Vrees het die afgelope 15 maande eintlik ’n nuwe betekenis bygekry, vermom in die masker van die Covid-19-pandemie. Dit is verstommend hoe die pandemie die hele wêreld in ’n gees van vrees vasgevang het. Dit maak nie saak oor watter aspek van die lewe mense met mekaar gesels nie, op die een of ander wyse val die skaduwee van die pandemie oor die onderwerp.

Miskien is skaduwee te sag gestel: Dis ’n donkerte, in die woorde van CJ Langenhoven wat hy in ’n ander verband gebruik het, maar wat ons kan toepas op die pandemie, en wat ons sal help om te verstaan: Die duisternis het geen skaduwee nie. Daar doem eintlik ’n baie somber prentjie voor ’n mens op as jy aan al die beeldmateriaal dink van oorvol hospitale, medici en pasiënte wat soos marsmannetjies lyk in die beskermende klere en al die buise en gesigmaskers, net om te oorleef.

Nader aan ’n mens se eie lyf ervaar ons in eie familie-, vriende- en gemeentekring die onverwagse siekte en dood van mense as gevolg van die virus, wat ons verslae laat. Hoe kan dit? Dit is ’n geval van nou nog gesond en sterk, en ’n paar dae later is dit op ’n ventilator of dood.

Die vrees vir besmetting lei in baie gevalle tot vreemde gedrag, selfs obsessiewe gedrag. Die pandemie skep afstand tussen mense en skep ruimtes waaraan ons nie gewoond is nie. Dit bring onsekerheid wat ons aan die toekoms laat twyfel. Die filosoof cum teoloog Anton van Niekerk het dit op ’n satiriese noot eintlik mooi saamgevat toe hy geskryf het as die virus dit wil in die lig van wat ons in Jakobus 4: 15 lees: As die Here wil, of soos in Latyn gesê: Deo Volente. Jy kan ’n vakansie beplan of ’n familiekuier, maar jy weet nie of dit gaan realiseer nie, want die virus het dalk die laaste sê. Nie noodwendig omdat iemand besmet raak of sterf nie, maar ook as gevolg van nuwe inperkingsmaatreëls. Kan ons mekaar dan verkwalik as vrees deel van ons daaglikse bestaan word?

Vrees vir inenting

Hierdie vrees het veral ook in die onlangse verlede ’n nuwe variant bygekry, naamlik die vrees vir inenting. Daar is soveel samesweringsteorieë in omloop oor die gevaar van die verskillende entstowwe wat baie mense verward laat en daartoe lei dat verkeerde besluite geneem word. Dit is verstommend hoeveel kwasi- mediese kenners daar skielik na vore kom as sogenaamde kundiges oor die entstowwe en hul sogenaamde newe-effekte.

Wat die gewone gelowige dalk die meeste verwar, is die hoeveelheid geestelike leiers, predikante en pastore wat op subjektiewe wyse met gesag sê dat dit elkeen se eie keuse is of hulle hulle laat inent of nie, maar dan uitgebreide redes gee hoekom hulle hulself nie laat inent nie. Baie mense is naïef en het nie die vermoë om te kontroleer of sulke mense regtig is wat hulle sê hulle is nie. Dit word soms ingeklee met vergesogte stories oor wat al gebeur het met mense wat hulle laat inent het. Dit alles saai vertwyfeling in mense se gemoed.

Ongeloof?

Daarby kom die gewone skuldgevoelens van hoe kan ’n mens so vrees as jy ’n gelowige is? Waar is jou geloof dan? So asof ’n gelowige nie ook vrees kan hê nie. Dit is in sulke tye dat ’n mens bewus bly van jou geloofsankers en hoe dit werk.

Daar is verskeie voorbeelde van vrees in die Bybel, maar dit moet almal gelees word in ’n kontekstuele verband. Ons lees van vrees vir God op baie plekke, maar dit beteken nie jy moet bang wees vir God of angs beleef oor God nie. Dit gaan oor ontsag, eerbied en respek vir God, sodat in die nuwere Afrikaanse vertalings die woord vir vrees meestal uit die oorspronklike tale vertaal word met die woord ontsag.

Natuurlik is daar ook die vrees vir God soos wanneer jy skaam is oor wat jy gedoen het, soos wat Adam bely wanneer hy bang is vir God. Dit is oomblikke soos dié wat lei tot besinning en verdieping van geloof.

Mense vrees ook mekaar oor hulle mekaar bedreig en leed aandoen. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die Dawid-Saul-verhouding. Die wyse waarop Dawid die situasie hanteer, kan vir ons ook ’n inspirasie wees wanneer vrees dreig om ons te oorweldig. Hy tref rasioneel voorsorg deur in ’n grot te gaan wegkruip, maar tegelykertyd vertrou hy ook op God om hom te beskerm en te versorg.

Nugtere benadering

Die wêreld verander voortdurend, rampe kom en gaan, so ook mense se reaksie daarop. Navorsing en die ontwikkeling van entstowwe het die wêreld in terme van gesondheid al baie ellende gespaar. Mense in ons tyd laat hul pasgebore babas inent teen siektes soos polio, pokke en masels en nog vele ander moontlike siektes, sonder om daarvan ’n geloofswroeging te maak. Die entstowwe teen die Covid-19-virus is die produk van wêreldwye navorsing om die entstowwe so vinnig moontlik beskikbaar te kon stel. Ons kan maar aanvaar dat dit sy gebreke sal hê, maar vir nou is dit ten minste iets wat in ’n groot mate beskerming bied. Hopelik sal daar vorentoe verdere ontwikkeling en beter entstowwe op die mark kom.

Vrees is deel van ons lewe, ’n teken van die gebrokenheid van ons wêreld. Dit word eers ’n probleem wanneer ’n mens se vrees obsessief raak. Dit is wanneer vrees jou hele lewe rig en dryf. As gelowiges glo ons God hou ook in tye van vrees sy Hand oor ons. Hy hou ons vas, bemoedig en versterk ons. Dit is Hy wat ons lewe lei en rig, nie vrees nie.

(Ds Dries Beukes, emeritus, is leraar in Gemeente Swartkop)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap