Met die opening van die 72ste Algemene Kerkvergadering in 2019 was dr André Ungerer se tema Die Kerk onderweg na 2025. Die eerste, rigtinggewende besluit van daardie AKV het toe ook soos volg gelui:

SINERGIE ONDERWEG NA 2025. Alle gemeentes, ringskommissies en sinodale strukture streef deurlopend sinergie na. Die Kerk voer gesprek om die bediening aan lidmate en die gemeenskap te bevorder deur kerklike belange en dienste op alle vlakke te konsolideer en te optimaliseer. Die Kommissie van die AKV en die Raad van Finansies kry opdrag om alle sinodale poste, rade en komitees se werkopdragte te herbelyn om sodoende sinodale dienste verder te konsolideer en te optimaliseer.

’n Jaar later kan daar dus met reg gevra word watter vordering tot dusver gemaak is.

Op sinodale vlak het die Kommissie van die AKV ’n kommissie onder leiding van ds Willem Kok (skriba, Kommissie van die AKV) opdrag gegee om ondersoek te doen na alle sinodale poste, rade en komitees. Die ondersoekkommissie het pas by die Kommissie van die AKV se vergadering op 15 en 16 Oktober 2020 oor ’n wye spektrum van sake verslag gedoen.

Na bespreking het die Kommissie van die AKV ’n aantal uitgangspunte aanvaar. Eerstens aanvaar die Kommissie dat die Kerk uitdrukking behoort te wees van die Koninkryk van God, en dat ons in die Hervormde Kerk daarom moet probeer onderskei wat God besig is om in ons midde te doen. As ’n missionale kerk moet ons gemeentes geloofwaardig werksaam wees in die gemeenskap.

Daarmee saam aanvaar die Kommissie dat die Kerk die minimum strukture moet hê en maksimaal op die evangelie gerig moet leef. Alle kerklike strukture moet slegs dien om gemeentes en lidmate in hul dienswerk te ondersteun. Gemeentes is die vertrekpunt en kerklike strukture moet toenemend vereenvoudig word.

Die afname in lidmaatgetalle maak dit dringend om ons kerklike strukture te verminder en te vereenvoudig, want dit het ongelukkig ’n groot invloed op ons finansieringsmodel. Dit beteken onder meer dat slegs die noodsaaklikste dienste uit ’n sinodale kantoor gelewer behoort te word terwyl daar deurlopend gestreef word na groter effektiwiteit.

Maar dan moet ringe en gemeentes noodwendig groter verantwoordelikheid aanvaar. ’n Herindeling van ringe moet so gou moontlik geïmplementeer word, tesame met deeglike opleiding en begeleiding van ringskommissies en funksionarisse op rings- en gemeentevlak. Net so moet gemeentes op plaaslike vlak self al meer verantwoordelikheid aanvaar vir hul eie administratiewe en finansiële sake. Slegs op dié wyse kan die Kerk op plaaslike vlak konsolideer en optimaal funksioneer.

In ’n wêreld wat al meer en meer deur wetgewing gereguleer word, en waarin die Kerk ook moet voldoen aan wetlike vereistes, moet die Kerk deursigtig wees in besluitneming, beheer van finansies, nakoming van belastingverpligtinge en bestuursaangeleenthede. Ons moet hoër standaarde handhaaf as ’n skool of besigheid of vrywillige vereniging! En dit vra van elke predikant, kerkraadslid, skriba en funksionaris in die Kerk besondere toewyding.

Die implikasies van die voorafgaande beginselbesluite moet natuurlik eers met al die betrokkenes bespreek word, en die besonderhede moet deeglik deurtrap word voordat enige besluite geïmplementeer kan word. Die Kommissie beplan daarom om gedurende Februarie 2021 ’n inligtingsvergadering vir ringskommissies te hou waar gesprek gevoer kan word oor die implikasies en implementering van alle besluite wat uit die voorgaande beginsels voortvloei.

Ondertussen is dit egter net so dringend dat gemeentes en ringe ook ’n daadwerklike bydrae tot sinergie en samewerking moet lewer. Gemeentes kan vaste oorhoofse uitgawes op die instandhouding van kerkgeboue, munisipale heffings, water en elektrisiteit, sekuriteit, tuindienste and administrasie drasties inkort deur samewerking en samesmelting waar dit enigsins moontlik is.

Waar twee of drie klein gemeentes saamwerk of saamsmelt, word dit byvoorbeeld weer moontlik om ’n eie, voltydse predikant te beroep. Dit verseker beter bediening vir die lidmate en ’n leefbare traktement vir die predikant. Dit hou ook in dat die gekonsolideerde gemeente slegs een orrelis en koster nodig het in plaas van twee of drie. En outomaties is daar groter kategeseklasse met ’n beter gees onder die jong lidmate, en meer bekwame kategete wat die kinders kan onderrig en inspireer.

In die proses word sukkelende gemeentes omskep in dinamiese geloofsgemeenskappe wat hoop gee. En so bied die Kerk ’n nuwe visie vir ’n desperate wêreld. Laat ons bid en werk!

(Dr Wouter van Wyk is sekretaris van die Kommissie van die AKV)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap