 daardie Maandagoggend aan vir die opening. My haartjies is mooi kortgeknip en ek is die fiksste en maerste wat ek ooit in my lewe was, aangesien ek besig was met diensplig as kapelaan in die Suid-Afrikaanse Polisie. Ek kom baie gou agter dat, in teenstelling met die naam van die vergadering, dit alles behalwe ’n algemene vergadering is…
Die eerbiedwaardigheid van die vergadering maak dit alles behalwe algemeen
Ek onthou hoe ek vinnig vir my ’n sitplek gesoek het op die verste punt in die heel agterste ry van die saal en my sit en verwonder het aan al die statige dominees in hul togas en bewwe en die waardige ouderlinge in hul swart pakke en wit strikdasse. Eers later in die vergadering is besluit dat ampsdraers dasse mag dra. Een van die argumente was dat, met die koms van vrouepredikante en -ouderlinge, die verpligting om ’n wit bef of strikdas te dra nie meer toepaslik was nie.
Na die opening, waar ek die eerste keer die sang by ’n AKV beleef het (dit gee my vandag nog hoendervleis), neem die uittredende Kommissie sitting op die verhoog. Die voorsitter was prof Bart Oberholzer en hy, saam met die ander predikantslede, het oneindige respek by my afgedwing. Ek onthou dat ek hulle gesien het as baie waardige, maar tog ook baie ou omies. Dit tref my die ander dag met ’n skok dat ek nou tien jaar ouer is as wat prof Bart en sy tydgenote in 1983 was…
Die ritme van vergaderings maak dat dit nie iets algemeen is nie
Ek woon, DV, vanjaar my laaste AKV by voor ek emeriteer. Dit sal die 73ste AKV wees, wat beteken dat ek in my bedieningstyd van 39 jaar slegs 14 gewone vergaderings bygewoon het. Daar was drie buitengewone vergaderings in dié tyd, een om die nuwe Liedboek goed te keur, een vir die nuwe Kerkorde, en een rondom die besluite oor die Bybelse regverdiging van apartheid. 17 vergaderings in 39 jaar beteken dat dié vergaderings nie baie gereeld plaasvind nie, en vir my persoonlik was elke AKV ’n groot gebeurtenis.
Die verloop van ‘n AKV is alles behalwe al-gemeen
Die agenda van die 1983 AKV het 375 bladsye beslaan, met 79 bladsye se bylaes. Die tegnologie om beide kante van ’n bladsy te druk, het nog nie bestaan nie en daarom het die agenda ’n stewige 2,405 kg geweeg. Die dikste agenda in my besit, so met die oog geskat, is dié van die 65ste AKV van 1998. Dié agenda, saam met die bylaes, het ’n allemintige 780 bladsye beslaan.
(Kyk hieronder vir ’n seleksie van Agenda-voorblaaie.)
Elke AKV het sy eie karakter gehad en daar was baie hoogtepunte, maar ook heelwat laagtepunte. ’n Laagtepunt wat nou nog by my spook, was toe ’n vergadering in die 1980’s in die Goddefroysaal lank debat daaroor gevoer het of ’n verteenwoordiger van die Hervormde Kerk in Suidelike Afrika toegelaat kon word om ’n groeteboodskap aan die AKV oor te dra. Daar is lank gedebatteer en uiteindelik is besluit dat die swart predikant van die HKSA, wat heeltyd in die voorportaal gestaan en wag het, toegelaat kan word om die groeteboodskap oor te dra, maar dat hy direk daarna die saal moes verlaat. Hy kon groet, maar hy mag nie gesit het nie…
Vir my persoonlik was die hoogtepunt die besluit wat die AKV in 2010 geneem het dat apartheid nie op Bybelse gronde geregverdig kan word nie, ’n besluit wat by die daaropvolgende buitengewone AKV met ’n groter meerderheid herbevestig is. Ek hanteer al vir ’n klomp jare die elektroniese stemmery by die vergaderings en was daarom in 2010 die heel eerste persoon wat die uitslag gesien het toe daar oor Besluit 54 gestem is. Die uitslag het gevolg op ’n lang en baie gespanne debat. Toe ek sien dat die voorstel aanvaar is, het ek, getrou aan my aard, onmiddellik in trane uitgebars en ek kon vir ’n paar minute nie praat nie. Die hele vergadering het met groot afwagting na my gesit en kyk. Uiteindelik kon ek die uitslag uitworstel: Die voorstel is aanvaar.
Dat die hele Kerk in ’n vergadering bymekaarkom, is nie iets algemeen nie
Van my kollegas, veral in die NG Kerk, het al verskeie kere vir my gesê dat ons nie besef nie hoe bevoorreg ons is dat elke gemeente van die Kerk tydens ’n AKV teenwoordig kan wees. Natuurlik is nie al die gemeentes elke keer teenwoordig nie, maar elke gemeente het die geleentheid om daar te wees, deel te neem aan die gesprekke en deel te wees van die besluitneming. Met die deurblaai deur die 1983-agenda, sien ek dat daar toe al gepraat is oor die verkleining van die AKV, soos by bykans elke vergadering daarna. Dit het gelukkig nog nooit gebeur nie. Dat ons ’n klein genoeg kerk is dat almal kan deelneem aan die besluitneming by ’n AKV, is en bly ’n kosbare voorreg en is ’n saambindende krag waarvan ek dink ons nie altyd die waarde besef nie.
Juis daarom is dit vir my ’n bittersoet wete as ek besef dat hierdie jaar se AKV my laaste een gaan wees as “amptelike” afgevaardigde.
(Ds Etienne Fourie is leraar in Gemeente Kempten)




