Ek kry hom op die pastorie se grasperk. Dis nie vir my ’n vreemde gesig nie. Moedeloses en weerloses kom klop dikwels aan. Jy kan van ver af die swaarkry op hulle gesigte lees. Ek het al dikwels gewonder wat wérklik agter elke plooi en kreukel van die “baie myle geloop” gesigte skuil.
Hy kyk angstig in my rigting toe ek oudergewoonte met ’n vaart op die kerkwerf aangejaag kom. Ek ken al elke storie oor ellende en die sogenaamde dringende behoefte aan geld om by die een of ander bestemming uit te kom vir ’n nuwe, lonende betrekking. Of die behoefte aan middele van welke aard ook al om kinderkrisisse op te los. Niemand sal my sommer meer om die bos lei nie.
My naam is Jan, sê hy met ’n skor stem. Ek kom van die Noord-Kaap af. My voete wil nie meer nie, Meneer. Kan ek asseblief net op jou grasperk bly sit tot môre vroeg, dan sal my voete weer kan loop en sal ek kan koers vat.
Iets aan sy voorkoms en manier van praat maak ’n deernis in my wakker wat moeilik verklaarbaar is. Ek besef ek het deur die jare agterdogtig en sinies geraak oor elkeen wat my ruimte op so ’n manier betree. Soms kom Jesus se woorde egter duideliker by ’n mens op as ander kere: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie (Matt 25: 45).
Ek besluit, sonder om enigeen daarin te ken, om ’n deurtjie in ons reuse-kerkkompleks oop te sluit, en om vir Jan met armsvol beddegoed daarheen te neem. Daar word vir kos en al die middele wat hy gedurende die nag sou nodig hê, gesorg. Ek moet bieg dat daar tog maar ’n element van onrustigheid in my binneste geleef het. Al die tipiese voorwaardes wat ons aan barmhartigheid koppel: Sê nou maar hy steel iets; sê nou maar hy breek iets; sê nou maar hy vertel vir elke mens wat sy pad kruis hiervan en voor ons kan keer word ons deur ’n vloedgolf van behoeftiges getref. Ek bêre hierdie gedagtes toe eers diep in my agterkop.
Terwyl ek rustig in my bed lê daardie aand, is my voorneme eenvoudig: Wanneer ek môre vroeg met hom gaan gesels, sal ek in meer besonderhede vra na sy behoeftes en dan kyk of ons nie mense wat soortgelyke nood beleef, op die een of ander manier kan help nie.
Ek het nooit die kans gekry nie. Mý vroeg en sý vroeg was nie dieselfde vroeg nie. Die ruimte wat hy kon benut vir die nag was blinkskoon en die eetgerei en beddegoed netjies bymekaar in die hoek van die vertrek. Ek was aangenaam verras daaroor. Dikwels hoor ’n mens staaltjies van mense wat nie waardeer wat vir hulle gedoen word nie. Jan was duidelik netjies en opreg dankbaar. Hy het weer pad gevat met moeë voete en voosgetrapte skoene en al.
Ek het later hieroor gesels met een van ons kerkraadslede. Dit het gelei tot verdere gesprekke oor koffiekoppies na eredienste. Trouens, sy storie het ’n beweging aan die gang gesit. Ons gemeente is vir ’n geruime tyd al doenig in die breër gemeenskap. Ons gemeenskapsentrum het reeds meer as 140 huisgesinne geregistreer wat kom kos haal elke Donderdag. Ons omgeekring bied ’n stem vir die stemloses in ons gemeenskap. Die omgeekring het ’n bron van liefde en hoop geword oor die laaste byna twee jaar. Hierdie nuwe uitdaging van haweloses wat van ver af kom en wat net ’n “herberg” soek om aan ’n moeë, vernielde liggaam ’n aand se rus te gee, moes op die een of ander manier hanteer word.
Ons geboue, soos baie ander, is opgerig in ’n tyd toe geld volop was en strukture maklik verrys het. Ons het selfs ’n muurbalbaan aan die agterkant van die kerk. ’n Muurbalbaan wat byna onbenut staan. Die jeug gebruik dit een maal per jaar om ’n spookhuis vir die karnaval te bou. Verder sal enkelinge dalk so een maal per maand ’n paar balle kom slaan vir oefening. Dit sou nie moeilik wees om die baan te omskep in ’n oornagfasiliteit nie, want dit het ’n eie stort, toilet en wasbak. Al wat verder nodig was, was om ’n paar beddens in te dra, ’n klompie benodighede soos seep, waslappe, tandeborsels en ander noodsaaklikhede bymekaar te maak. Die gedagte is dat elke gas darem met basiese middele daar sal wegstap en met ’n vol maag die volgende deel van hulle pad sal aandurf. Die kerkraad was baie positief hieroor en die struktuur is gevorm. Iets uit niets gebore.
Ek het dikwels gewonder of ek ooit weer die geleentheid sou kry om met Jan te gesels. Ek het gewonder waar hy eindelik geland het en of hy êrens in sy omswerwinge darem ’n kring van liefde en omgee gevind het. Ek wonder steeds of hy ooit sal weet dat sy voete se weiering om ’n enkele tree verder te gee, ’n herberg laat ontstaan het. Ek glo die Here het geweet om vir Jan na ons adres te stuur sodat ons daarna nuut kon dink om ’n verskil in ons gemeenskap te probeer maak. Die Muurbalherberg se deure is nou oop.
(Ds David Barnard is leraar in Gemeente Magaliesmoot)
