Dit voel soos ’n ewigheid sedert ons lewens verander is toe ’n toeris na afloop van ’n vakansie in Italië die eerste persoon in Suid Afrika was wat positief met Covid-19 getoets is.

Eers het alles onwerklik gevoel: die isolasie, die skole wat sluit, mense wat hul werk en inkomste verloor, bekendes wat siek word en sterf. Ja, die harde werklikheid van hierdie jaar, 2020, het almal van ons op die een of ander manier getref.

Pas het ’n artikel in Beeld verskyn wat berig het dat predikante van ons kerk “afbetaal” en gemeentes toegemaak gaan word. Bekommerde predikante en lidmate het mekaar geskakel en angsbevange gevra waarvan weet die koerant wat hulle nie van weet nie. Ek was self aanvanklik ontsteld, maar toe raak ek rustig en besef dat dit wat daar staan, hoewel hard en in die taal van die wêreld, tog waar is. Hoe kan dit nie? Wat laat ons as kerk dink dat ons van die werklikheid van hierdie pandemie gevrywaar gaan word? Ons leef tog nie êrens op ’n eiland, ver weg van die realiteite van hierdie lewe nie. Nee, die kerk, hoewel nie van hierdie wêreld nie, leef en werk in hierdie wêreld.

Dr Barry Tolmay skryf in sy artikel oor hoe die wêreld, ja die wêreld van die kerk, ná Covid-19 gaan lyk. As ekonome voorspel dat die ekonomie ná Covid-19 met 7% gaan krimp, moet ons besef dat ons gemeentes se inkomste ook met minstens 7% gaan krimp. Ja, dit is so dat baie lidmate in hierdie tyd ’n oop hand het en meer vir die kerk gee as wat ’n mens sou verwag. Die vraag is hoe lank hulle daarmee sal kan volhou. Die werklikheid is dat daar reeds drie miljoen werkgeleenthede in ons land verlore gegaan het. Met afgryse het ek gelees dat toe ’n groep mense kos in ’n dorpie gaan uitdeel het, hulle gevind het dat ma’s hul kinders voed met blare wat hulle in die veld pluk en kook.

En ek en jy leef ook in hierdie werklikheid. Elkeen van ons ken iemand wat hul besigheid of werk verloor het, wat met ’n verminderde salaris oor die weg moet kom.

Toe ek so 15 jaar gelede deel van die redaksie van Die Hervormer geword het, het iemand in ’n redaksievergadering gesê dat daar tydens die volle duur van die Tweede Wêreldoorlog nie een verwysing na die oorlog in Die Hervormer was nie, so amper asof daar nie ’n oorlog was nie. Ons kan nie die werklikheid van wat nou gebeur verswyg soos destyds nie. Wanneer ons egter die werklikheid van ons wêreld erken, moet ons dit nie met ’n gees van fatalisme doen en dink alles is nou verlore nie.

Ek lees die ander dag in ’n kommentaar oor Jesaja 43 dat een manier om die vuur wat jou nie sal skroei nie te verstaan, is om te kyk na wat in die antieke tyd met vullis gedoen is. Vullis is buite die stadsmure verbrand. Die volk in ballingskap het verwag dat God hulle soos ’n vullishoop sou verbrand, hulle sou vernietig as gevolg van hul sonde. Maar wat doen God? In Jesaja 43, net na Hy in Jesaja 42 sy oordeel oor hulle aankondig, verseker Hy hulle dat die vuur hulle nie sal skroei nie. Nee, skryf die skrywer van die kommentaar, hulle sal eerder soos goud wat deur vuur gesuiwer word, gesuiwer word.

Dit is vir my ’n mooi beeld wat my ook deur hierdie tyd dra. Ons sal nie vergaan nie. Ja, dinge sal dalk nog erger word, maar ons, die kerk van Christus, sal nie vergaan nie. Druk op lidmate en gemeentes gaan dalk nog feller word. Ja, ons gaan anders oor kerkwees moet dink, maar die kerk is al deur donkerder tye. Ons gaan met minder moet klaarkom. Ons gaan met nuwe uitdagings gekonfronteer word, maar in hierdie tyd het ons juis die geleentheid om waarlik kerk te wees. Ons beleef ’n tyd waarin ons nie net meer net in stand kan hou nie, maar waarin ons werklik ’n verskil as kerk van Christus moet maak daar waar God ons geplaas het. Ons beleef ’n tyd waarin ons as kerk innoverend moet dink en elke geleentheid moet benut om die evangelie te verkondig.

Wat is nodig om kerk te wees? Ek dink: ’n klompie gelowiges wat God wil dien en ’n verskil in die wêreld wil maak. Gelowiges wat God vertrou, ook deur die werklikheid van Covid-19.

Deur ons te bekommer, gaan ons niks verander nie. Deur saam met almal om jou te kla, gaan jy net jouself en jou lewe vergal. Nee, kom ons gaan soek ons troos in die woorde van Matteus 6: 31-34: Julle moet julle dus nie bekommer en vra: “Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?” nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.

Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Vertrou op God. Maak ’n verskil.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap