Prof Wim Dreyer, voorsitter van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en hoogleraar in Kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria, het Sondag 22 Oktober 2023 die erediens in Gemeente Pretoria-Oos gelei waartydens hy ook emeritaat aanvaar het.

Wim het ’n unieke verbintenis met Gemeente Pretoria-Oos: Hy is daar gedoop, het daar belydenis van geloof afgelê, was voorsitter van die jeugvereniging, ’n diaken en het ook in 1982 sy proefpreek in die gemeente gedoen. Wim en sy gesin is ook die afgelope 13 jaar lidmate van die gemeente. Sy pa, prof PS Dreyer, was vir 37 jaar in verskeie hoedanighede verbonde aan die gemeente.

Wim is op 24 April 1983 georden en was predikant in gemeentes Magaliesmoot, Vliegepoort, Balfour en Horison. Van 2005 tot 2010 was hy sekretaris vir apostolaat en sedert 2010 was hy as dosent verbonde aan UP se Fakulteit Teologie. Hy het gedien in verskeie rade van die Kerk en was vir etlike termyne lid van die Kommissie van die AKV. Hy is tans vir die tweede keer voorsitter van die Kommissie.

Wim het verskeie gedeeltes uit Markus gelees met besondere klem op Markus 1: 15: Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Hy het sy preek ingelei deur te vertel van ’n besondere gesprek wat die Duitse teoloog Karl Barth in 1968 op sy sterfbed gehad het met sy kollega en vriend, Eduard Thurneysen. Barth het onder andere gesê: Ja, die wêreld is donker. Dit is nie nou die tyd om ons ore te laat hang en hoop te verloor nie, want dit is nie Moskou of Washington of Peking wat in beheer is nie. Die wêreld word regeer, maar nie hier op aarde nie, maar totaal en al vanuit die hemel…

In ’n uitmuntende preek wat besonderse betekenis het juis in die tydsgewrig waarin ons ons bevind, het Wim gewys wat dit beteken om te kan sê God regeer.

Wim en Gerda gaan verhuis na Sedgefield en Wim is reeds beroep na Gemeente Outeniqua. Hy sal egter voortgaan om te dien as voorsitter van die Kommissie.

(Ds Etienne Fourie is ’n emerituspredikant van die NHKA)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap