Die Biblioteek (Bybel) beskik oor kosbare verhale met onskatbare wonders, wat mense eeue lank aan mekaar vertel het. Wat verloor ons as ons vir ons kinders ’n verhaal “lees” wat aanvanklik “vertel” was?
In die Biblioteek (Bybel) vind ons soveel meer as net tekste van bemoediging, hoop, genade, liefde en riglyne vir die geloofslewe. Ons lees stories wat in terme van plot, aksie, dialoog, krisisse en omkeerpunte draaie hardloop rondom dit wat ons op televisieskerms sien. Ongelukkig het ons hantering van die Skrif so verander dat ons hierdie indrukwekkende stories nie meer as stories lees en vertel nie. Ons het dit so versigtig en met soveel respek begin hanteer dat ons die verbeelding, humor en selfs die wonder daaruit gehaal het.
Dit het veroorsaak dat daar nie meer ’n hunkering is om Bybelverhale te lees of te leer nie, want dit het ’n “amptelike handeling” geword. Dit het iets geword wat ’n mens móét doen, iets waarvoor jy in jou dag tyd móét maak, en daarom het dit iets geword wat vir kinders ’n hindernis in plaas van ’n geleentheid is.
Die bedoeling van GLOmedia se Storie-Ark is om sonder preke, sonder teologie, sonder groot woorde, hierdie aangrypende verhale in die Biblioteek(Bybel) net weer aan ons kinders te vertel. Die klem van die projek is natuurlik die vertelling, met al die nodige stemme, drama en opwinding, om dit so geloofwaardig moontlik in hul verbeelding te laat afspeel. Daarom is die dialoog nie presies soos ons dit in ’n amptelike vertaling van die Bybel lees nie, maar eerder gelykstaande aan ’n dialoog wat vir ’n kind se verbeeling realisties en relevant is.
Daarom vertel ons hierdie kosbare verhale ook binne vyf minute om die kern van elke verhaal vas te vang. Op hierdie wyse probeer ons die integriteit van die teks beskerm, maar ook ’n nuwe lewe aan die teks gee om waardering vir en ’n honger na die Bybelverhale te kweek.
In hierdie vertellings gebruik ons nie tekenprente of videogrepe nie, ons gebruik ook nie ander effekte om die verhaal visueel te ondersteun nie. Met ’n effektiewe vertelling van die verhale hoop ons om elke kind se verbeelding so te stimuleer dat hulle die verhaal werklik hul eie sal maak en dit sal onthou na afloop van die vyf minute.
Ons het begin om die Bybel van die Ou Testament af, van die begin (skepping) af, in vyf-minute-episodes op te neem, om so ons kinders se Bybelkennis op te skerp. Ons hoop om in een vertelling ’n respek vir die Skrif sowel as ’n verwondering vir die verhale te bewerkstellig. Ds Anel Boshoff volg dieselfde benadering om die Nuwe Testament se verhale ook weer nuwe lewe te gee.
GLOmedia stel op ’n gereelde basis nuwe video’s beskikbaar met die hoop dat dit in die daaglikse roetines van ons kinders ’n plek sal vind. Met die sosiale inperking het GLOmedia ook besluit om ’n aantal video’s gratis beskikbaar te stel sodat ons gemeentelede hul kinders daarmee kan besig hou.
Bybelkennis wissel baie onder ons kinders. Van ons vyfjariges kan die tien gebooie in volgorde opnoem, terwyl sommige 18-jariges nie weet wie Paulus was nie. Indien ons kinders nie die Bybelverhale ken nie, sal hulle nie die Bybel wil of kan gebruik nie. Dit is dan so goed soos ’n vliegtuig in jou agterplaas wat jou enige plek kan neem, maar jy het geen idee hoe om dit te vlieg nie.
Ons probeer om ons kinders, by wyse van spreke, hul vliegtuig te leer vlieg, met eenvoudige maar lewendige vertellings uit die Woord van God. Ons hoop ons ouers, voogde en opvoeders sal die waarde van hierdie projek ook raaksien.
