Wolfgang Amadeus Mozart het die orrel die Koning van Instrumente genoem. Ek is bly ek bevind my in sulke uitgelese geselskap, want dis presies hoe ek oor ’n orrel voel, veral as dit kom by die begeleiding van sang in ’n erediens. Toe ons dus die tyding kry dat Gemeente Kempten se pyporrel goed op pad is na die versorgingseenheid in ’n orrel-ouetehuis, was dit vir my en die gemeente ’n bron van groot kommer.
Dit het so gebeur: Die orrelbouer wat altyd na ons orrel omgesien het, het afgetree. Hy het sy besigheid oorhandig aan ’n Zimbabwiër, Archie Devere, wat vir 20 jaar saam met die orrelbouer gewerk het. Archie het ons orrel kom stem en hy het met vars oë na die orrel gekyk. Hy het ook tot diep in die orrelkas geklim om te kyk wat daar aangaan.
Die nuus was nie goed nie. Daar het ruim 40 jaar se stof in die kas gelê en dit het elke keer as daar lug deur die pype gevoer word, opgewarrel en dan weer gaan lê. Die stof het onder andere ook gaan lê op die meganiese sluitmeganismes wat die lugvloei beheer en daar groot skade aangerig. Die elektriese motor wat die blaaspomp aandryf, was ook al ver verby aftreeouderdom. Die orrel het dringend ’n verjongingskuur nodig gehad.
Archie het vir ons ’n beraamde koste gegee. Ons het besluit dat, buig of bars, ons orrel moet weer klink soos ’n tiener wat sing in die Drakensbergse Seunskoor. Gemeente Kempten het in 2022 haar 50ste bestaansjaar gevier en ons het ’n projek daarrondom geloods en vir die gemeente gevra om by te dra tot die Goue Jubileumfonds deur ’n 50 met een, twee of drie nulle te skenk. Die gemeente het ruim bygedra en teen die verjaardagdatum van die gemeente in Julie het ons genoeg geld in die fonds gehad vir die herstelwerk aan die orrel.
Archie het weer kom kyk en selfs ons baie brawe orrelis, Sandra Willers, oorreed om saam die hoë leer te klim sodat sy met haar eie oë die toestand van die orrel kon aanskou. Archie se program was vol en die herstelwerk is geskeduleer om oor twee weke in Februarie 2023 plaas te vind. Voor Archie-hulle kon begin werk, moes die ou motor eers ontkoppel en die elektriese bekabeling opgegradeer word. Henk Horn, ’n uiters bekwame elektrisiën in die gemeente, het vir ons dié werk gedoen.
Archie, sy broer Darryll, en nog ’n tegnikus, Ananias Teane, het aan die werk gespring en gou-gou was die orrel letterlik in ’n duisend stukkies. Die 21 pype wat ’n mens sien as jy na die orrelkas kyk, is maar net vir die mooi daar. Die eintlike klank kom van die meer as 1 200 pype in die orrelkas. Ons is vooraf gewaarsku dat die pype baie versigtig hanteer moet word en dat hulle vir ’n goeie tien dae op een vleuel van die kerkbanke uitgepak sou word. Ek het die gemeentelede wat gewoond was om in ’n afgesperde deel van die kerk te sit, probeer oortuig dat hulle ’n nuwe, vars perspektief op die prediking sou kry as hulle vir een Sondag aan die ander kant van die kerk sit…
Arme Archie en sy span is gekortwiek deur die ellendige beurtkrag, maar hulle het kop neergesit en vroeër begin en later klaargemaak om te sorg dat hulle steeds op skedule kon bly. Elke pyp is liefderik met die hand skoongemaak, nuwe elektronies beheerde sluitmeganismes, wat Archie en Darryl self ontwerp het, is geïnstalleer, en die pype is een vir een op hul plekke teruggeplaas.
En so het ons orrel weer stadig-stadig begin lewe kry. Dit was ’n aangrypende oomblik toe die eerste noot weer gespeel word. Meer en meer note het bygekom en is getoets, en meer en meer het die note begin saamvloei, totdat Archie wegtrek met Handel se Halleluja wat die dakbalke laat lig. Dis verruklik mooi, soos wyle mej Susan Engelbrecht altyd gesê het.
Nou doem ’n nuwe probleem op: Die beurtkragskedule wys dat vir die afsienbare toekoms daar net mooi in eredienstyd nie krag gaan wees nie. Die orrel gaan mos voel soos Eben Etzebeth wat herstel het na ’n besering maar dan nie weer speelkans kry nie! Ons het ’n fris kragopwekker, maar dié is nie fris genoeg vir die driefasekrag waarop die orrel hardloop nie. Archie sê dat daar ’n plan gemaak kan word. ’n Mens installeer iets wat ’n VSD genoem word wat maak dat die orrel deur die kragopwekker aangedryf sal kan word.
Daar is ’n paar voetangels: Dit kan tot R16 000 kos vir dié werkie om afgehandel te word, en die twee mense na wie Archie ons verwys, is albei baie besig en sê dat dit ’n tydjie gaan vat om die nodige onderdele in die hande te kry. En almal is al uitgenooi na die orrelinwyding op 12 Maart.
Soos met so baie dinge rondom die herstel van ons orrel, gryp ’n Hoër Hand in en alles val in plek. Ek bekla my lot by Hennie en hy sê: Maar dis my broer Allen se spesialiteitsveld! Allen is ook ’n gemeentelid, hy vind pryse uit, die dominee soebat, en een erediens later het ons die R6 500 wat nodig is om die werk gedoen te kry. ’n Week later brul die kragopwekker en sing die orrel!
Jesu’, Joy of Man’s Desiring het nog nooit so mooi geklink nie, en Is dit, is dit my Koning is nog nooit met soveel gevoel gesing en begelei nie.
Presies op 12 Maart word beurtkrag afgeskaal na Vlak 1. Tot Eskom het saamgespeel om ons pensioenaris-orrel te laat herleef as die nuutste en jongste sangsensasie!
(Ds Etienne Fourie het aan die einde van Maart vanjaar geëmeriteer in Gemeente Kempten)