Kerklike onderrig beteken dat lidmate toegerus en begelei word om as dissipels van Jesus Christus die evangelie met woord en daad na alle mense te bring.

Die geestelike vorming van lidmate en kerklike onderrig in die algemeen is ’n saak wat deurlopend op verskillende vlakke binne werkruimtes van die NHKA aandag geniet. Die toerusting van lidmate en ampsdraers en die voortgesette toerusting van predikante veral, word vanuit die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) en die Sentrum vir Gemeentelike Bediening (SGB) gekoördineer. Lidmate word toegerus en begelei om as dissipels van Jesus Christus die evangelie met woord en daad na alle mense te bring.

Die Kerk en elke gemeente bevind hulle in ’n dinamiese en mededingende wêreld wat bepaalde eise aan die geestelike leier stel. Van ’n ieder en ’n elk word verwag om in oorgangsfases die nodige aanpassings te doen. Die bestuur van verandering oor die algemeen en die uitdagings wat daarmee saamkom, het ’n destruktiewe effek op die persoonlike en geestelike lewe van leiers. ’n Onlangse studie in die VSA dui daarop dat ’n belegging in die toerusting en opleiding van werknemers groot vrug oplewer: Vir elke $1 wat in die ontwikkeling van die werknemer belê word, verdien die werkgewer ’n $3-dividend. Kerkrade baat dus in alle opsigte by die voortgesette toerusting en opleiding van lidmate, ampsdraers en predikante. 

’n Ongebalanseerde lewenstyl is tekenend van die tyd waarin ons ons bevind. Dit word al hoe moeiliker om ’n werk-lewe-balans te vind. Die toenemende elektronies verbinde wêreld hou die geestelike leier 24/7 in kontak met sy werkplek. 

’n Boek van Peter Scazzero, The emotionally healthy leader, het gedurende 2018 (Deel 1) en 2019 (Deel 2) by die VTK- en VTT-geleenthede in tien verskillende streke gedien. (VTK: Voortgesette Toerusting Kerkraad; VTT: Voortgesette Teologiese Toerusting). Die kontakgeleenthede bied nie alleen geleentheid vir persoonlike groei en ontwikkeling nie, maar bied in die besonder geleentheid vir geestelike groei, die opbou van kerklike verhoudings en saam kuier.

Die VTK-aanbiedinge is spesifiek gerig op die dienswerk van ouderlinge en diakens in die wingerd van die Here, terwyl die VTT-aanbiedinge teologiese gesprek tussen predikante aan die hand van verskillende aktuele temas stimuleer.

Die emosioneel gesonde leier is geskryf vanuit ’n posisie van emosionele en geestelike verval. Die emosionele uitputting en geestelike agteruitgang van gemeentelike leiers is duidelik merkbaar:

  • ’n Ongebalanseerde werk-lewe-balans met al die gevolge daarvan werk negatief in op die leier se huwelik, gesin en persoon.
  • Geestelike leiers dreig dikwels om te bedank om van die emosionele lading ontslae te raak.
  • Hoë vlakke van uitbranding.
  • Geestelike moegheid.
  • Onvermoë van die geestelike leiers om geestelik te ontwikkel en te groei.

Die moderne lewenspas met al die uitdagings wat dit stel, maak dit feitlik onmoontlik om ’n geestelik volhoubare en emosioneel gesonde pas en lewensritme te handhaaf. Die waarmerk van egte spiritualiteit en ’n lewende verhouding met God is die liefde. Laasgenoemde vra na rus en stil wees; minder aktiwiteit en besig wees; en liefdevolle gemeenskap met Christus. Leiers het nodig om diep na binne te kyk en die verskillende fasette van sy/haar lewe in oorsig te neem, op te ruim en aan die kant te maak. 

Elke faset van die emosioneel gesonde leier se uitwendige take gebeur vanuit ’n verhouding met Jesus Christus. Gesonde en lewenskragtige leierskap vereis ’n bepaalde fokus op veral die volgende vier kritieke take in die lewe van die gemeente:

Beplanning en besluitneming

Emosioneel gesonde beplanning en besluitneming berus op die radikale doen van God se wil.  Hoe dikwels word planne en aksies sonder God geneem? Hoe word beplanning gedoen en besluite geneem in ’n gemeente waar Jesus Christus die enigste Hoof en Here is? Hoe onderskei ons die wil van God in kerklike vergaderings wat dikwels deur sterk argumentvoering en persoonlike debatte gekenmerk word?

Dit is van kritieke belang dat die Woord en Gees van God aan die woord kom en gelowiges gehoorsaam daarop reageer. Hoe anker die gelowige hom- en haarself in gebed in ’n liefdevolle verhouding met Jesus Christus in ’n milieu waar ’n kerkraad oor belangrike sake besin?

Mense se persoonlike verhouding met God, die vlak van emosionele volwassenheid en die integriteit van die verhoudings van die geloofsgemeenskap is areas wat in ’n emosioneel gesonde geloofsgemeenskap prioriteit is.

Emosioneel gesonde beplanning en besluitneming berus gevolglik op vier pilare:

  • Sukses is boweal om die wil van God te doen en dit volgens sy wil en op sy tyd te doen (radikale doen van God se wil).
  • Skep ruimte vir hartvoorbereiding.
  • Bid vir versigtigheid en wysheid.
  • Soek God in ons menslike perke.

Kultuur en spanbou

‘n Primêre taak van ’n leier is om ’n emosioneel gesonde kultuur in die geloofsgemeenskap te skep en gesonde spanne/groepe te vestig. Die identiteit van die geloofsgemeenskap is van wesenlike belang. Dit bepaal wie ons is, wat ons sê, dink en doen.

Die identiteit van ’n gemeente wat deel in die liggaam van Christus kan tog nie anders as ’n in-Christus-identiteit wees nie. Die kultuur en waardes van die geloofsgemeenskap lê diep geanker in hierdie identiteit. Leiers het dus nodig om met ’n bepaalde intensie die chaos (die somtotaal van die diversiteit en verskeidenheid in die geloofsgemeenskap) te omskep en ’n nuwe kultuur daar te stel waar al die gelowiges as familie van Jesus Christus optree.

Mag en grense

Een van die belangrikste selfondersoeke wat emosioneel gesonde leiers kan doen, is om die verskillende bronne van mag en die wyse waarop ander gelowiges in die Kerk/gemeente beïnvloed word, te verstaan. Elke leier behoort bewus te wees van die ses primêre bronne van mag:

  • Posisionele mag. Die mag en/of invloed wat gepaard gaan met die posisie, titel of amp wat ’n persoon het.
  • Persoonlike mag. Dit is geleë in die unieke persoon wat God elkeen gemaak het. Persoonlike mag gebeur vanuit die gawes wat gelowiges ontvang het, iemand se persoonlikheid, kennis, opvoeding en bekwaamhede.
  • God-faktor-mag. Dit verwys na mag wat aan ons toegeken word as gevolg van die posisie wat ons as predikante beklee, as mense wat God se Woord verkondig en in diens van God staan.
  • Geprojekteerde mag. Dit is die mag wat ander mense onbewustelik op ander projekteer. Dit gebeur wanneer ander hul eie onvervulde behoeftes en onopgeloste probleme na ander oordra in die hoop dat daardie behoeftes vervul word en sal help om daardie probleme op te los.
  • Relasionele mag. Ons mag en invloed neem toe wanneer mense hul vrese en diepste geheime met die predikant deel. Predikante en ander ampsdraers staan mense in hul kwesbaarste oomblikke by: dood, verskillende vorme van verlies, oorgangsfases, tragedies en krisisse van geloof.
  • Kulturele mag. Binne elke kultuur word verskillende vlakke van mag op grond van ouderdom, gender en bevolkingsgroep toegeken.

Eindes en nuwe beginne

Die samelewing, Kerk en ons families hanteer mislukkings nie baie goed nie. Volgens Scazerro moet emosioneel gesonde leiers die kuns aanleer om eindes te omhels ten einde nuwe beginne te ontvang omdat dit een van die fundamentele take van ’n geestelike lewe is. Nie alle probleme kan oorkom word nie; sommige dinge moet eenvoudig toegelaat word om tot ’n einde te kom.

Ons beleef eindes op persoonlike vlak op verskillende maniere: ’n geliefde wat doodgaan, ’n kankerdiagnose, egskeiding, aflegging by die werk, ekonomiese agteruitgang, verhoudinge wat tot niet gaan, ’n droom wat aan skerwe lê, of die gewone verouderingsproses wat elkeen beleef. Prediker 3: 1 sê juis dat elke ding in hierdie wêreld ’n vaste tyd het.

Mislukkings en eindes is pynlik en daarom wil ons dit liefs vermy. As leiers oordeel ons verkeerdelik dat dit ons verantwoordelikheid is om alles in die Kerk/gemeente aan die gang te hou, selfs al werk dit nie meer nie – én natuurlik wil ons ons mense teen die verlies van mislukking en pyn beskerm. Ons moet leer om eindes te verwelkom sodat ons ’n nuwe toekoms tegemoet kan gaan. Eindes behoort as ’n normale deel van die lewe beskou te word en nie noodwendig as ’n mislukking nie. ’n Einde is ’n geleentheid tot geestelike groei, en dikwels hou ek my doof vir wat God vir my in en deur my pyn en worsteling wil sê. Ons vergeet dan in die proses die groot waarheid van die evangelieboodskap, naamlik dat Jesus se lyding en dood ’n sentrale tema in die evangelie is.

Kyk na die verskillende aanbiedinge op die Hervormde Teologiese Kollege se YouTube-blad.

Die Hervormde Kerk kies om in alle opsigte ’n lerende organisasie te wees. Mag die saamleer en saamwees vir elkeen wat hierin deel ’n seën wees. 

(Dr Frikkie Labuschagne is direkteur van die Sentrum vir Gemeentelike Bediening)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap