In sy boek Church emerging from the cracks (2012) bespreek Johann Meylahn die belang van liminale spasies in die kerk. Spasies van tussenin. Hierdie spasies is vir Meylahn ’n dans met vyf bewegings: Luister; Interpreteer; Onderskei; Digkuns; en Omhelsing; wat dan weer lei tot Luister. Dit is ’n dans, want dit verloop organies, ’n mens maak voetfoute saam met jou maat en probeer dan weer, maar van kritieke belang is dat dit ’n nabye verhouding tussen mense is.

Daar moet hierdie nabye verhoudings wees vir liminaliteit om te bestaan. Moontlik is die ware eindpunt van liminaliteit opregte en veilige verhoudings. Maar verhoudings kry seer en verbrokkel wanneer ons mag in die prentjie bring, veral die tipe mag wat ons gebruik wanneer ons ’n verhouding betree as die “kenner”.

Die wêreldberoemde sielkundige Philip Zimbardo waarsku teen die misbruik van kennis, veral as dit verhoudings laat verbrokkel en persone se identiteit wegneem. In sy boek The Lucifer Effect (2008) word hy deur ’n joernalis gevra of hy boosheid in een sin kan opsom, waarop Zimbardo antwoord: Knowing better but doing worse. Dit is juis wanneer ons kennis die ding word wat ons keer om beter te wees dat mense rondom ons nie meer welkom voel nie. Wanneer dit ons verskoning word om nie die regte ding te doen nie en nie spasies te skep nie vir dié wat spasie nodig het, en nie te luister na dié wie se stemme nie gehoor word nie. Dit is dan dat ons gasvryheid verruil vir die mag en gemak wat ons eie kennis ons bied.

In ’n onlangse publikasie in Nederland [Du Toit, CD & Magnee, K, 2022, “Brief 7: Over gastvrijheid en inclusiviteit”, in W van Veelen (ed), Zeven brieven uit de wereldkerk, Vuurbaak, Amersfoort] het ek die PKN (Protestantse Kerk in Nederland) gekritiseer oor hul gebrek aan gasvryheid en dat hulle hul kennis gebruik om die “ander”, dié wat juis smag na veilige spasies, eenkant te hou. Hulle hou aan vasklou aan hul ou maniere van weet en verstaan, tog glo hulle dat hulle baie progressief, relevant en hedendaags is. Dit het belangriker geword vir hul kerksisteme om uit hul eie kennis vir mense te sê wat hulle nodig het, eerder as om te luister na wat hulle nodig het. Daar is bloot geen spasie vir verhoudings nie as ’n mens, nog voor jy iemand se hart gehoor het, vir ander voorskryf wat hulle nodig het. In Markus 10: 51 is Jesus se eerste aksie teenoor die blinde Bartimeus nie om sy kennis te gebruik om vir Bartimeus te sê wat hy nodig het nie, maar eerder vra Jesus vir hom: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? Jesus herinner ons om ander lief te hê op die manier wat hulle nodig het, nie op die manier wat ons wil nie.

Ek het ’n paar studente en jong leraars gevra om by te dra tot die artikel met hul eie drome, vrae en frustrasies oor die kerk. Hieronder volg hul woorde. Kom ons skep liminale spasies waar daar geen kenners is nie, maar waar ons ook leer, waar ons veilig verlore en gebroke kan wees en egte verhoudings kan bou.

Een van die grootste geskenke (veral ten opsigte van vandag se uitdagende omstandighede) wat die kerk aan die jeug kan gee, is om ’n vangnet te wees. Die jeug het ’n plek nodig om kwesbaar te wees, maar ook om weer te herstel. As dit nie die kerk gaan wees nie, dan gaan die jeug dit op ander plekke soek wat net meer skade gaan maak. (Helga du Plessis)

Die kerk kan ons beter bystaan deur ’n plek te bied waar ons onsself kan wees sonder om bekommerd te wees dat ons geoordeel word. Dit kan bewerkstellig word deur objektief en eerlik na ons onsekerhede, navrae en selfs foute te luister. Die kerk kan ons ook ondersteun deur ’n egte omgewing aan te moedig. Die kerk kan ontwikkel tot ’n plek waar ons werklik kan verbind en gemeenskap kan ervaar deur eerlik ons vreugde en lyding te deel. (Carien Janeke)

Die gemeente moet die plek wees waar die jeug vertrou word, ’n stem het (en dit kan deel), verhoudings kan bou, bemagtig kan word vir die wêreld daarbuite en getuienis kan wees tot die lewendige verhoudings wat ons het met die Here. Dit gaan nie net daaroor om gevolgtrekkings te maak vir die jeug nie, maar om nuwe moontlikhede oop te breek en hulle uit te nooi om deel te word van God se volk. (Annia van Deventer)

Dit is ons verantwoordelikheid om met kundigheid, deernis en moeite betrokke te raak daar waar die jeug alreeds is. Om net nog ’n nuwe geleentheid te skep, verval ons net in dieselfde denkwyse wat nog geen resultate gebring het nie. Daarom die konsep van Netwerk. Want dit is nie “NET WERK” nie, maar ’n verbintenis, ’n spasie om die hulpbronne wat daar alreeds is met mekaar te deel, en te bou, om op ’n integrale manier deel te wees. (Lamé Janse van Rensburg)

Kinders moet gehoor word om gesien te kan word. Daar waar ’n mens met ’n ontvanklike hart luister, is waar ’n mens diep konneksies kan maak en koester. Ons elkeen weet hoe graag ons ’n plekkie soek waar ons veilig kan wees, en waar ons weet ons hartsake in ag geneem word. Ons wil ondersteuning hê, en ons wil weet dat ons gehoor en raakgesien word. Ons het ondersteuning en hulp nodig om ons jongmense te hoor en te sien, om ons toekoms te bewaar, en ons medemense te koester in geloof. (Annami McClintock)

(Charel D du Toit is ’n navorsingsassosiaat van UP se Fakulteit Teologie en Religie en projekbestuurder vir die Oxford (UP) Centre for Religion, Public Life and Security in Africa terwyl hy sy PhD voltooi aan UP en die Vrije Universiteit Amsterdam)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap