Geagte Redaksie

Waarom mag kinders nie Nagmaal gebruik nie? Ek het vroeër vir prof Piet Geyser dieselfde vraag gevra en hy het met my saamgestem dat dit tog toegelaat kan word. Ook ’n vraag waarom net mense wat nie onder tug in ander gemeentes staan nie, ook Nagmaal mag gebruik. Persone wat onder tug staan of ander besware het, sal tog ’n oordeel oor hulself bring indien hulle op verkeerde of onregmatige wyse aan die Nagmaal deelneem.

Aafje Heynis, die besondere Nederlandse egte kontralto, het vertel dat sy eenmaal by ’n Roomse Kerk verbygestap het en toe sommer besluit het om die kerk binne te gaan waar Nagmaal bedien is. Sy meld dat toe die hostie en die wyn in haar mond gesit is, sy ’n warme gevoel ondervind het, en dat sy toe Rooms geword het. (Sy was vroeër lid van die Hervormde Kerk.) Kan ’n persoon wat nie aan ’n kerk behoort nie, dalk tog tot inkeer kom indien hy of sy Nagmaal gebruik?

Prof PL (Wiek) Steyn, rustende ouderling

Share via
Copy link
Powered by Social Snap